Categories: NewsPublished On: 13th September 2010

Hier-is-’n-ding!-PinZ2yl-wys-reeds-sy-waarde-vir–vleisproduksie

By 3 min read
579 words

Dit werk! Die logiese resep om die ­gunstige hoedanighede van die ­Pinzgauer as oudste suiwer Europese beesras en die Nguni as oudste suiwer Afrika-beesras in een nuwe ras, die PinZ2yl, saam te vat, werp reeds vrug af.

PinZ2yl as nuwe ras geregistreer

Die registrateur het die PinZ2yl op 2 Oktober verlede jaar as nuwe saamgestelde ras onder evaluasie en onder die beskerming van die Pinzgauer-beestelersgenootskap aanvaar. 266 ­manlike en 1 055 vroulike diere is reeds gekeur en sowat 700 kalwers is in die proses van aanmelding.
 
Daar is nou reeds meer as 17 PinZ2yl-telers en nog navrae stroom in, ook van kuddeboere wat besef dat hier ’n resep is wat werk vir verhoogde vleisproduksie. Onder die telers is Nguni-­telers, maar ook etlikes wat met ander rasse, soos ­Bonsmara en Simbra, teel of geteel het.

Pinzgauer en Nguni

Hulle almal is ingenome met die ­kombinasie van voortreflike eienskappe wat in die PinZ2yl setel. Die doel is om ’n mediumraambees te teel wat min ­onderhoud vereis en funksioneel ­doeltreffend is met genoeg melk om aanvaarbare kalwers vir die voerkrale te lewer.
 
As vaderlyn dra die Pinzgauer ­voortreflike melk- en vleiseienskappe by en as moederlyn sorg die Nguni vir ­bestandheid teen bosluise en bosluis- oordraagbare siektes, maklike kalwing, ­uiterste gehardheid en aanpasbaarheid.
 
Prestasietoetsing is verpligtend en streng teeldoelwitte, insluitend standaarde van voortreflikheid en ’n lys van verbode eienskappe, is opgestel. Keurders is aangestel en die hulp van voortreflike kundiges is ingeroep om te verseker dat die PinZ2yl aan die gestelde standaarde voldoen om die beesvleisboer ’n lonende opsie te bied.

 Prof Eddie Webb en dr Estie van Marle-Koster van die Universiteit van Pretoria se Departement Vee- en Wildkunde werk nou saam met die PinZ2yl-klub. Studente help hulle om alle aspekte van die nuwe ras te bestudeer.
 
Dr Magiel Scholtz van die ­Landbounavorsingsraad is ook een van die kundiges wat die PinZ2yl se prestasie bestudeer.

Voerkrale en velle, melk en vleis

Elkeen moet boer met die bees waarvan hy hou en wat sy omstandighede die beste pas, sê mnr Paul Bester, ­president van die Pinzgauer-­beestelersgenootskap, maar die toekoms lê oop voor kommersiële ­Nguniboere wat voerkraalaanvaarbare speenkalwers wil teel en nog steeds die voordeel van ’n gesogte, bemarkbare vel wil geniet, sowel as vir kommunale boere wat hulle mense van vleis en melk wil voorsien.
 
Die PinZ2yl se lae lek-, dip-, medisyne- en bestuursbehoefte help boere om insetkoste laag te hou. By ZZ2 presteer die PinZ2yl alreeds ­verstommend goed en lonend, maar oom Paul glo dit kan nog beter. Hy mik daarna om die 48% van die moeder se gewig by speen na minstens 50% op te stoot, om die speenpersentasie waar hulle boer van 86% na 90% op te stoot, die speengewig van sowat 224 kg na 235 kg en om die tussenkalfperiode van 390 dae na 380 dae te verminder.
 
Roem op vrugbaarheid en reproduksie help niks as koeie oorslaan nie, daarom vereis oom Paul dat ’n vers voor 36 maande moet kalf en daarna mag sy net een keer in haar lewe oorslaan, ­anders is die koelkamer haar voorland.

Vir lonende vleisproduksie van die veld af, praat met Albert Noffke by 083-446-1180 of albert@zz2.biz; met oom Paul Bester by 083-627-6899 of paul@zz2.biz; of met Isaih Ramothwala by 073-337-8599 of grootboom@zz2.biz.
 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0