Categories: NewsPublished On: 12th July 2010

Hartebeesfontein Merinos teel vir meer vleis en wol per hektaar

By 2 min read

Skittergehalte Merinoramme van die stoet wat twee jaar na mekaar as naaswenner in Voermol se Skaapboer van die Jaar-kompetisie aangewys is, Hartebeesfontein Merinos, word op 26 Januarie by die Barkly Elite-ramveiling op Barkley-Oos aangebied.

Tink Strydom van Hartebeesfontein Merinos hou ook op 14 Maart ’n produksieveiling op Frankfort en op 18 Junie een op die plaas naby Barkly-Oos.

Dié wêreld waar Tink met stoet- en kommersiële Merinos boer, is bekend vir sy uiterste weersomstandig­hede wat insluit bittere koue en gepaardgaande kapok wat tot groot verliese kan lei as jou vee nie hulle man kan staan nie.

Tink teel dus jare lank geharde skape met ’n goeie aanpassingsvermoë.

Sy dektyd is net 21 dae lank en alle ooie wat oorslaan beland summier aan die slagter se haak. ’n Besettingsyfer van 93 tot 95% is algemeen, met ’n speenpersentasie van 125% – ten spyte van verliese as gevolg van koue en ongediertes. Nogtans word 10% van die stoetooie op grond van ooiproduktiwiteit uitgeskot.

’n Gemiddelde speengewig van 32 kg op 100 dae is tans die norm. BLUP- en prestasie­toetsing word gedoen om produksie verder op te stoot.

Die stoet se hoofdoel is om meer vleis en wol per hektaar te lewer. Dit moet gedoen word binne die grense van ’n skeersel van 20 tot 21 mikron met ’n hoë gehalte en sonder om die stoet se goeie bouvormeienskappe in te boet.

Tink skryf Hartebeesfontein se sukses toe aan die stewige grondslag wat sy pa, Sarel gelê het en die betrokkenheid van die vrouens in die boerdery, veral wat finansiële rekordhouding betref.

Verder glo hy dat ’n mens nie sukses kan behaal as jy nie ’n liefde vir skaapboerdery en geloof in wat jy doen het nie.

Vir meer inligting oor Hartebeesfontein se geharde, aanpaspare, produktiewe Merinos, skakel Tink by 045-971-9097 of 084-516-7184.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0