Categories: NewsPublished On: 23rd May 2011

Hof hoor slotbetoë in haatspraaksaak aan

By 2 min read
“Dit is die vertaling wat die mense ontstel” het regter Collin Lamont  gesê tydens die slotbetoë in die haatspraakverhoor teen die ANC Jeugliga se president Julius Malema. 
 
Dit mag wees dat die woorde ‘n sekere betekenis vir gehore in een taal het, en dat ‘n vertaling ‘n ander betekenis vir ‘n ander gehore het, het die regter gesê.
 
Julius Malema se regsveteenwoordiger, Vincent Maleka, het vroeër aangevoer dat die vertaling van die lied se woorde “dubul’ ibhunu” as “skiet die boer” verkeerd is. Hy het gesê dat die probleem nie by die woorde self lê nie maar by die vertaling daarvan deur die media.
 
Binne konteks beteken die woorde dat die stelsel vernietig moet word en dat dit nie na ‘n spesifieke persoon verwys nie, het hy gesê.
 
Intussen is burgerregte-organisasie, AfriForum vol vertroue dat sy regspan daarin geslaag het om ʼn sterk saak uit te maak om die woorde “skiet die Boer” as haatspraak verklaar te kry.
 
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het mnr Malema se onverantwoordelike uitsprake tydens sy kruisondervraging,  aan AfriForum die morele hoë grond gegee.
 
Hy het gesê dat (Julius) Malema tydens kruisondervraging duidelik na vore getree het as  ʼn persoon wat gemeenskappe met sy uitsprake polariseer, en dat hy nie respek vir ander mense het nie.  
 
Volgens mnr Kriel het mnr Malema ook erken dat die lied ʼn kontemporêre betekenis het, omdat die “struggle” volgens hom (Malema) nog nie verby is nie.  
 
AfriForum se advokaat, Martin Brassey, het gesê dat  “affirmative action”  nie op haatspraak van toepassing is nie en dat ‘n pynlike verlede geen verskoning is om skadelike liedjies te sing nie. 
 
“AfriForum vra die hof om die ware invloed van mnr Malema se woorde op Afrikaners en wit mense in Suid-Afrika te herken” het mnr  Brassey  in die hof betoog.
 
TLU SA se regsveteenwoordiger, Roelof Du Plessis, het onder andere geargumenteer dat die gewraakte woorde baie skadelik vir rasseverhoudings in die land is.
 
Die saak is Vrydag afgesluit. Dit sal waarskynlik weke duur voor die hof uitspraak lewer.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0