Categories: NewsPublished On: 10th November 2011

Goeie geleenthede in Georgië

By 3 min read

“Dit is geen grap om in Georgië kommersieel te begin boer nie, maar die groot verskil met Suid-Afrika is dat die regering hier wil hê dat ons boerdery suksesvol moet wees,” sê mnr Piet Kemp, ‘n Suid-Afrikaanse boer wat nege maande gelede in Georgië gevestig het.

Die plaas wat hy namens ‘n konsortium met buitelandse en binnelandse vennote bestuur, is sowat 50 km oos van die hoofstad Tbilisi geleë. Daar is 750 hektaar onder besproeiing en ‘n verdere 550 hektaar is in aankoop.

Piet, wat deur die plaaslike inwoners as “Mister Piet” aangespreek word, het reeds sy eerste mielie en koring-oeste afgehaal, maar dit was nie ‘n groot sukses nie. Die streek het ‘n rare droogte beleef en die besproeiingstoerusting wat bestel is, het nie betyds opgedaag nie. Kort nadat hulle begin besproei het, het ‘n haelstorm en sterk wind verdere skade veroorsaak. Die gemiddelde opbrengs van die 250 ha koring was 3 t/ha en by die 500 ha mielies was die beste opbrengs 4 t/ha.

Die pryse waarteen verkoop word, is darem so 1,5 keer hoër as in Suid-Afrika.

Piet is vol vertroue dat hy meer sukses met sy volgende aanplantings gaan behaal en hy is kliphard besig met grondvoorbereiding. Die woord, kliphard, is ook nie ‘n oordrywing nie. Die grond is baie klipperig en bestaan uit 35% klei. Soos Piet sê: “Dit is nie ‘n man se maat nie. Jy moet hom droog werk.”

Die grond is egter baie vrugbaar en omdat daar nie ‘n spesifieke reënseisoen is nie, kan daar amper regdeur die jaar geplant word. Die koring moet net in die grond wees voor die sneeu kom! Die koudste maande is Januarie, Februarie en Maart.

Baie ander werk het reeds in die nege maande gebeur. Bestaande waterkanale is opgeknap en uitgebrei om ‘n 80 km netwerk tussen die lande te vorm. In die kanale is op verskeie plekke damme gebou waaruit die besproeiing met behulp van waterkanonne plaasvind. Om die lande meer toeganklik te maak, is 40 km se paaie geskraap. Die land het ‘n gebrekkige markstelsel en Piet moes ook dringend silo’s oprig vir graanberging en droërs bekom sodat die strooptyd vervroeg kon word.

Hy kyk nou saam met sy vennote na die moontlikheid om ‘n vark- en hoenderboerdery te begin en ook ‘n voerkraal vir beeste.

Die groot uitdaging wat Georgië het is om vanuit ‘n stelsel van bestaansboerdery na kommersiële produksie te beweeg.

 

Die swart turfgrond in Georgië is klipperig, maar vrugbaar.

Juba Maruashvili (middel) is die projekkoördineerder vir die Suid-Afrikaanse/Georgiese landbouprojek. Links is die 24-jarige Schalk Kruger wat ook as deel van ‘n konsortium daar gaan begin boer en regs is Piet Kemp wat al goed ingeburger is.

Die projek word in samewerking met TLU SA bedryf en mnr Bennie van Zyl, hoofbestuurder, sê die doel is nie om Suid-Afrikaanse boere “uit te voer” nie, maar om beleggingsdeure oop te maak in ‘n land wat vooruit wil gaan. Vir meer inligting besoek www.boers.ge.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0