Categories: NewsPublished On: 12th September 2011

Hof-knoop-Malema-se-liedjie-se-loop

By 2 min read
412 words
Regter Colin Lamont het in die Gelykheidshof in Johannesburg beslis dat die die woorde “skiet die Boer” wel haatspraak is. 
Afriforum het Julius Malema aangekla nadat hy die “skiet die Boer”-lied herhaaldelik in die openbaar gesing het.
 
In sy uitspraak van 69 getikte bladsye het regter Lamont ruim uit die Suid-Afrikaanse Grondwet en toepaslike  Internasionale ooreenkomte wat deur die land bekragtig is, aangehaal.
 
Die uitspraak beredeneer ook die fyn balans tussen wat as “vryheid van spraak” en wat as “haatspraak” geklassifiseer kan word.
 
Hy het gesê dat verskillende gemeenskappe woorde op verskillende maniere vertolk en dat dít saam met die konteks waarin woorde gebruik word oorweeg moet word. Hy het voorts gesê dat dit juis die vertolking van die woorde deur die redelike mens binne ‘n gemeenskap is wat in oënskou geneem moet word.
 
Regter Lamont het bevind dat die handgebare wat die hantering van ‘n geweer uitbeeld, en saam met die sing van die lied gebruik word, min twyfel oor die konteks van die werkwoord “skiet” laat. (Mnr Malema het tydens sy verhoor getuig dat die woorde “skiet die Boer” volgens hom “vernietig die stelsel” beteken.)
 
Mnr Malema, wat nie die hofverrigtinge bygewoon het nie, het ook ‘n kostebevel van drie hofdae teen hom ontvang.
 
Kallie Kriel uitvoerende hoof van AfriForum het gesê dat hulle verheug oor die uitspraak is en dat dit ‘n duidelike boodskap aan mnr Malema stuur dat hy nie verhewe bo die reg is nie. 
 
“Die betekenis van die woorde (van die lied) maak so ‘n groot inbreuk op Afrikaners se menseregte dat dit die koste wat Malema moet dra regverdig” het hy gesê. 
 
“Die lied sal nooit weer as skadeloos gesien word nie” het mnr Kriel bygevoeg.
 
TLU SA het kort na die uitspraak ’n beroep op die ANC en mnr Malema gedoen om die uitspraak te aanvaar en om vreedsame naasbestaan en wedersydse respek tussen ras- en kultuurgroepe te bevorder.
 
In sy reaksie op die uitspraak het ds Theunis Botha van die Christen Demokratiese Party gesê dat mnr Malema by herhaling bewys het dat hy nie geskik is om enige leierskapsrol in die land te vervul nie en dat die ANC hom uit enige leierskapsposisie behoort te verwyder.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0