Categories: NewsPublished On: 7th April 2011

Haatspraak teen boere by VN bespreek

By 3 min read

AfriForum het vandag  ʼn konferensie van die Verenigde Nasies (VN) se menseregteraad toegespreek oor die ANC-jeugleier, Julius Malema se haatspraak.  Afgevaardigdes by die konferensie het ook hulle kommer oor die situasie in Suid-Afrika uitgespreek en gesê dat die hofsaak teen Malema, wat volgende week begin, leiding moet gee vir die bevordering van vreedsame naasbestaan in Suid-Afrika.

Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, het die konferensie ingelig van Malema se argument dat Suid-Afrika se geskiedenis hom carte blanche gee om liedere te sing waarin haat teen wittes aangemoedig word, ten spyte daarvan dat Malema se volgelinge deel van die post-1994-jeug is en dat die ANC reeds 17 jaar gelede die regerende party geword het.
 
In reaksie hierop het Doudou Diène, die konferensiemoderator gesê dat rassespanning en onverdraagsaamheid in Suid-Afrika steeds  ʼn probleem is wat aandag moet kry.
Ander afgevaardigdes het bygevoeg dat daar  ʼn gebrek aan politieke leierskap in Suider-Afrika is.  Daar is spesifiek ook verwys na rassistiese uitlatings wat deur die Zimbabwiese president, Robert Mugabe, gemaak is en die feit dat ander regeringsleiers nie bereid is om hom daaroor voor stok te kry nie.
 
Die konferensie  vind in Nairobi, Kenia, plaas.  Dit handel oor die voorkoming van aanhitsing tot haat op grond van nasionaliteit, ras en geloof.
Ondertussen word verwag dat die saak teen Malema twee weke kan duur. Die klag teen hom is deur Afriforum ingedien nadat hy herhaaldelik ‘n omstrede struggle-lied by verskillende geleenthede, soos sy verjaardagpartytjie in Pietersburg, ‘n saamtrek van die ANC-Jeugliga, ‘n saamtrek by die Universiteit van Johannesburg, in Rustenburg, Mafikeng en Oos-Londen gesing het.
 
Malema het selfs die lied, Dubul’ iBhunu (Skiet die Boer), in Harare, Zimbabwe, gesing ná die Pretoriase hooggeregshof ‘n interdik teen hom toegestaan het om hom te verbied om die lied te sing totdat die regsproses in die gelykheidshof afgehandel is. In dié tyd het Malema beweer die Suid-Afrikaanse howe se beslissings geld nie in Zimbabwe nie. Hy het ook beweer die hofbevel is toegestaan deur ‘n “ongetransformeerde regstelsel, dieselfde een wat tydens apartheid gefunksioneer het”.
 
Die ANC ondersteun Malema in die saak en verskeie hooggeplaastes gaan ingeroep word om as getuies te dien soos Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, Colin Chabane, minister in die presidensie, dr Wally Serote, ANC-veteraan en Derek Hanekom, adjunkminister van wetenskap en tegnologie. 
 
Afriforum word op sy beurt ondersteun deur TLU SA. ‘n Senior lektor in musiek gaan as deskundige getuie geroep word. Dr Annamarie Gray het ‘n meestersverhandeling in musiek getiteld “Die rol van vryheidsliedjies tydens die struggle-era” gedoen. 
 
Die landbou-organisasie gaan ook verskeie getuies roep, insluitend ‘n boer wat onlangs op sy plaas aangeval is, ‘n kriminologie-professor van die Universiteit van Pretoria en die voorsitter van die FAK, prof Danie Goosen.
 
Boere wat graag aan die TLU SA se meningsopname oor die impak van die haatkreet wil deelneem, kan dit op die organisasie se webwerf doen: www.tlu.co.za 
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0