Hittespanning deel 3: Veebestuur in die somer – Veldbeeste

15020
Omgewingsfaktore het ՚n groot invloed op vrylopende vleisbeeste se gesondheid, produksie en reproduksie. Prof Michiel Scholtz van die Landbounavorsingsraad wat navorsing doen oor klimaatsverandering en die uitwerking van hoë temperature op semengehalte van veldbeeste, meen stremming is ՚n algemene oorsaak vir ondoeltreffende reproduksie.
Beeste se semengehalte verlaag wanneer die bulle aan uiterste omgewingsfaktore soos uitermatige hitte of koue blootgestel word. Die uitwerking kan tot agt weke neem om na normaal terug te keer. Hy meen die ideaal is om bulle koel te hou voor die dekseisoen, maar veral in die lig van klimaatsverandering wat uiterste temperatuurskommeling tot gevolg het, is dit nie altyd moontlik nie. Om die probleem die hoof te bied, moet boere maar eerder aan die begin van die teelseisoen vrugbaarheidstoetse of semenevaluasies laat doen.
Dit sal ook help as boere bulle gebruik wat meer hitteverdraagsame genotipes is en beter aangepas is by uiterste temperature. Inheemse rasse soos die Afrikaner en Nguni se velkenmerke wat verband hou met termiese gemak, sluit die dikte, struktuur, termo-isolasie, hitteabsorpsie en weerkaatsing van die dier se vel in.
Aanpasbaarheid
Leon Kruger, ’n veekundige aan die Universiteit van die Vrystaat, stem saam dat sekere beesrasse hitte beter kan hanteer. Nguni’s is byvoorbeeld baie beter by uiters warm streke aangepas as Europese rasse. Die Afrikaner en Bonsmara, wat uit Afrika-beeste ontwikkel is, is beslis meer gehard teen uiterste hitte wat gepaardgaan met aardverwarming, en hulle produksie en reproduksie ly nie so erg onder die impak van hitte nie.
Veldtoetse sal help om diere te selekteer wat beter aangepas is by die heersende omstandighede, meen dr Hannes Dreyer wat as die ‘vader van die veldtoetskonsep’ in Suid-Afrika beskou word. Leon meen hoewel omgewingsfaktore
’n groot invloed op ’n vrylopende vleisbees se gesondheid, produksie en reproduksie het, het die diere die vermoë om daarby aan te pas, en indien voorsiening vir die uiterste omstandighede gemaak word, behoort dit die probleem in ՚n mate op te los.
“’n Aangepaste vleisbees in die veld wat kan termoreguleer, meer water drink, langer in die skadu kan vertoef of beskutting kry teen gure weersomstandighede soos hitte, koue, reën of sneeu, sal sonder slag of stoot die uiterste weersomstandighede kan oorleef,” sê Leon.
As die boer die omstandighede vir die diere vergemaklik deur meer drinkwater en skadu beskikbaar te stel, des te beter. Volgens Leon is dit nie net hitte nie, maar ook uiterste koue wat ՚n probleem kan veroorsaak. Hy sê hy kry gereeld navraag van ’n bultoetssentrum waar die diere telkens met die winterkoue diarree en longinfeksies ontwikkel het wat gekoppel was aan spanningsverwante siektes.
“In die somer was dit nie ’n probleem nie, want die diere kon termies reguleer in die somer, maar nie in die winter nie. So het hulle kouespanning ontwikkel.”

Nguni’s is baie beter by uiters warm streke aangepas as Europese rasse. (Bron: Clara Metivier Beukes, Unsplash)
Parasiete
Aardverwarming skep ook ander probleme. “Voorheen het die koue winters die parasietbevolkings in toom gehou, maar nou begin parasiete al in die winter kop uitsteek. Die migrasie van onder andere die hartwaterbosluis en bloubosluis is ’n bewys hiervan. Boere moet nou al hoe meer en slimmer planne begin maak om diere aan die lewe te hou.”
Bestuursoplossings
Die beste verweer teen hittestremming is om geleenthede vir die diere te skep om te termoreguleer.
Dit kan gedoen word deur:
• meer suipings aan te bring wat voorkom dat die diere ver moet stap agter water aan;
• beeste vroegdag of laatmiddag te laat wei wanneer dit koeler is;
• meer skadu te verskaf waar die diere die warmste deel van die dag byvoorbeeld onder bome kan lê; en
• afdakke aanbring waar daar nie bome in ՚n kamp is nie.
Bome
Bome met digte skaduwee bied die beste beskerming teen die son se strale. Maar bome vat lank om groot te word en die beeste kan die bas afstroop, wat die boom se groei sal strem.
Skadu-afdakke
Skadu-afdakke is die eenvoudigste en mees kostedoeltreffende manier om beeste in ՚n kamp koel te hou.
Riglyne vir die oprigting van afdakke:
• Die afdakke moet weg van waterkrippe af wees.
• Dit moet minstens 3,7 tot 4 m hoog wees, want hoe hoër die afdak, hoe minder is die hitteuitstraling vanaf die dak op die diere.
• Voorsien minstens 4 tot 5 m² skaduwee per bees.
• Die lengte-tot-breedte verhouding van die afdak kan van 2:1 tot sowat 10:1 wissel, maar die afdak moenie breër as 10 m wees nie, aangesien lugbeweging onder die dak dan afneem.
• Elke kamp moet sy eie afdak hê en die skadu moet heeldag binne die kamp val.
• Dit moet so opgerig word dat heersende winde gebruik kan word om die beeste te help afkoel.
• Afdakke moet verkieslik in ’n noord-suid rigting staan sodat die skaduwee oor ՚n groter grondoppervlak beweeg.
• Die beeste beweeg saam met die skaduwee en versprei mis en urine oor ՚n groter oppervlak sodat die grond vinniger uitdroog.
• Dakmateriaal kan aluminium- of sinkplate wees.
• Wit verf aan die bokant van die dakke sal die hittestrale wegkaats.
• Swart verf aan die onderkant van die dakke sal indirekte sonstraling deur weerkaatsing vanaf die dak verminder.

Hoewel omgewingsfaktore ’n groot invloed op ’n vrylopende vleisbees se gesondheid, produksie en reproduksie het, het veral inheemse rasse soos Afrikaners en Bonsmaras die vermoë om daarby aan te pas. (Bron: Pixabay)
Bronverwysings:
Dreyer, H. (2021) Die waarde van veldtoetse vir aangepaste nageslag. Veeplaas. https://agriorbit.com/die-waardevan-veldtoetse-vir-aangepastenageslag/
Du Pisanie, K. (2021) Hittestres by vrylopende beeste. Veeplaas. https://agriorbit.com/hittestresby-vrylopende-vleisbeeste/
Muller, K. (2023) Fasiliteite teen die somerhitte. Veeplaas. https://agriorbit.com/fasiliteiteteen-die-somerhitte/