Categories: NewsPublished On: 8th September 2011

Goeie nuus vir wolboere

By 3 min read
580 words

Suid-Afrika kan eersdaags weer ruwol (onverwerkte wol) na Sjina uitvoer nadat Suid-Afrikaanse en Sjinese owerhede ’n ooreenkoms bereik het oor die uitreik van gesondheidsertifikate met betrekking tot slenkdalkoors.

Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het pas aangekondig dat die Chinese kwarantynowerhede ’n nuwe gesondheidsertifikaat vir die uitvoer van ruwol na dié land goedgekeur het.

Ona Viljoen van Cape Wools sê ingevolge die ooreenkoms sal alle wol wat geskeer is drie maande ná die laaste aangemelde geval van slenkdalkoors in ’n munisipale gebied, kwalifiseer vir uitvoer na Sjina. Die Sjinese kwarantynowerhede het ook aangedui dat hulle die nuwe sertifikate van 15 September af sal wil gebruik.
    
Wol wat geskeer word terwyl ’n munisipale gebied nog met die siekte besmet is, sal nie kwalifiseer nie. ’n Provinsiale staatsveearts kan egter ’n vrywaringsertifikaat vir ’n plaas uitreik wat sertifiseer dat daar in die drie maande voor die skeerdatum geen geval van slenkdalkoors op die plaas aangemeld is nie.
 
Só ’n sertifikaat moet die plaas duidelik identifiseer, die produsentenommer, die aantal bale in die skeersel en die kontakbesonderhede van die veearts bevat.

Hoewel wetenskaplike bewyse bestaan dat slenkdalkoors nie deur wol versprei word nie, het die Sjinese kwarantynowerhede ná die uitbreek van die siekte in Februarie 2010 daarop aangedring dat ’n staatsveearts elke besending onverwerkte wol wat vir Sjina bestem was, sertifiseer dat dit uit ’n gebied kom wat vry van die siekte is.

Sjina is die enigste land wat op ’n gesondheidsertifikaat vir slenkdalkoors aandring ondanks die feit dat hy ’n ondertekenaar is van die internasionale organisasie vir dieregesondheid se kode van 2009 wat bepaal dat slenkdalkoors nie deur wol, huide of velle versprei word nie en dus nie meer op gesondheidsertifikate aangedui hoef te word nie.

Uitvoerprobleme het ontstaan toe die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye in Augustus 2010, net voor die aanvang van die 2010/’11-verkoopseisoen, aangekondig het dat dit onmoontlik was om voort te gaan om wol te sertifiseer weens die wydverspreide voorkoms van die siekte.

Dit het die uitvoer van ruwol na Sjina ernstig beperk. Verwerkte wol kon egter nog daarheen verskeep word.
    
Sjina, wat hoofsaaklik onverwerkte wol invoer, was voor die uitbreek van slenkdalkoors die grootste invoerder van Suid-Afrikaanse wol. Dié land het die 2009/10-seisoen onverwerkte wol ter waarde van R933 miljoen ingevoer.     

Ondertussen het wolpryse verstewig op vandeesweek se veiling, die derde veiling van die nuwe seisoen, en Cape Wools se Merino-aanwyser het met 0,8% gestyg tot R95,11/kg (skoon).

In Australië het pryse ook vir ’n tweede agtereenvolgende week verbeter nadat dit aanvanklik in die eerste paar weke van die Australiese verkoopseisoen teruggesak het.

Hoewel die mark nog nie heeltemal koers gekry het nie, is voorlopige aanduidings dat pryse redelik stewig sal bly. Dit is egter nog onseker watter uitwerking die skuldkrisis in Europa op die vraag na wol sal hê.

Die rand was 1,4% swakker teenoor die Amerikaanse dollar vergeleke met verlede week, wat pryse ondersteun het.  

Altesame 7 651 bale is aangebied waarvan 98% verkoop is. Die vetwoluitvoerder Standard Wool het bykans 45% van die aanbod gekoop.    

Die gemiddelde skoonwolpryse van die lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) pryse was soos volg: 19 mikron was onveranderd op R114,65/kg, 20 mikron was 1,1% duurder op R103,31/kg, 21 mikron styg met 0,5% tot R99,14/kg en 22 mikron verstewig met 1,4% tot R95,32/kg.

Sowat 5 000 bale sal volgende week aangebied word.
 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0