Iveco Suid-Afrika: Die koning van Afrika is terug!
In die ou dae toe Fiat Industrial Vehicles (FIV) hulle Fiat 682 in Afrika bekendgestel het, het niemand kon dink dat die trok so ’n drastiese invloed op die vasteland sou uitoefen nie, want vandag ry daar steeds van die trokke rond met meer as 10-miljoen km op die klok! Dit is dus te verstane dat almal in die vervoerbedryf rondom die ewenaar aan die trok die bynaam, “koning van Afrika”, toegeken het. In 1974 het FIV ontbind in ’n paar maatskappye waarvan Iveco een is en Iveco het besluit die tyd het aangebreek om weer ’n 682 in Afrika los te laat…
Die Iveco 682 se ontwerp is gegrond op die beste wat Europese standaarde kan bied. Die trokbouers is vasbeslote om die nuwe 682 in te wortel sodat dit, soos die vorige model, deurlopend oor die kontinent kan groei om weer betroubaarheid, robuustheid en besondere vragvermoë vir almal beskikbaar te stel.
Iveco Suid-Afrika se 231-kW voorhaker skrik vir geen leunwa nie en kan van mielies tot voer na en van die boer se plaas vervoer.
Die nuwe Iveco 682 is juis ’n paar weke gelede op Nampo bekend gestel, want wie anders gaan nou meer erns maak met gehalte vervoer as boere self?
“Die drie eienskappe wat Iveco bygevoeg het, is bykomende gemak, min gewig en ’n groter vragvermoë, wat des te beter sal inpas in die rowwe Afrika-omstandighede,” sê Kevin Pretorius, wat aan die hoof van Regeringsverkope staan.
Die nuwe reeks bestaan uit ’n kajuit met ’n verskeie bakopsies, ’n wipbak of betontenk. Vir die boere wat ernstig is oor vervoer, bied Iveco Suid-Afrika ook ’n perd (voorhaker) wat met gemak ’n 35-ton sleepwa kan trek. Die wipbak en beeswa lewer 216 kW teen 2 100 opm en die voorhaker lewer ’n allemintige 231 kW teen 2 100 opm.
Thelma van Rensburg, disktrikverkoopsbestuurder, Iveco Suid-Afrika, en Kevin Pretorius, hoofkantoor, Regeringsverkope, busse en uitvoere, is baie trots op die nuwe 682-reeks wat by Nampo bekendgestel is. By hulle staan die lokdoedies, Merelda du Plessis, Kylie Costopoulos en Maja Debeljkobic.
“Vir my is die gemaksvoordeel vir die drywer en die gemaklike slaapkajuit vir lang afstande ’n groot pluspunt,” sê Kevin. Die kajuit is besonder gerieflik omdat die lae enjinkap ’n groot binneruimte van 2 200 mm hoog skep en die groot voorruit bied optimale sigbaarheid. Die stuurwiel is ten volle verstelbaar en die kontroles en knoppies kan maklik herken word en dadelik bygekom word om te alle tye veilige beheer van die voertuig te verseker.
Die uitstaande kenmerke van die 682 is die rooster se “V”-vorm met geïntegreerde hoofligte en gevorderde kantkaatsers om reën en modder van die spieëls en deurhandvatsels weg te hou. Natuurlik beteken dit dat ook die aërodinamiese trok soos blits deur die lug kan klief.
Die Cursor 9- en Cursor 13-enjins wat die 682-reeks aandryf het nuwe grense vir betroubaarheid en prestasie gevestig. Hierdie enjins word met die mees gevorderde drukbuisbrand-stofinspuitstelsels toegerus. Die maksimum wringkrag kan selfs teen so laag as 1 000 opm beskikbaar gestel word en lewer optimale elastisiteit en top aandryfvermoë in alle omstandighede.
Veelsydigheid bly een van Iveco Suid-Afrika se hoogste prioriteite, maar sy besondere vastrap, hoë spoed, uitsonderlike vragvermoë en lae brandstofverbruik is ewe belangrik.
Die Iveco 682-beestrok is elke boer se droom.
Die 682 bied 4×2- en 6×4-weergawes met ’n keuse uit twee tipes agteraste, naamlik naaf- of enkelreduksie. Daar is ’n wye keuse van asverhoudings om die wye verskeidenheid markbehoeftes te bevredig.
Die gebruiker kan ook kies tussen ’n 9- of 12-spoed meganiese ratkas, afhangende van die model wat benodig word.
Iveco glo beslis in naverkopediens en ’n groot klomp vaardige, goed opgeleide tegnici is regoor Suider-Afrika beskikbaar om te sorg dat jou 682 altyd soos ’n ware kampioen draf.
Vir meer inligting oor hierdie veeldoelige uithaler-reeks van Iveco Suid-Afrika, kontak gerus vir Nadine Motel by Nadine@iveco.co.za of 076-020-9571076-020-9571 of Christophe Longuet, bemarkingsbestuurder by christophe.longuet@iveco.com of 083-809-4856
083-809-4856.