Categories: Artikels, WielePublished On: 28th November 2018

Hyundai se nuwe KONA

By 4 min read
790 words

kona_ext_front_01

Deur DIRK GALLOWITZ van Ultimate Drive

Die nuwe KONA van Hyundai bring nou die getal sportnutse in die Koreanse vervaardiger se stal op vier te staan. Die groter Santa Fe, terloops die nuwe model is einde November hier beskikbaar, wat die reeks se vlagskip is,  word deur die mooi middelslag Tucson gevolg word  waarna die kleiner Creta volg. Die moderne en opwindende KONA wat die jonger geslag teiken en meer van ‘n “Cross Over” is, word dan nou die vierde model in die reeks.

Die nuwer geslag Hyundai’s is lank nie meer goedkoop nie, daarvoor is die Suid-Afrikaanse rand se gespartel teen die wêreld se toonaangewende geldeenhede  te blameer. Die KONA met sy sportiewe en moderne ontwerp wat eintlik die jonger Amerikaanse en Europese kopers teiken, het Hyundai SA laat wik en weeg of die oulike nuts genoegsame kopers in SA gaan kry  om die model finansieel lewensvatbaar te maak.

Uiteindelik is die pragtige KONA plaaslik bekend gestel, weliswaar aikona vir ‘n hele paar oulike bykomstighede wat standaard in die Europese modelle beskikbaar is, maar ter wille van bekostigbaarheid plaaslik in die slag moes bly. Geen modelle met vierwielaandrywing of dieselenjins gaan plaaslik beskikbaar wees nie.

Voorkoms

Die KONA is kleiner as die Creta.  Nie net is die dak laer nie, maar die nuweling is ook byna 10cm korter.  Verder is die grondvryhoogte slegs 170 mm wat die nuweling laer oor sy wiele laat hurk. Die KONA teiken ‘n jonger geslag koper. Gevolglik is die stilering modern met skel kleure en moderne lyne.  Tog is daar plastiekafwerking aan die voor en agter ligte, buffers en onder die deure wat die KONA se veldpadry-aspirasies verklap.  Twee netjiese stroke op die dak laat jou toe om ‘n fiets, kano of branderplank saam te karwei.  Van voor beskou tref die KONA met twee stelle voorligte wat bo-op mekaar geplaas is, terwyl die misligte middel voor onder die voorste lugskort diens doen.

 kona

Kajuit en Binneruim

Die kajuit is netjies uitgelê en modern afgewerk met ‘n helder rooi of groen kleurskema wat die binneruim opvrolik.  Kontrasterende stikwerk ondermeer op die sitplekke en stuurwiel vang die oog, terwyl kleurinsetsels rondom die rathefboom en luginlate ‘n jeugdiger dimensie na die kajuit bring.  Andersins is die afwerking in die kajuit swart met heelwat plastiek wat nie hard of goedkoop voel nie.  In geheel vertoon die kajuit bogemiddeld afgewerk en duursaam.

Hyundai het die KONA goed toegerus.  Die sport stuurwiel is teleskopies en hoogte verstelbaar en is toegerus met skakelaars vir klank, telefoon en spoedbeheer.  ‘n Netjies geïntegreerde  kleurraakskerm  is middel op die voorste paneel geplaas en bied toegang tot al die nutsfunksies  vir klank, telekommunikasie asook rit- en motorinligting.

Die KONA bied Bluetooth en koordlose skakeling na ‘n slimfoon om musiek asook navigasie kaarte na die skerm te herlei.  Daar is egter nie SATNAV nie, want die stelsel laat jou toe om satelietnavigasie vanaf jou slimfoon met die raakskerm te koppel.

Die kajuit bied gemaklike sitplek aan vier volwassenes van gemiddelde grootte en die bagasieruim  sal elkeen se naweektassie kan hanteer.  Lig jy egter die bagasieruimvloer se deksel op, kan die kruideniersware vir die naweek ook saamgeneem word.

Modelle en Enjins

Hyundai SA het ter wille van ‘n beter verkoopprys besluit om net twee enjinopsies plaaslik beskikbaar te stel, naamlik ‘n 1.0 liter turbo aangejaagde 3 silinder petrolenjin vir die intree model en ‘n 2.0 liter normaal geaspireerde  4 silinder petrolenjin vir die top model.

Die 1.0 liter model bied 88 kW en 172 Nm se piekkragte en gebruik 6,7 liter/100 km brandstof in ‘n gekombineerde siklus en verkoop vir R379 900.

Terwyl die 1.0 liter model slegs beskikbaar kom met ‘n 6-gang handratkas, is die 2.0 liter weergawe slegs toegerus met ‘n 6-gang outomatiese ratkas. Die 2.0 liter model lewer 110 kW en 180 Nm en gebruik amptelik 7.2 liter/100 km. Die verkoopprys is R399 900.

kona

Op die pad 

Tydens die bekendstelling kon ons met beide modelle deur die pragtige Kaap en Swartland op die ooppad en in stadsverkeer speel. Ons keuse is die goedkoper 1.0 liter model met die 3 silinder enjintjie se aangename knor klankbaan wat vir wakker verrigtinge en heerlike hantering gesorg het.  Die handratkas het ons ook meer geval as die 6-gang outomaties.

Gevolgtrekking

Overgesetsynde het die nuwe KONA beїndruk met ‘n opvallende flambojante voorkoms en ‘n pragtige moderne kajuit.  Ook het die nuweling se stil kajuit teen snelwegspoed ons baie beїndruk.

Hyundai het na ons mening die regte besluit geneem om die KONA na Suid-Afrika te bring en behoort goed aftrek te kry onder Hyundai kopers vir wie voorkoms belangrik is.  Die groter Creta  is steeds die slim waarde-vir-geld kopie, maar  die KONA gaan die koppe laat draai.

Hyundai verkoop die KONA  met ‘n 7 jaar/200 000 km vervaardigerswaarborg (terme en voorwaardes geld) ingesluit asook ‘n  5 jaar/90 000 km diensplan en ‘n  5 jaar/150 000 km padbystanddiens.

 

 

 

 

0
Tags: ,

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0