Categories: NewsPublished On: 13th April 2016

GWK stel hulle nuwe fabriek bekend

By 2 min read
455 words

Nature’s Farms biscuits

GWK het hulle nuwe fabriek, Farm Foods, wat in Modderrivier geleë is, bekendgestel. Die koringmeel, pasta en koekie-fabriek is die eerste groot vervaardiger van voedsel in die Noord-Kaap en een van die mees moderne en tegnologies gevorderde voedselproduksie-aanlegte.

Die produkte se handelsnaam is Nature’s Farms en die produknaam en verpakking wys GWK se afkoms van die plaas.

Die fabriek het R400-miljoen gekos en ‘n totaal van R60-miljoen is belê in uitgebreide silokapasiteit wat spog met die nuutste en mees gevorderde maal-, pasta- en koekieproduksie-tegnologie uit Italië en Switserland.

Pick n Pay gaan ‘n kliënt van GWK wees.

“Ek was verstom oor die syfers. Dit gaan yslik groot wees,” sê Suzanne Ackerman-Berman, transformasie direkteur by Pick n Pay-winkels en voorsitter van die Pick n Pay-stigting. Sy het gesê die produkte gaan aanvanklik verkoop word in Pick n Pay se binnelandse streek en gaan dan vir verkope landswyd oorweeg word. Suzanne is die dogter van Raymond Ackerman, die stigter van Pick n Pay en sy het ook ‘n spreekbeurt by die bekendstelling gehad.

Die adjunk-minister van Handel en Nywerheid, Mzwandile Masina, het by die bekendstelling gesê die fabriek sluit by die nasionale ontwikkelingsplan van die regering aan.

Dit gaan armoede verlig en swart boere aanmoedig om kwaliteit produkte te vervaardig wat deur GWK versprei word, wat ook die voedselsekuriteit in Suid-Afrika ‘n hupstoot gaan gee.

Tom Meintjes, hoofbestuurder van graanprodukte vir GWK Farm Foods, sê die groep het baie belê in navorsing en ontwikkeling om boere mededingend te hou. “Baie swart boere is alreeds aandeelhouers in ons maatskappy,” sê hy.

Tom voeg by dat meer as 400 tydelike werksgeleenthede en 100 permanente werksgeleenthede deur die fabriek geskep is.

Produkte wat by die  nuwe fabriek gemaak word sluit spaghetti, penne, macaroni, wit en bruinbrood en koekmeel in. Die aanleg produseer min of meer 30 ton koekies ‘n dag. Die koring wat by die fabriek gebruik word kom van besproeiingsplase af.

“Ons het verseker dat ons deeglik die grootte van pasta verstaan en wat nodig is om te doen van ‘n ontwikkelaar se oogpunt. Vir ons koekies het ons seker gemaak dat ons die regte geure het en vir ons koringmeel was die bakkers se vereistes belangrik in ons beplanning. Ons sal aanhou om ons mieliemeel te vernuwe om te verseker dat ons voor bly in die kategorie,” sê Pieter Spies, GWK se besturende direkteur.

GWK produseer vleis en spesialiteitsprodukte soos pekanneute, voedselolies, veevoer, wyn en aartappels, terwyl hulle dienste soos om kos te berg, te verwerk, verspreiding en finansiering lewer. Hulle verskaf ook brandstof en bied veeveilings aan.

Pieter sê ook deel van GWK se sakestrategie is om die beste tegnologie vir die Nature’s Farm produkte te gebruik en ter ere van die boer te produseer.

farm foods

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

2 Comments

  1. Elmarie 14th April 2016 at 13:42 - Reply

    Dis groot! Baie sterkte. Ons sal julle ondersteun deur uit te kyk vir julle produkte op die rak. Die koekies lyk lekker…..

  2. Lizinda 14th April 2016 at 09:51 - Reply

    Sterkte met julle nuwe verpakking. Dit klink na baie groot sukses. Gaan beslis van jul produkte aankoop en die smaak kry.

Leave A Comment

0