Grondeiseproses dalk heropen
President Jacob Zuma het tydens ‘n sake-ontbyt in Sandton gesê die regering kyk na die heropening van die grondrestitusie-proses. Hy het gesê dat die proses se verloop te kort was. Die afsny datum vir die indiening van grondeise het 31 Desember 1998 gesluit.
Die konferensie is gereël om aan president Zuma die geleentheid gee om terugvoer te gee oor die vordering wat sy administrasie sedert sy presidentsrede aan die begin van die jaar gemaak het.
Toe hy gevra is of die regering sal verhoed dat ‘n Zimbabwe-tipe grondprogram hier gevolg word, het hy gesê dat die kwessie van grondherverdeling ‘n ernstige saak is wat aandag nodig het, maar dat alles binne die raamwerk van die wet moet plaasvind.
Hy het gesê Zimbabwe-tipe grondbesetting sal nie in Suid-Afrika geduld word nie.
"Ek dink nie die Suid-Afrikaanse en Zimbabwiese grondwette is dieselfde nie. Ons grondwet is baie belangrik, want dit lei ons in wat ons doen," het president Zuma gesê.