Categories: NewsPublished On: 28th November 2011

Hoe raak hoë voedselpryse verbruikers en boere?

By 2 min read
Voedselpryse het rekordhoogtes die afgelope jaar bereik en daar kan verwag word dat die tendens sal voort duur, het Willie du Plessis, Direkteur Landbou-bankdienste by Standard Bank gesê.
 
"Die onlangse toename in brandstofpryse sal hierdie situasie net vererger," het mnr Du Plessis gesê.
 
Hy het na voedselprysstatistiek verwys wat deur die Nasionale Landboubemarkingsraad versamel is wat aantoon dat meer as 50% van voedsel-items se pryse met méér as 6% gestyg het, wat die amptelike Reserwebankteiken vir inflasie is.
 
Die omvang van die prysstygings word duidelik wanneer ons besef dat ongeveer 21% van die voedsel-items wat gemonitor is se pryse met meer as 15% op ‘n jaar-tot-jaar grondslag gestyg het. Dit het gewissel tussen ‘n 30%-plus toename in die prys van’ n 500g margarienblok, vars lamsvleis, patats en sonneblomolie tot ‘n verhoging van 15% in die basiese items soos 1kg mieliemeel, boontjies en 1 kg koekmeel," het mnr du Plessis gesê.
 
Hy het gesê dat die armstes van die armes die ergste deur die prysbewegings geraak word, want die mense in dié segment spandeer die meeste van hulle inkomste aan voedsel. "Hierdie mense is nie net kwesbaar vir hoë voedselpryse nie, maar ook hoë reiskoste."
 
Die posisie van boere
 
"Die sekondêre landbousektor het aansienlike kostedruk ervaar weens inflasie van op die pryse van insette en ons sal sien dat hierdie koste uiteindelik na rakpryse toe deursyfer."
 
Landbou se ruilvoet het sedert 2007 verswak, en het in 2009 ‘n rekordlaagtepunt bereik. "Ruilvoet" verwys oor die algemeen na die mate waarin prysstygings van landbouprodukte tred hou met die inflasie van boerderybenodigdhede. In die landbou-omgewing beteken ruilvoet dus die mate waartoe die produsentpryse, (deur boere ontvang), tred gehou het met die pryse wat vir boerderybenodigdhede betaal word (die insetkoste).
 
Wanneer die verhouding van produsentepryse tot insetkoste meer as 100% is (soos in die grafiek aangedui), is dit ‘n gunstige ekonomiese omgewing vir boere aangesien die styging in die prys van hulle produk beter gevaar het as die styging in die prys van boerderybenodigdhede. Wanneer hierdie verhouding egter onder 100% is, is die omgewing ongunstig vir die boere. Die grafiek wys dat die ruilvoet vir boere op ‘n lae vlak van 49% staan. 
 
Mnr Du Plessis het gesê dat die verswakking van die ruilvoet kommerwekkend is, en dat dit ‘n aanduiding is van die druk waaronder produsente gebuk gaan. "Aan die positiewe kant kan gesê word dat hoewel die aanwyser onder die maatstafvlak is, is die tendens ten minste opwaarts. Ons het in die afgelope maande gesien dat kommoditeitspryse aansienlik toegeneem het, wat ook in die 2011-produsent-inflasie (PPI)-syfers weerspieël word.
 
"Maar terselfdertyd het insetkoste soos voer, kunsmis en ander landboubenodigdhede ook verhoog, wat waarskynlik sal lei tot ‘n sywaartse beweging van die landbou-ruilvoet oor die kort termyn," het mnr Du Plessis gesê.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0