Categories: NewsPublished On: 13th January 2012

Goeie vooruitsigte vir melkboere

By 2 min read

Melkboere kan weer bietjie asem skep nadat Parmalat produsenteprysverhogings met ingang van 1 Februarie 2012 aangekondig het. Volgens die MPO sal UHT-melkprodusente in die Wes-Kaap ʼn verhoging van 25 sent per liter ontvang,  en kaasmelkprodusente in die Wes- en Suid-Kaap sal 28 sent meer per liter  ontvang.  Alle Oos-Kaapse produsente kan 35 sent per liter meer verwag.

Hoewel mnr Bertus de Jongh, hoofuitvoerende beampte van die MPO hierdie nuus verwelkom het, het hy weer eens die MPO se standpunt oor die huidige produsentepryse bevestig. Volgens mnr De Jongh kan die huidige produsentepryse nie die volle ekonomiese koste van produksie dek nie en is daar dus dringend opwaartse aanpassings nodig.

Produsente wat bereid is om langtermynkontrakte met Parmalat te sluit, sal in Januarie 2012 eenmalig 20 sent per liter ontvang, gegrond op Desember 2011 se melklewering. Produsente word egter gemaan om alle beskikbare opsies te oorweeg, aangesien dit ongewoon is dat finale produsenteprysverhogings reeds in Januarie aangekondig word.

Tien jaar oplewing in suiwelbedryf

Tetra Pak verwag dat die suiwelbedryf  ʼn dekadelange oplewingsperiode tot 2020 sal geniet. Volgens die nuutste Tetra Pak Suiwelindeks sal die vraag na vloeibare melk na verwagting met 30% toeneem. Hierdie groot toename in verbruik word hoofsaaklik gedryf deur ekonomiese groei, verstedeliking en die groeiende koopkrag van die Asiatiese middelklas.

Die verslag dui aan dat die totale verbruik van verpakte melk in ontluikende markte die totale verbruik van losstaande melk teen 2014 sal oortref. Dit  spruit uit die ekonomiese ontwikkeling en verstedeliking wat die vraag na gesonde en gerieflike produkte dryf. Volgens Tetra Pak se navorsing sal die wêreldvraag vir alle vloeibare suiwelprodukte van 270-miljard liter in 2010 na 350-miljard liter in 2020 toeneem. Die vraag na ander vloeibare produkte soos gegeurde melk, drinkjoghurt en baba- en peutermelk sal in die tydperk tot 2020 met 60% toeneem. Die vraag na vloeibare suiwelprodukte in Afrika sal na verwagting oor die volgende dekade met 50% toeneem. Dit is gelykstaande aan vyf keer die huidige Suid-Afrikaanse produksie.

Uitvoer skitter in 2011

Die uitvoer van alle suiwelprodukkategorieë het laas jaar skerp gestyg. Die totale uitvoer van Suid-Afrikaanse suiwelprodukte het van 2010 na 2011 met 30% gestyg en ’n indrukwekkende 43 600 ton suiwelprodukte is na Afrika en elders uitgevoer. Melk- en karringmelkpoeieruitvoere het verdubbel teenoor die 2010-vlakke, botter-uitvoere het met 69% toegeneem, terwyl UHT-uitvoere met 17% en kaasuitvoere met 14% toegeneem het.

Op ʼn melkekwivalentebasis is ʼn totaal van 97-miljoen liter melk en suiwelprodukte uitgevoer. Die totale invoere, in vergelyking, het met 17% tot 42 010 ton of 149-miljoen liter melkekwivalent toegeneem. Dit is gelykstaande aan 5,6% van die totale plaaslike produksie. Op ʼn netto basis is minder as 2% van die plaaslike produksie gedurende 2011 ingevoer.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0