Categories: NewsPublished On: 5th October 2011

Graanboer-van-die-jaar-aangewys

By 2 min read

Die Barnard-familie van Vlakplaas Boerdery naby Hoopstad is aangewys as Graanprodusent van die Jaar 2011.  Graan SA sê in ‘n verklaring mnr Koos Barnard en sy seuns, Kobus, Janes en Abraham funksioneer soos ʼn goed ge-oliede masjien en werk in perfekte harmonie saam. Hulle verbou hoofsaaklik mielies, met koring en grondbone as wisselbougewasse.  

Die Barnards kyk lank reeds nie meer na prys as R/ton nie, maar as R/ha. Volgens die verklaring is hulle ook terdeë bewus van die uitdagings wat landbou in Suid-Afrika inhou, maar voel dat dit elke produsent se keuse is om dit met ʼn positiewe of negatiewe gesindheid te benader.  Hulle deelname en lidmaatskap van Graan SA strek reeds sedert die SAMPI- en NAMPO-era en volgens hulle kan hulle nie dink dat ʼn graanprodusent sonder ʼn bedryfsorganisasie kan voortbestaan nie.  

Die ander finaliste in die kategorie was mnr George Barnard van Groblersdal en mnr Bennie van Niekerk van Prieska.

Die toekenningsgeleentheid het plaasgevind op Vrydag, 30 September 2011 by die Velmore Estate buite Pretoria en talle rolspelers oor die hele landbouspektrum het die geleentheid bygewoon. Syngenta is reeds vir etlike jare hoofborg van hierdie geleentheid en ook die borg van die Graanprodusent van die Jaar-toekenning.

Graan SA sê die toekennings is daarop gemik om erkenning te gee aan suksesvolle graanprodusente wat met passie en toewyding hul ondernemings sodanig bedryf dat dit ʼn voorbeeld en inspirasie vir ander kan wees.  

Ontwikkelende graanprodusent

Mnr Koos Mthimnkulu van Senekal is as vanjaar se Ontwikkelende Graanprodusent van die Jaar aangewys. Mnr Mthimkulu is op ʼn plaas in die Paul Roux-omgewing gebore waar hy op ʼn jong ouderdom take op dié plaas begin verrig het. Hy het op 26-jarige ouderdom na die plaas, Mieliebult, verhuis waar hy onder leiding van mnr. Frikkie du Preez kennis opgedoen het van implemente en gewas-aanplanting. In 2007 is hy die plaas, Astoria, deur die Departement van Landbou en Grondsake aangebied.  Hy is ʼn suksesvolle produsent en  word ondersteun deur sy seun, Clifford, wat saam met hom boer.  

Die ander finaliste in die Ontwikkelende Graanprodusent van die Jaar-kategorie was mnr Malefane Makubo van Witsieshoek en mnr Thando Lolwane van Bapong.
Absa is die medeborg van die geleentheid en ook die borg van die Ontwikkelende Graanprodusent van die Jaar-toekenning.

Graanwetenskaplike van die Jaar

Graan SA se Graanwetenskaplike van 2011 is Prof André Agenbag van die Universiteit van Stellenbosch.  Na die verwerwing van ‘n  BSc Agric graad in 1973 aan die Universiteit van Stellenbosch, verwerf hy ook sy MSc (1976) en PhD (1987) grade aan dieselfde universiteit. Gedurende sy professionele loopbaan het prof Agenbag  59 wetenskaplike en 90 populêre artikels gepubliseer. Die ander genomineerde in dié kategorie was mnr  Kobus van Zyl van Omnia.

Eretoekennings

Dr Jan Dreyer en Prof Alan Bennie het ook eretoekennings ontvang  vir hulle jarelange betrokkenheid as lede van die paneel beoordelaars vir die Graanprodusent van die Jaar-aanwysing.
 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0