Categories: NewsPublished On: 9th December 2011

Goeie nuus vir melkboere

By 1 min read
243 words

Melkboere het hierdie week goeie nuus ontvang toe verdere produsenteprysverhogings aangekondig is. Die Melkprodusente-organisasie berig in sy weeklikse nuusbrief dat Clover produsente landwyd in kennis gestel het dat hulle vanaf 1 Februarie 2012 ʼn verhoging van 22 sent per liter sal ontvang. Produsente vir Nestlè gaan van 1 Januarie 2012 af verhogings van tussen 9 en 12 sent per liter ontvang. Mnr Bertus de Jongh, hoofuitvoerende beampte van die MPO het gesê dat die onlangse prysverhogings welkome verligting bring vir produsente wat onder finansiële druk verkeer en dat meer verhogings in die nabye toekoms verwag word.

Ondertussen is op ‘n hoofbestuursvergadering van MPO Wes-Kaap met kommer kennis geneem van die swak finansiële posisie waarin dié provinsie se melkprodusente hulle tans bevind en die potensiële invloed daarvan op melkvoorsiening in 2012. Vrese bestaan dat hoë insetkoste in samehang met onvoldoende produsentepryse sal lei tot ‘n verlaging in melkproduksie.

Daar is wel kennis geneem van die produsenteprysverhogings wat deur sommige melkkopers aangekondig is. Mnr Philip Blanckenberg, voorsitter MPO Wes-Kaap het produsente gemaan om deeglik te besin voordat langtermynkontrakte met kopers gesluit word aangesien die moontlikheid van verdere prysverhogings vroeg in 2012 bestaan.

Internasionale pryse stewiger

Op die Fonterra globalDairytrade-internetveiling van 6 Desember 2011, was suiwelprodukpryse gemiddeld 2,6% hoër as met die vorige verkoping op 15 November. Die bottervetprys het met 12% gestyg, karringmelkpoeier met 14%, cheddar met 2%, afgeroomde melkpoeier met 2,6% en volroommelkpoeier met 2%. Die globalDairytrade handelgeweegde indeks (gDT HGI) staan op 1 114, die hoogste vlak sedert Julie 2011. 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0