Categories: NuusPublished On: 2nd May 2018

Huldeblyk: Oom Manie Maritz is nie meer nie

By 3 min read
543 words

manie maritz

Die bekende, gewilde en gerespekteerde oom Manie Maritz is op 19 April oorlede. Hy was 93 jaar oud.

Oom Manie was alombekend as Brahman-boer, oud-stoeier en volksman in murg en been. Hy het die eerste Brahman-veiling in Suid-Afrika gehou, het talle skoukampioenskappe gewen, het in die Brahman-genootskap se raad gedien en is in 2002 as erelid vereer. So lief was hy vir sy beeste dat hy selfs eenkeer ‘n hele nag saam met 21 Brahmane wat hy vanaf die VSA ingevoer het in ‘n geseëlde skeepsvraghouer deurgebring het.

Hy is by die 17de Brahman-wȇreldkongres in April 2014 met ‘n eretoekenning vir sy bydrae tot die bedryf vereer.

Boerdery was van kleins af in Manie Maritz, jongste seun van die Boeregeneraal en 1914-rebel, Manie Maritz, se bloed. Hy is op 5 April 1925 in Kaapstad gebore, maar het sy vroegste kinderjare deurbaljaar op sy pa se ruim Suidwesplaas, Urumbungo, naby Windhoek, waar hy ‘n duiweboerdery begin het. Later het hy op elke plek waar hy as jongman gewoon het, minstens ‘n netjiese hoenderboerdery aan die gang gehad voordat hy baie later beesboer sou word.

Oom Manie het later erken dat hy aanvanklik geen ooghare vir skool gehad het nie, maar dat sy lewe begin vorm aanneem het toe hy na Grey-Kollege in Bloemfontein gestuur is. Hy het pligsgetrou, verantwoordelik en selfgedissiplineerd geword, uitgeblink in sport en baie beter met die akademie gevorder.

Manie Maritz het reeds van jongs af sterk volksbeginsels gehad. Destyds is fliekgangers gedwing om na die vertoning op te staan terwyl die Britse volkslied speel, maar as hoërskoolseun het Manie telkens uitgestap en buite vir sy maats gaan wag.

Na skool het Manie polisieman en later beroepstoeier van wêreldgehalte geword in die tyd toe stoei nog stoei was. Alhoewel hy veel kleiner en ligter as die meeste van sy teenstanders in die kryt was, was hy rats en so sterk soos ‘n bees.

Na ‘n roemryke stoeiloopbaar het Manie die kryt vaarwel toegeroep namate promotors al hoe meer van stoei ‘n sirkus gemaak het met akteurs in die kryt.

As volksman het Manie Maritz deurgaans sy plek volgestaan. In 1949 was hy een van die veldkornette wat te perd uit verskillende uithoeke van die land met boodskappe na Pretoria sou ry vir die inwyding van die Voortrekkermonument. Manie het Roete 14 vanaf Vryburg gelei.

Selfs toe hy al redelik bejaard was, het ‘n sekere politieke party ‘n klomp boksers en Johannesburgse straatvegters na ‘n volksvergading in Brits aangery om die vergadering met geweld te ontwrig. Ongelukkig vir hulle was oom Manie ook by die vergadering en nie een van hulle het kans gesien om onder sy kragtige Boerehande deur te loop nie. By die aanblik van die stoere volkstoeier het die rowwe manne so mak soos lammetjies geword.

“Dit is wonderlik om ‘n Boer te wees,” het Manie Maritz gesê.

‘n Groot man is nie meer nie.

Tot op sy oudag was oom Manie Maritz, Brahman-teler, beroepstoeier en stoere volksman, ‘n pure stuk staal.

Manie Maritz, die stoeier, in sy jonger dae. Hy was veel kleiner en ligter as die meeste van sy teenstanders in die kryt, maar met sy ratsheid, krag en vasberadenheid het hy die hoogste hoogtes bereik in die tyd toe stoei nog regtig stoei was en nie ‘n konsert soos vandag nie.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0