Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 1st July 2024

Indringervis voed duisende

By 7 min read
Indringervis 600x337

Johnny 7 Dr Imtiaz Sooliman of Gift of the Givers alongside Neville Brink the CEO of the Oceana group (2)

Dr Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers, saam met Neville Brink van Oceana, wat die boot geskenk het. Gift of the Givers doen die verspreiding van die vis. (Bron: CapeNature)

Hoe maak mens as daar derduisende indringervisse in ‘n unieke varswatersisteem is waarvan jy ontslae moet raak? Jy voed duisende honger mense. Dit is presies wat by Groenvlei in die Wildernis-meresisteem in die Suid-Kaap gebeur.

Karp, ‘n uitheemse spesie wat onwettig in Groenvlei vrygelaat is en groot skade aan die natuurlike ekologie en inheemse plante, visse en voëls aanrig,  word gevang en aan honger mense uitgedeel. Tot op hede is 320 000 mense in die Suid-Kaap en Klein-Karoo gevoed.

Die unieke projek is die breinkind van Johnny Snyman van Inasive Fish Species Management (IFSM).

Groenvlei

Groenvlei is een van die mere van die Wildernisgebied. Groenvlei is ‘n geslote varswatermeer wat deur reënwater gevoed word en nie deur ‘n rivier wat in die see uitmond nie. Dit vorm deel van CapeNature se Goukamma Natuurreservaat by Buffelsbaai. Die ander mere tussen Wildernis en Sedgefield, naamlik Eilandvlei, Serpentyn, Langvlei, Rondevlei word gevoed deur riviere wat by Wildernis en  Swartvlei in die see uitmond en vars- en soutwater bevat. Hierdie mere vorm deel van die Tuinroete Nasionale Park wat onder bestuur van SANparke is.

Die probleem

“Karp is in die 1990’s sonder toestemming of permitte van CapeNature in Groenvlei geplaas,” sê Petro van Rijn, kommunikasiebestuurder van CapeNature. “Karp is ‘n uitheemse indringervis en veroorsaak aansienlike skade aan ekosisteme waar hulle teenwoordig is. Hulle is omnivore en woel die waterplante se wortels om terwyl hulle kos soek, wat die water troebel maak.

Die troebel water benadeel die twee klein inheemse visspesies, die rivier-rondeharing (Gilchristella aestuaria)  en die Kaapse spierinkie (Atherina breviceps) omdat hulle nie kan wei nie en boonop vreet die karp hulle eiers.

Ander uitheemse spesies soos swartbaars en blou kurpers het nie so ‘n nadelige uitwerking op die ekologie of inheemse spesies nie.

Die oplossing

Johnny Snyman, ‘n afgetrede beroepsduiker met ‘n groot liefde vir boogskiet, het in die laat 90’s vanaf die Weskus na Sedgefield verhuis, hoofsaaklik omdat die omgewing ryk is aan inheemse en ander hout wat geskik is vir die maak van boë.

Johnny was bewus van die karp in Groenvlei, maar het eers in 2018 onder die  vaandel van sy nie-winsgewende organisasie Invasive Fish Species Management (IFSM)  betrokke geraak by die beheer van die getalle wat dramaties toegeneem het en besig was om die ekologie te benadeel.

Naas die troebel water het die inheemse plantegroei begin vrek, alge het toegeneem en die inheemse spesies is nie meer waargeneem nie. Voëlspesies het ook begin padgee na ander vleie.

Die Nelson Mandela Universiteit (NMU) het in September 2019 beraam daar is tussen 60 000 en 65 000 karp in Groenvlei.

“Dit was duidelik dat ‘n langtermyn bestuurs- en onderhoudsplan vir Groenvlei nodig is. Navorsing elders in die wêreld het getoon ten minste 50% van die karp jaarliks verwyder moet word om die ekologie kans te gee om uit te balanseer en te stabiliseer,” verduidelik hy.

Boogjag

Hy het CapeNature vir amptelike toestemming om die karp met ‘n boog te jag genader. In sy voorlegging het hy die voor- en nadele en die veiligheidsaspekte uiteengesit en uiteindelik toestemming gekry om vir ‘n proeftydperk van ‘n jaar voort te gaan.

“Baie mense, wetenskaplikes inkluis, het gedink ek is van my sinne beroof, want hoe kan die karpbevolking met pyl en boog beheer word? Tog is dit ‘n baie suksesvolle en selektiewe metode,” verduidelik hy.

“Dit het baie navorsing, veldwerk en waarnemings geneem voordat ons kon begin. Ek en ‘n paar mense wat nie omgegee het om nat te word en koud te kry nie, het baie tyd in die dag en nag op ‘n kajak op die meer deurgebring en die omgewing ondersoek – daar is baie kanaaltjies waarin ‘n mens kan verdwaal,  jy moet weet waarheen jy kan gaan en jou pad terugvind.” Hy het ook die karp se gedrag en gewoontes bestudeer.

“Aanvanklik het dit baie stadig gegaan want ek het net ‘n klein bootjie gehad en nog een geleen. Ek het ligte en batterye installeer en teen Julie 2018 het ons ‘n totaal van 517 kg vis geskiet!”

Vroeg in Oktober het hy en drie ander op die boot ‘n skouspel van letterlik duisende karp aanskou. “Dit was net voor die broeiseisoen; die mannetjies was aggressief en ons kon nie met die elektriese enjins oral kom nie, daar was te veel visse. Teen die oggend het ons sowat drie ton ingebring en bewys die metode het meriete.”

In Februarie 2020 het hy by CapeNature toestemming gekry om kiefnette te gebruik om die visse in te hok en van hulle met ‘n net te vang of met ‘n boog te jag. Die metode word met groot sukses gebruik, want dit help dat kleiner visse, soos die inheemse spesies uit die net kan ontglip.

Kos

Toe kom Covid-19 met inperkingsmaatreëls wat gemeenskappe sonder werk of kos tot hulle eie werf beperk het.

“Laat April 2020 het dit onder my aandag gekom dat misdaad besig is om toe te neem – mense was werkloos en honger. Die gemeenskappe het begin saamstaan om sopkombuise op die been te bring. Ek het CapeNature genader met die idee om die karp te gebruik om by te dra tot voeding.”

CapeNature het gehou van die idee, maar hy het nie die logistiek in plek gehad om ‘n grootskaalse operasie te doen nie. Hy het by die plaaslike munisipaliteit, slagpale en slaghuise in die omgewing navraag gedoen, maar niemand het aan regulasies om vis te hanteer voldoen nie.

“Ek het ‘n bietjie gedink en toe vir Mario Ferreira van Gift of the Givers gekontak en gevra of hulle vis wil hê, en hoeveel hulle kan vat.”

Kort daarna het Gift of the Givers ‘n agtton-verkoelingseenheid gestuur. Hulle het ook nog nette geskenk. “Ons het net 200 m net vir groot visse gehad, maar nou het ons 3 km se nette vir visse van verskillende groottes.”

Die meeste van die nette, insluitend fuik- en treknette, is in samewerking met die Nelson Mandela Universiteit (NMU) bekom. Die universiteit stel ook deurlopend fondse beskikbaar stel.

Die internasionale maatskappy Oceana wat vis vang en verwerk, het tydens die Covid 19-pandemie by die projek betrokke geraak en ‘n koeltrok en toerusting aan die projek geskenk.

Proses

IFSM bedryf die vangste, beplan die operasies, logistieke en die uitvoer daarvan. “Dis baie werk, want baie faktore soos water temperatuur, barometriese druk, windrigting, en die tyd van die dag moet noukeurig beplan word.”

Johnny en sy regterhand (Johnny) Dixon, ‘n boorling van Malawi se merestreek wat sy storie ken, gaan elke week uit op die boot.

In Oktober/November 2022 het Johnny NMU gehelp om 251 karp met nette te vang. Die karp is elk gemerk en van ‘n nommer voorsien voordat dit weer vrygelaat is. Wanneer die vis aan wal gebring word, word die visse se nommers en GPS-posisie aangeteken en vir NMU gestuur.

Johnny teken ook die aantal en gewig van die vangste aan. Enige abnormaliteite word deur afgetrede visbioloog Ben van der Waal ondersoek. Gift of the Givers maak gebruik van ‘n plaaslike mikrobioloog om die visse vir bakteriële infeksies te ondersoek sodat net gesonde vis versprei word.

Die vis word in vrieskaste, wat aan Gift of the Givers geskenk is,  by Johnny se huis op Sedgefield gestoor. Wanneer die vrieskaste vol is, kom haal Gift of the Givers die vis, was dit en draai dit individueel toe. Dan word dit met groot koeltrokke wat deur Oceana geskenk is, aan sopkombuise plaaslik en so ver as Oudtshoorn en Calitzdorp gelewer. IFSM skenk die vangste aan Gift of the Givers.

Gift of the Givers dek die oorhoofse en operasionele koste. Die nuwe, groter boot wat Oceana onlangs geskenk het maak voorsiening vir vangste met kiefnette en boogjag. Op grond van sy marine agtergrond en die afgelope ses jaar se vangste in Groenvlei en Eilandvlei (sedert 2020) het Johnny belangrike insette in die ontwerp en uitleg van die nuwe boot gelewer.

Die uitkoms

Volgens Petro is die projek gerig op bewaring, maar met die fokus op voedselverskaffing. Die doel is om soveel moontlik van die karp te verwyder, maar nie om dit as ‘n volhoubare projek te bestuur nie.

“Die verwydering van karp sal nie net die biodiversiteit van ons unieke watersisteme verbeter nie maar terselfdertyd kos aan mense in nood voorsien. Dus is die karp van groot waarde terwyl dit beskikbaar is,” sê sy. Navorsing deur NMU het bevestig dat die water in Groenvlei merkbaar helderder is.

Volgens Johnny is daar tot dusver sowat 33-ton karp met ‘n gemiddelde gewig van 2 kg verwyder, waarvan 21 ton karp met die boog gejag is. “Verlede jaar was ons gemiddelde opbrengste vanuit Groenvlei sowat ‘n ton per maand. Die karp in Groenvlei is daar om te bly en dit sal nooit 100% verwyder kan word nie,” meen hy.

Kontakbesonderhede

Kontak Johnny Snyman by info@ifsm.co.za vir meer inligting.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0