Categories: NewsPublished On: 12th July 2010

HR de Witt Boerbokstoet se produksieveiling op 19 Maart: “Boer beter met wat jy het”

By 4 min read
678 words

Sukses en wins tot ver in die toekoms. Dit is wat op die boer wag wat betyds die regte besluite neem om volhoubaar die meeste wins uit sy beskikbare grond en middele te put.

So ’n regte besluit is om oor te skakel na boerbokke, glo Hannes en Riekie de Witt van HR de Witt Boerbokstoet op Esterhuizensput doer anderkant Upington in Noenieput se koers.

Die waarheid is eenvoudig: Boerbokke gee jou meer lammers as skape en elke boerboklam gee jou meer geld as ’n skaaplam. Dis hoekom die aanvraag na boerbokke so groot is en tot ver in die toekoms sal voortduur, glo Hannes.

Die boerbokmark het die afgelope vyf of ses jaar die hoogte ingeskiet en daar is nog geen teken van ’n versadigingspunt op die bokhorison nie.

“Kyk maar as jy ry hoe min bokke sien jy langs die pad teenoor beeste en skape,” sê Hannes. “Neem dan in ag watter sinvolle en lonende manier van vleisproduksie boerbokke bied en dit is duidelik dat hierdie mark nog lank baie sterk gaan groei.”

Vir die Suid-Afrikaanse boer is dit ’n feit van die lewe dat hy op dieselfde grond en met dieselfde middele immer meer moet produseer om te oorleef. “Jy moet beter boer met wat jy het,” sê Hannes.

Vir hom beteken dit dat die vleisboer die regte soort diere moet aanhou en dat hy nooit diere van ’n swak gehalte op sy grond moet toelaat nie.

Wat die regte soort diere betref, is dit nie net die boer­bok se voortreflike aanteel en produksie wat die boer bevoordeel nie, maar ook die hoë pryse wat bokslaglammers regdeur die jaar behaal.

Maar nou moet ’n man darem ook nie blindelings instorm en enige boerbok opraap om mee te wil begin boer nie. Omdat die aanvraag so groot is, moet die verantwoordelike teler homself baie streng dissiplineer om te verseker dat net die beste genetika voortbestaan.

Hannes en Riekie self het in 2004 hulle stoetery op die regte manier begin deur hulle genetika by bewese eerlike en eerbare stoettelers soos Lukas Burger, Nico Botha en Pip Niewoudt te bekom. Omdat hul rekords van al hul stoetbokke het, weet jy presies wat jy koop.

Hulle was gelukkig om die skitterende ram, Cruizer, teen R200 000 aan te skaf.

Met hierdie suiwer begin het hulle voortgebou om sedert 2005 te begin toekennings wen – onder meer die Nasionale Slaglamkampioen in 2005, die Nasio­nale Enkelbokkampioen en Enkelgroepkampioen vir 2005/2006 en verlede jaar die reserwe seniorkampioenram en reser­we grootkampioenram by die Boerbok-wêreldkampioenskappe op Upington.

Onverbiddelike keuring

Hierdie teelsukses is die resultaat van onverbiddelike keuring en Riekie se suiwer talent om te bepaal watter ram by watter ooi gebring moet word om die beste resultate te behaal.

De Witts koop ook nie sommer enige mooi ooi wat hulle sien nie – sy moet die regte afkoms hê om by hulle lynteling in te pas.

Goeie nuus vir boerbokboere, voornemende boer­bokboere en belang­stellendes wat sommer net wil kom kyk, is dat Hannes en Riekie hulle eerste produksieveiling op 19 Maart op Upington hou.

Daar sal 25 gekeurde stoet- en kudderamme aangebied word, en tussen 60 en 70 stoet- en kudde-ooie waarvan 30 dragtig van ’n top stoetram en die res jong ooitjies.

Ramme het vrugbaarheidsertifikate en as ’n koper binne ’n redelike tyd ’n fout aan ’n ram vind, sal hy vervang word of sy geld sal teruggegee word. Die ramme is almal by ooie getoets sodat ’n mens weet hoe hulle lammers lyk.

Mense wat nie die veiling kan bywoon nie, kan ook diere uit die hand koop en is welkom om self op die plaas te kom kyk. HR de Witt Boerbokstoet het ’n ram vir elke behoefte en bied ko­pers ook voortreflike teelooie.

Vir meer inligting oor die veiling en HR de Witt Boer­­bokstoet, skakel Hannes en Riekie by 054902 vra langklip 92411, of Francois Theron van KLK by 082-890-2029.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0