Hoe groot is die skade?
Die minister van landbou het georganiseerde landbou versoek om voor Woensdag 19 Januarie om 14:00 inligting deur te gee oor die skade aan die bedryf na aanleiding van die vloede en oorstromings. Die spertyd vir die opname is heeltemal voortydig meen mnr Henk van de Graaf, kommunikasiebestuurder van TLU SA.
TLU SA Sentraalstreek het na al sy boereverenigings vorms uitgestuur met ‘n versoek dat die boere dit so gou as moontlik invul. Op die vorm word onder andere inligting gevra oor watter munisipale distrikte geraak is, asook hoeveel hektaar en watter gewasse of ander bates verwoes is.
Mnr Van de Graaf sê hulle het groot begrip daarvoor dat boere nou besig is om op te ruim en te probeer red wat te redde is en nie tyd het vir vorms invul nie. Baie boere se kommunikasie met die buitewêreld is ook afgesny. Daarby word verdere vloede verwag en is dit dus ‘n bietjie sinloos om nou reeds skadebepalings te probeer doen.
Die organisasie het nogtans ‘n oproep op sy verteenwoordigers in die streke gedoen om die inligting deur te gee, veral waar ramphulp nodig is. Die vorm kan by Lynette du Plessis by sentraal@tlu.co.za aangevra word.