Hoe groot is daai Goliat?
Die reeks pampoenfeeste wat landwyd gehou word om die rekordgrootte pampoen te vind is tans aan die gang. Die Goliat van Gat Pampoenfees wat in Pretoria aangebied word, vind volgende Saterdag (26 Maart) by die Pioniersmuseum in Silverton plaas.
Dit word gereël deur die Cullinan Boere-unie in samewerking met TLU SA en Radio Pretoria ten bate van Volkshulp 2000.
Benewens die GROOTSTE, mooiste, lelikste en oorspronklikste pampoene, sal daar ook vele ander bedrywighede wees om `n ieder en elk heeldag te vermaak. Daar is baie stalletjies met eet- en drinkgoed om van te kies en te keur met natuurlik `n verskeidenheid pampoengeregte.
Die wenner van die swaarste pampoen wat ingeskryf word, ontvang R3000 kontant wat deur Uitkyk Vleismark in Silverton geborg word. Pryse word ook toegeken vir die mooiste, lelikste en oorspronklikste pampoen sowel as vir die grootste pampoen gekweek deur jongkwekers onder die ouderderdom van 16. `n Prys word ook toegeken vir die grootste pampoen uit die Cullinan-distrik wat deur Die Tuinmark geborg word.
Daar is ook pampoenpitspoeg, pampoendra en gewigraai-wedstryde. Die Transvaalse Houtsnyersgilde bied `n pampoenkerf-kompetisie aan.
Die doel van die fees is om ondersteuning vir boere in Suid-Afrika te kweek. Hekke is reeds om 06h00 oop vir die Boeremark, maar die fees begin amptelik agtuur.