Hoe COP29, klimaatsverandering en koolstofbelasting boere raak
Op 19 November, dag 9 van die COP29-byeenkoms in Baku, Azerbaijan, was die fokus onder die oorhoofse tema van Klimaatfinansiering gepas op water, voedsel en landbou. Wêreldleiers is aangemoedig om aardverwarming aan te spreek en landbouvoedselstelsels te transformeer vir volhoubaarheid, veerkragtigheid en voedselsekuriteit. Die fundamentele rol van boere as agente van klimaataksie is erken, maar ook die landbou se rol om by te dra tot emissies.
Die wêreldwye uitdagings wat klimaatsverandering aan voedselsekuriteit, waterbronne en landbouvolhoubaarheid stel, is uitgelig. Fondse (in die vorm van lenings en beleggings wat terugbetaal moet word) is weer beloof om kleinboere in arm en ontwikkelende provinsies te ondersteun, tog word kommersiële boere se lewensbestaan ook nadelig beïnvloed deur klimaatsverandering. Vrystaat Landbou (VL) meen dat niks van die R8,3 miljard wat vir SA beloof is tydens verlede jaar se byeenkoms in die VAE deurgedring het na enige landbou in Suid-Afrika waarvan ons bewus is nie!
Verskeie inisiatiewe en strategieë met beduidende relevansie vir Suid-Afrikaanse landbou is egter tydens die COP29-temageleentheid bespreek:
- Baku Harmoniya klimaatinisiatief vir boere: van stapel gestuur om samewerking tussen regerings, private sektore en multilaterale banke te bevorder om landbouvoedselstelsels te transformeer. Dit het ten doel om die veerkragtigheid van boere, veral in landelike gemeenskappe, te verbeter deur klimaatvaste praktyke en tegnologieë op te skaal. Dit hou belofte in vir Suid-Afrika, waar bestaans-, kleinboere- en familieboere veral kwesbaar is vir klimaatsimpakte soos droogtes en rampe wat deur veranderende weerpatrone veroorsaak word.
- Klimaat Finansies en Tegnologie vir Landbou: ‘n Hoof onderwerp was die behoefte om aansienlike klimaatfinansiering te mobiliseer om volhoubare landboupraktyke te ondersteun. Besprekings het gefokus op die vermenging van openbare en private beleggings, die verbetering van toegang tot konsessiele lenings en die opskaling van koolstofmarkte. Sulke maatreëls kan Suid-Afrikaanse boere bystaan om tegnologieë aan te neem wat produktiwiteit verbeter terwyl emissies verminder word. Terwyl VL vir die Verlies- en Skadefonds sal steun in reaksie op verliese deur klimaatgedrewe groot rampe, sal ons ook steun verleen aan toelaes en samewerkingsooreenkomste vir veerkragtigheidsmaatreëls en vroeë waarskuwing besluit ondersteunings-tegnologie.
- Aanspreek van Metaanvrystellings: Nog ‘n sleuteltema was die vermindering van metaanvrystellings, veral van organiese afval en vee, om klimaatsimpakte te versag. Dit is relevant vir Suid-Afrika se landbousektor, wat aansienlike intensiewe veeboerderypraktyke insluit wat bydra tot metaanvrystellings.
Met die grootste kweekhuisgasvrysteller in Suid-Afrika, naamlik ESKOM (39%), wat aansoek doen om vrystelling van sy emissieteikens, voel VL dit is skynheilig en onregverdig om die aandag van die werklike skuldiges af te lei en vinger na die landbou te wys. Ons erken ons bydrae en sal maniere soek waarop ons lede bygestaan kan word om beter praktyke te implementeer in plaas daarvan om gedwing te word om daaraan te voldoen en nog ‘n koste op onsself, die primêre produsente, te absorbeer.
Dr Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, bevestig dat die organisasie op 20 November die Presidensiële Klimaatkommissie (PCC) se padskou in Bloemfontein bygewoon het waar ‘n eerste konsep van die regulasies met betrekking tot die Wet op Klimaatsverandering 22 van 2024 bekendgestel is. Landbou word tans bekwaam op die PCC verteenwoordig deur Janse Rabie van AgriSA wie se termyn volgende jaar eindig. VL dien ook in werkgroepe waar die Landbousektor-emissieteikens (SET’s) geformuleer word as deel van ons Nasionaal Bepaalde Bydrae (NDC) teikens. In die huidige besprekingsdokument deur die Nasionale Tesourie oor koolstofbelasting, bly die landbou vrygestel op grond van “die afwesigheid van toepaslike metodologieë vir die bepaling van KHG-vrystellings en daaropvolgende administratiewe probleme met die meting en verifiëring van vrystellings”, ‘n punt wat deur die deskundige sprekers beklemtoon is by die onlangse FSA Carbon Farming webinar, en ‘n posisie wat ons steeds ondersteun.
By die PCC-vergadering is die Groenfonds van DFFE genoem waar aansoekers kan aansoek doen vir tot R5 miljoen se toelaes vir groen inisiatiewe, insluitend munisipale afval- en afvalwaterherwinningsprojekte en biogas- en pirolise-aanlegte, wat afval na energie omskakel. VL sal ons plaaslike boereverenigings en landbouforums ondersteun om plaaslike regering te steun om aansoek te doen vir hierdie toelaes om die waterbesoedeling wat spruit uit afvalwaterbehandelingsaanlegte en rommel van munisipale stortingsterreine wat die naburige boere raak, aan te spreek.
As ons kyk na die 2050 Net-Zero-teiken en die tipe landbou wat ons sal nodig hê om dit te bereik, sal VL voortgaan om herlewingslandboupraktyke te bevorder wat ‘n noodsaaklike pad bied om grondgesondheid te herstel, verbeterde voedingswaarde, sekwestrering van koolstof en die verhoging van veerkragtigheid teen klimaatsimpakte, en lobby bekostigbare befondsing en ondersteuning vir die oorgang van onvolhoubare praktyke, en toepaslike metodologieë om te meet en te verifieer emissies.
Bron: Vrystaat Landbou