GM-mielies in Suid-Afrika oor 16 jaar
2015 was die 20ste jaar van die wêreldwye aanplanting van GM-gewasse, in Suid-Afrika is dit nou 18 jaar. So sê Andrew Bennett, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Landboubiotegnologie Industrie by die jaarlikse GMO-perskonferensie wat in Pretoria gehou was. Die eerste GM-gewas in Suid-Afrika, naamlik katoen, is in 1998 aangeplant. GM-geelmielies is in 2000 op slegs 3 000 ha geplant. Van 2000 tot 2015, in 16 jaar, is bykans 20-miljoen ha GM-mielies akkumulatief geplant met ‘n opbrengs van meer as 50-miljoen MT graan.
Boere se aanvaarding van die nuwe tegnologie het teen ‘n ongekende tempo toegeneem. GM-mielies het ‘n toppunt van ‘n aanvanklike 3 000 ha tot ‘n rekord 2,36 miljoen ha in 2013 bereik. Dit maak van biotegnologie die vinnigste gewastoename in onlangse jare. Suid-Afrika is negende op die globale ranglys vir die produksie van GM-gewasse.
In 2015 het die ergste droogte in 35 jaar gemaai onder biotekgewasse in Suid-Afrika. Die hektaar vir alle GM-gewasse het met 700 000 ha (25%) gedaal, van ‘n voornemende 3-miljoen ha na 2,3-miljoen ha (2,7 miljoen ha in 2014). GM-mielies is op 1,8-miljoen ha geplant teen ‘n aanname van 90% (2,14-miljoen ha in 2014). GM-sojabone was teen ‘n aanname van 95% op 508 000 ha (522 000 ha in 2014) en GM-katoen op 12 000 ha, 100% GM (8 000 ha in 2014).
Ekonomiese aanwins vir Suid-Afrikaanse boere van GM-gewasse, 1998-2014 word bereken op VS$1,8-miljard en VS$245-miljoen in 2014 alleen. Droëland opbrengs van mielies voor die aanwending van GM-mielies was 1,5t/ha. Vandag is die gemiddelde opbrengs met GM-mielies 5t/ha, ‘n toename van 70%. GM-mielies onder besproeiing wissel van 12t/ha tot 20t/ha.
Volgens Wandile Sihlobo, ekonoom van Graan SA, is dit nodig, as gevolg van die mielietekort weens die droogte, dat Suid-Afrika tussen R13-miljard en R14-miljard tussen Mei vanjaar en April 2017 sal bestee om 3,8-miljoen ton mielies in te voer om aan ons behoeftes te voldoen.
Dit is interessant om daarop te let hoe veel meer tonne mielies Suid-Afrika sou moes invoer as dit nie vir GM-mielies en die jongste biotegnologiese en modern mielie-kiemplasma was nie.
Die 1991/92-seisoen was die laaste droogte wat Suid-Afrika ondervind het voor die aanwending van GM-gewasse. In daardie jaar was die gemiddelde mielie-opbrengs 0,85t/ha. Die 2014/15- en 2015/16-seisoene was albei droogtejare. Met die aanvaarding van GM-mielies is die gemiddelde opbrengs vandag 3,72t/ha.
As dit nie vir GM-mielies was nie en ons opbrengs was nog 0,85t/ha, sou ons slegs 1,65-miljoen ton mielies geproduseer het. Om aan SA se plaaslike behoeftes te voldoen sou ons 9,4-miljoen ton moes invoer in plaas van 3,8-miljoen ton, teen ‘n geraamde bykomende koste van R33-miljard.
Die eerste WEMA (Waterdoeltreffende Mielies vir Afrika) Drought Tego WE 3127 nie-GM witmieliebastersaad is deur die Landbounavorsingsraad (LNR) in die 2014/15-seisoen aan nuweling boere in vyf provinsies bekendgestel. In Limpopo het opbrengste van 0,6t/ha na 1,4t/ha gestyg. In Noordwes het vier nuwelingboere hulle opbrengste van 1,5t/ha na ‘n gemiddeld van 2t/ha vermeerder. ‘n GM-droogtebestande mielie sal na verwagting in 2017 beskikbaar wees.
Navorsers aan die Purdue Universiteit, VSA, het bereken hoe die wêreld daar sou uitsien indien GM-gewasse uit die Amerikaanse landbou verwyder sou word. Hulle gevolgtrekking was dat mielieopbrengste met 11,2% en sojabone met 5,2% sal daal. Meer dramaties is katoen se daling met 18,6%. Om die leemtes te vul sal 250 000 akker VSA-bosplantasies, -weidings en globaal 2,7-miljoen akker omskep moet word vir gewasproduksie. Daarbenewens sal kommoditeitpryse skerp styg – mielies met 28% en sojabone met 22%.
Die veiligheid van GM-gewasse, insluitend voedsel en veevoer afkomstig daarvan, word onderstreep deur die miljoene boere wêreldwyd wat die gewasse elke jaar, die afgelope 20 jaar plant. Volgens die Industrie is daar nie ‘n enkele geval van wetenskaplik of medies gestaafde nadelige gevolge vir mense, diere of die omgewing êrens ter wêreld nog aangemeld nie. Nogtans hou anti-GMO-aktiviste vir die afgelope 20 jaar vol dat GM-gewasse ‘n gesondheidsgevaar vir die mensdom inhou.
Een van die mees kritiese veldtogte is teen glifosaat – die wêreld se onkruiddodermarkleier die afgelope 40 jaar in 130 lande. Die bewerings is dat dit kankerwekkend is. Die EFSA (Europese Voedselveiligheid-owerheid) het hierdie bewerings summier verwerp en verklaar: ”Dit is onwaarskynlik dat glifosaat ‘n kankerwekkende gevaar vir mense inhou.” Die Kanadese Gesondheidsowerheid het gevolg met ‘n ewe sterk verwerping van die aantygings: “Dat glifosaat geen gesondheidsrisiko inhou vir boere of ander beroepe wat die produk hanteer nie.” Honderde wetenskaplike instansies wêreldwyd het hulle hiermee vereenselwig.
Aktiviste wat in Europa aangedring het op die verbanning van glifosaat, het bloedneus in die EU-parlement gekry. Op 13 April 2016 het die parlement besluit om glifosaat vir gebruik in die volgende sewe jaar te bekragtig. In 2012 is glifosaat wêreldwyd op 120 miljoen ha GM- en nie-GM-gewasse aangewend.
Afrika
Aanvaarding van GM-gewasse in Afrika neem toe. Beperkte veldproewe word tans gedoen in Burkina Faso, Kameroen, Egipte, Ghana, Malawi, Nigerië, Swaziland en Uganda. GM-katoen word reeds suksesvol verbou in Burkina Faso en Soedan. In 2015 het Soedan sy GM-katoenproduksie met 30% verhoog na 120 000 ha (90 000 ha in 2014). Egipte het ook in die verlede GM-mielies geproduseer. Produksie is tans tydelik gestaak.
Globaal
In 2015 het 18-miljoen boere in 28 lande 179,7 miljoen ha GM-gewasse geplant. Daar is ‘n een persent afname vanaf 2014 en dit word toegeskryf aan droogtes in baie streke en dat die meeste vername GM-lande, Suid-Afrika ingesluit, versadigde aanvaarding vir die meeste GM-gewasse bereik het.
Bron: Hans Lombard Skakelkonsultante, LBI – Suid-Afrikaanse Landboutegnologie Industrie