Greenfields se Workmax speel klaar met werk
Hy is rats en fluks, kan orals ry, lig op brandstof, maar dra sy vrag soos ‘n man! Greenfields se nuwe JCB Workmax 800 D gaan die boer se regterhand op die plaas word.
Of jy gou na iets in die mielieland wil gaan kyk, lek na die onderste kamp wil aanry, die spilpunt wil uitsleep, of vir nig An wil gaan wys hoe mooi lyk die plaas van die koppie af – gryp net die Workmax.
James Smart van Greenfields sê: “Ons is baie opgewonde daaroor om die nuwe JCB Workmax as deel van ons produkreeks aan te bied. Met sy lae loopkoste maak dit sin om die een voertuig op die plaas te gebruik as vierwielmotorfiets, bakkie en selfs klein trekker en sleepwa.”
Die JCB Workmax 800 D kan 600 kg dra, waarvan 400 kg agter op sy laaibak. Die wipbak is ‘n stewige staalkonstruksie met dubbel-aksie vering wat sorg vir rygenot of die bak volgelaai is of nie.
Die kajuit met sy plat vloer is maklik toeganklik van enige kant af en jy kan kies tussen ‘n bank of twee skottelsitplekke.
Die 800 D word aangedryf deur ‘n 14,9 kW Yanmar-dieselenjin met ‘n tweespoed deurlopend-veranderlike ratkas, wat die beste wringkrag en brandstofekonomie teen enige spoed verseker. ‘n Dryfband van Kevlar dra die krag oor.
Viertrekaankrywing en die ewenaargrendel word elektronies aan- en afgeskakel.
Al vier wiele is onafhanklik geveer om met of sonder vrag op enige terrein ‘n ferm vastrap en gerieflike rit te verseker. Die Workmax is die enigste voertuig van sy soort wat kronkelvere met toenemende weerstand het.
Die bekendstelling van die Workmax by Greenfields se hoofkantoor op Mooirivier in Natal is deur Keith Hoskins van JCB in Engeland bygewoon. Hy sê met hulle produkreeks vir landbou en konstruksie, het hulle gevind dat voertuie met ‘n kajuit voor en laaiplek agter van veel meer nut is as die motorfiets-benadering.
Hy glo dat JCB met sy Greenfields-vennootskap in ‘n posisie is om aan die groeiende mark se behoeftes te voldoen. Greenfields is die alleen-invoerder van die Workmax en sal dit deur sy eie takke en uitgesoekte handelaars versprei.
Bestellings word ingewag by Greenfields. Skakel 033-263-1305 of stuur ‘n e-pos na csmart@greenagri.co.za.
Die nuwe JCB Workmax 800 D kan rats teen die bult uit met of sonder vrag. Vir ‘n groter vrag kan ‘n sleepwa ook aangehaak word.