Hooimaak: Rooi, groen of blou, hoe kies ek nou?
ProAgri deel graag die volgende wenke met boere wat besluite oor die aankoop van hooimaaktoerusting moet neem:
Prys is dikwels die eerste oorweging wanneer ’n boer werktuie koop en dit is ook reg so. Maar tog is daar ander oorwegings waarna ook opgelet behoort te word. As die boer hooimaaktoerusting koop, behoort hy te sorg dat hy ’n bekende en bewese soort koop. Kyk watter toerusting gebruik die meeste mense in jou omgewing – daar is gewoonlik ’n rede voor, soos dat onderdele en diens vrylik in die gebied beskikbaar is.
Boere is dit eens dat die meeste werktuie en trekkers vandag van ’n goeie gehalte is, maar dat diens en die beskikbaarheid van onderdele in jou omgewing dikwels die deurslag gee. Koop dus by ’n betroubare handelaar wat regtig daarop konsentreer om jou aan die boer te hou. Dit vereis ’n diensingesteldheid sowel as die nodige kundigheid.
Wat is die voor- en nadele van die verskillende soorte snyers: swaailem, sekellem, tol- en dromsnyers?
Die sekellem sny die skoonste snit en het die beste en vinnigste hergroei tot gevolg. Hy kan nie so vinnig sny soos sommige van die ander nie.
Swaailemsnyers is nie eintlik oorspronklik vir hooimaak bedoel nie, maar dit is ’n bekostigbaarder opsie as die meeste ander snyers.
Tol- en dromsnyers sny die vinnigste, maar hulle is ook duur.
Wat is die voordele van ’n snyerkneuser bo ’n blote snyer?
By eersgenoemde vind droging vinniger plaas met minder blaarverlies by lusern.
Waarna moet ’n boer oplet as hy ’n snyer koop?
Hoe vinnig kan die snyer sny, hoe wyd sny hy, hoe skoon sny hy, het hy ’n ingeboude kneuser, gooi hy die materiaal klaar in windrye, hoe maklik en vinnig word sy lemme en ratte vervang, hoe hanteer hy ongelyke grond, hoeveel trekkerkrag vereis hy, hoeveel diens en onderhoud vereis hy?
Waarna moet ’n boer oplet as hy ’n baler koop?
Hoe skoon tel hy materiaal op, hoe vinnig en netjies baal hy, hoe stewig en kompak is sy bale, hoe groot en swaar is sy bale, kan hy enige materiaal (tot mieliereste) baal, draai hy lyn, net of plastiek om bale, hoeveel lyn, net of plastiek kan hy saamry, hoe betroubaar is hy, hoe moeilik is hy om te gebruik en om onderdele te vervang, hoe duur is sy onderdele, hoeveel trekkerkrag vereis hy, hoe maklik is dit om hom op die pad te vervoer van plaas na plaas, hoeveel diens en onderhoud vereis hy?
’n Kasbaler behoort ’n lekker swaar vliegwiel te hê, want dan werk hy meer gelykmatig en dit verminder ook skokke op die trekker se kragaftakker. Hoe reguiter die pad wat die materiaal deur ’n baler volg, hoe minder probleme.
Waarna moet ’n boer oplet as hy ’n hark/kraghark koop?
Hoe stewig is hy, hark hy skoon, vinnig en doeltreffend, het hy ekstra tande, hoeveel diens en onderhoud vereis hy?
Waarna moet ’n boer oplet as hy ’n belugter (“tedder”) koop?
Draai hy materiaal doeltreffend en volledig om, is hy stewig en sterk?
Waarna moet ’n boer oplet as hy baalhanteringstoerusting koop?
Afhangende van die aantal en vorm bale wat die boer moet verskuif, kan hy kies tussen ’n baallaaier met ’n hyser vir klein kasbaaltjies, ’n raamsleepwa met ’n onderstel wat hidroulies gelig of laat sak word vir ronde bale, ’n trekkerlaaigraaf met tande vir ronde bale of grootpakbale, of ’n kraanhyser met rubberwiele vir groot volumes ronde of grootpakbale.
Elke boer sal kies watter opsie ekonomies sal wees vir die volumes, die afstande, die grootte en vorm van bale wat hy hanteer en vervoer.
Die oorwegings is stewigheid, duursaamheid, maklikheid om te gebruik, maneuvreerbaarheid, hoeveel arbeid bespaar word, reikhoogte, onderhoud- en herstelbehoeftes, uitskakeling van breekskade aan bale en, in die geval van kraanhysers, veelsydigheid, want omdat dit ’n duur item is, sal die boer dit ook graag vir ander toepassings wil gebruik.