HEELPITMIELIEBROOD
Lewer 16 porsies
BESTANDDELE
- 125 ml growwe mieliemeel
- 60 ml volkoringmeel
- 60 ml hawersemels
- 10 ml bakpoeier
- 1,25 ml sout
- 1,25 ml swartpeper
- 2,5 ml droë gemengde kruie
- 3 groot eiers
- 60 ml fyngesnyde songedroogde tamatie
- 375 ml laevet-karringmelk
- 60 ml druiwepit-, kanola- of neutolie
- 250 ml suikermielies, vars gekook, bevrore of geblik
- 250 ml geblikte kekerertjies, gedreineer en fyngemaak
- 125 ml gesnyde vars basilie
- 125 ml gerasperde kaas met skerp geur
METODE
- Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer twee 19,5 x 10 cm-broodpanne met kanolaolie. Versprei die olie dun en egalig met ’n papierhanddoek.
- Plaas die droë bestanddele in ’n mengbak en roer. Klits die eiers in ’n ander mengbak en voeg die res van die bestanddele daarby. Roer die droë by die nat bestanddele en meng goed.
- Verdeel die beslag gelyk tussen die twee broodpanne en bak ongeveer 45 minute tot gaar. Laat die goudbruin brood in die pan afkoel en keer uit op die afkoelrak.
VARIASIES
- Maak die mieliebrood met 250 ml gaar, afgekoelde krummelpap, in plaas van die growwe mieliemeel, vir ’n bros tekstuur.
- Voeg 2,5 ml paprika of rooipeper by na smaak vir ’n “warmer” wintergereg.
(Uit: Lekker & Gesond: Diabetesvriendelike poedings & gebak, Martie Hofmeyr & Janet Wiegand, LAPA Uitgewers, 2015)