Is “skiet-die-boere” haatspraak?
TLU SA het ‘n oproep op boere gedoen om ‘n vraelys oor die gewraakte “Malema-liedjie” op sy webwerf in te vul. In die sogenaamde strydliedjie word daar onder meer gesing: Skiet die boere! Die doel van die vraelys is om getuienis bymekaar te maak vir die hofsaak teen die ANC-jeugleier, Julius Malema.
Die saak is deur die burgerregte-organisasie Afriforum aanhangig gemaak en TLU SA het namens die boeregemeenskap as party toegetree. Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans is ook gevoeg as vriend van die hof. Aan die Malema-kant is die ANC as party tot die saak gevoeg.
TLU SA se regspan wil graag getuienis voorlê dat die liedjie wel ‘n invloed op die boeregemeenskap het en dat daar ‘n opvatting bestaan dat haatspraak deur die liedjie verkondig word, dat rassespanning aangeblaas word en dat dit kan lei tot meer plaasaanvalle.
Die saak dien op 11 April voor die hof en TLU SA vra dat mense die kort vraelys op hulle webwerf, www.tlu.co.za voor 8 April sal invul. Die organisasie wil ten minste ‘n duisend vraelyste kan voorlê.