Categories: NewsPublished On: 12th July 2011

Graan-SA-maak-sy-kunsmisverslag-bekend

By 5 min read
Die kunsmisbedryf is ‘n sleutelbedryf vir kommersiële landbou en daarom moet Graan SA se ondersoek met betrekking tot dié bedryf se struktuur en die meganismes wat die kunsmisprys bepaal, verwelkom word.
 
Kunsmis  maak ‘n aansienlike deel (Graan SA het  bereken tussen 25% en 45%) van ‘n graan- en oliesade-boer se lopende uitgawes uit. 
 
Dit  beteken dat na prysstygings, soos wat in 2008 voorgekom het, dit sommige boere nie meer geloon het om te plant nie. Boere is prysnemers en hulle kan nie bloot die hoër produksiekoste verhaal deur sy kopers meer vir sy produkte te vra nie. 
 
Die hoof oogmerk met die studie oor die kunsmisbedryf en kunsmispryse was om te bepaal tot hoe ‘n mate die prys in Suid-Afrika deur markkragte bepaal word, en hoe dit “versteur” word. 
 
Aangsien ‘n groot gedeelte van die land se kunsmis ingevoer word moes die plaaslike bedryf sowel as die internasionale bedryf in oënskou geneem word.
 
Die bedryf in Suid-Afrika
 
In 2008 het net drie maatskappye (Sasol, Omnia en Yara) 86% markaandeel in terme van verdienste in die kunsmisbedryf geniet. Indien Profert bygereken word het die vier maatskappye 94% van die verdienste ontvang. 
 
Die verslag meld dat dit voorgekom het asof die aanhoudende herstrukturering van die aanbodkant van die bedryf tot bedrywighede aanleiding gegee het wat die mededingingswet van Suid-Afrka oortree het. 
 
Die vermoede is bevestig na die mededingingskommissie verskeie sake ondersoek het. In een van die sake is bevestig dat die drie groot rolspelers saamgesweer het en dus hulle beheer oor die mark misbruik het.
 
Volgens die verslag word verskeie sake wat handel oor onmededingende bedrywighede binne die bedryf steeds ondersoek.
 
Die toekoms vir die bedryf in terme van gesonde kompetisie lyk egter aansienlik beter nadat Sasol verlede jaar met die kommissie ooreengekom het om vyf van sy streeksaanlegte te verkoop. Sasol sal voortaan slegs in die groothandel sake doen vanaf Sasol Nitro Secunda en drie verspeidingsentrums binne ‘n 100 km radius van Secunda en Sasolburg af.
 
‘n Kommerwekkende tendens is dat Suid-Afrika al hoe meer van kunsmisinvoere afhanklik raak. Volgens statistiek afkomstig van die Internasionale Kunsmisvereniging (2010) het die land in 1990 minder as 20% van sy kunsmisgebruik ingevoer. In 1999 het dit op 40% gestaan en in 2008 is 65% van Suid-Afrika se kunsmis ingevoer.
 
Hierdie situasie hou groot risiko vir boere in weens hoër prysbewegings veroorsaak deur die oorspoeleffek op die Suid-Afrikaanse mark. Dit hou ook die gevaar van moontlike leweringsprobleme weens onvoorsiene wêreldgebeure in.
 
Die Invloed van internasionale pryse op Suid-Afrikaanse pryse
 
Die studie het bevind dat internasionale prysveranderings nie geheel-en-al op Suid-Afrikaanse kunsmispryse oorgedra word nie. 
 
Daar is bevind dat ‘n groot deel van die verskil tussen internasionele en plaaslike pryse deur sogenaamde nie-beleidsfaktore veroorsaak word.  Voorbeelde wat genoem word is logistiese tekortkominge, kommersiële tekortkominge soos gebrekkige markinligting en institusionele beperkinge soos krediet- en ander regulerende wetgewing. 
 
Ander faktore soos die wisselkoers het ook ‘n noemenswaardigeinvloed op die prysverskil.
 
Volgens die studie reageer Suid-Afrkaanse pryse anders op opwaartse bewegings van internasionale pryse as afwaartse bewegings. Plaaslike pryse reageer vinniger wanneer internasionale prys toeneem of as die Rand waarde verloor as wanneer internasionale pryse afneem of as die Rand waarde wen.
 
Daar is egter geen betekenisvolle verband tussen die afname van die internasionale ammoniakprys en die plaaslike KAN-prys gevind nie. 
 
Die internasionale bedryf
 
Die studie het bevind dat ‘n veelvoud van vraag- en aanbodgedrewe faktore gesamentlik die oorsaak was vir die skerp styging van internasionale kunsmispryse in 2007 en 2008. 
 
Van die belangrikste oorsake was:
 
Stikstof
  • Die wêreldvoorraad van stikstof was laag.
  • Hoër aanvraag na stikstof weens hoër aanplanting van graangewasse.
  • Die algehele ekonomiese toestand het stikstof duurder gemaak om te vervaardig.
  • Die hoë olieprys het die vervoerkoste opgejaag.
  • Die hoë olieprys het die prys van aardgas beïnvloed wat die hoof grondstof vir die vervaardiging van stifstofkunsmis is.
  • Sjina het uitvoerbelasting ingestel wat beteken het dat sy stikstof internasionaal duurder geword het.
Fosfate
  • Hoër aanvraag na fosfate weens hoër aanplanting van graangewasse.
  • Die koste van fosfaatklip, swael en ammoniak, drie belangrike grondstowwe in die vervaardiging van DAP, het aansienlik gestyg.
  • Die hoë olieprys het die vervoer duurder gemaak.
  • Alhoewel die voorraadvlakke nie laag was tydens die rekordprysvlakke van kunsmis nie, was die voorraadvlakke wel baie laag in 2006 en 2007.
Kalium
  • Slegs ‘n paar maatskappye beheer die voorraad.
  • Hoër aanvraag weens hoër aanplanting van graangewasse.
  • Kaliumchloried pryse het in 2007 begin styg weens ‘n tien jaar laagtepunt in voorraadvlakke. Vlakke was terug na normaal in 2008 maar die prys van kaliumchloried het aanhou styg tot aan die einde van die jaar.
Aanbevelings
 
Die verslag beveel aan dat die kunsmisbedryf op ‘n deurlopende grondslag deur die mededingingskommissie gemonitor word. Andersins moet die kommissie die bedryf bystaan om homself te monitor.
 
Verder word aanbeveel dat die regering deur middel van die Departement van Handel en Nywerheid en die Nywerheidsontwikkelingskoöperasie die kunsmisbedryf vernuwe. Wanneer so swaar op kunsmis-invoere gesteun word kan dit boere se vermoë om bekostigbare voedsel te produseer strem.
 
Die verslag meld dat multinasionale kunsmismaatskappye aanvoer dat ‘n onsekere sake-omgewing in Suid-Afrika hulle daarvan weerhou om op groot skaal kapitale beleggings in die land aan te gaan. 
 
Die koste van vervoer het volgens die verslag ook ‘n groot invloed op kunsmispryse. Padvervoer is die enigste manier aangesien spoorvervoer die afgelope dekade baie agteruit gegaan het en onbetroubaar geword het. Die spoorlyn tussen Phalaborwa en Richardsbaai is ook onvoldoende om genoeg grondstof vir die veraardiging van MAP te vervoer.
 
Laastens lui die verslag dat die moeilike toegang tot inligting en die gebrek aan deursigtigheid in die kusmisbedryf kommer wek. Maniere moet gevind word om die vloei van inligting te verbeter, veral as dit kom by prysinligting.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0