Categories: NewsPublished On: 5th July 2010

Goeie nuus vir spilpuntboere: Stuit kabeldiewe in hulle spore!

By 3 min read
640 words

Die irriterendste pes wat spilpuntboere pla is kabeldiewe.

’n Boer werk jare lank hard en met groot opofferings om sirkels voor te berei en spilpunte te koop en op te rig om sy roeping as boer beter te kan uitleef en die volk van kos te voorsien.

Maar nou moet hy dikwels ewe skielik vind dat sy spilpunt en produksie tot stilstand kom as gevolg van gewetenlose skurke wat sy spilpunt se elektriese kabel kom steel.

Daar staan ’n derduisende rande se spilpunt soos ’n nuttelose stuk skroot terwyl jou gewasse verwelk en verskrompel – en die boer moet haastig ’n plan beraam om ten duurste nuwe kabel te koop anders is sy verlies aan produksie veel meer as ’n stuk kabel.

’n Viertoringspilpunt se kabel kos so R20 000, en diewe wat dit gesteel het verkoop jou peperduur kabel soms vir so min as R1 500 – hulle gee mos nie om wat kry hulle vir ’n ding waarvoor hulle nie betaal het nie.

En koop jy nuwe kabel, dan kom steel hulle maar net weer. Die boer werk hard en kan immers nie sy spilpunte 24 uur per dag oppas nie.

Een boer wat al groot skade gely het deur skunnige kabeldiewe, is Niel Terblanche van die Loskopvallei. Hy boer met katoen, mielies en groente. Daarvoor gebruik hy elf spilpunte en ’n swetterjoel goukoppelpype wat hy ook stelselmatig met spilpunte wil vervang.

Maar dit is bitter moeilik om te boer terwyl jy deurlopend deur skelms geterroriseer word.

“Hulle kom steel jou kabel selfs terwyl die spilpunt loop,” vertel Niel, “en die volgende môre kom jy op jou land op ’n versuipte pappery af waar die spilpunt op een plek bly staan en spuit het.”

Dis die koper in die kabels wat so gesog is en skelm skrootmetaalhandelaars verseker dat daar ’n afsetgebied vir diewe is.

In ’n poging om die koperdiewe te fnuik het verskaffers met alumi­niumkabel na vore gekom. Ongelukkig lyk dié van buite maar net soos ’n koperkabel. Diewe kap dit steeds af en as hulle dan agterkom dis aluminium en nie koper nie, is hulle so kwaad vir die boer dat hulle sy spilpunt se sprinkelaars stukkend slaan net om hom te straf, vertel Niel.

Niel het selfs lemmetjiesdraad om sy spilpuntpype gewoel om kabeldiewe te probeer keer, maar dit het niks gehelp nie – hulle knip en kap dit bloot af.

Maar ’n boer gaan nooit lê nie en maak altyd ’n plan. En die puik plan om kabeldiewe te stuit kom van Rudi Kirstein van Waterberg Elektries:

Teen sowat die helfte van wat ’n elektriese kabel kos, bring Waterberg Elektries monte­rings bo-op jou spilpunt aan en span dan gewone staaldraad op ordentlike isolators om die krag te gelei. Dit is vir diewe glad nie die moeite werd om gewone staaldraad te steel nie.

Hulle kan ook van ver af sien dat daar by so ’n spilpunt niks te steel is nie en ontsien die moeite om dan in die land in te loop om ander skade aan te rig.

Waterberg Elektries se plan het kabeldiefstal by Niel se spilpunte summier stopgesit, want daar ís niks om te steel nie. Soos wat kabel gesteel word, laat kom hy Waterberg Elektries se mense en binne ’n dag of twee is ’n spilpunt genees van kabeldiefstal.

Met hierdie vernuftige plan stel Waterberg Elektries boere in staat om weer hulle aandag aan hulle boerdery te wy – en gee elke eerbare mens die groot lekkerkry van die wete dat kabeldiewe se sluwe planne gefnuik is.

Wil jy ook ’n slag teen kabel­diewe slaan? Praat met Rudi Kirstein van Waterberg Elektries by 082-823-9535 of 014-755-3595.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0