Categories: NewsPublished On: 20th January 2012

Gesonde boerdery vereis gesonde grond (d)

By 5 min read

Oppasgrond is hougrond.

Wie ook al wil aanhou boer in die veranderende klimaatsomstandighede wat voorlê, sal slegs daardie boere wees wat die gesondheid van hulle grond die hoogste prioriteit gee en ook in ander opsigte bekwaam boer.

COP 17 het gekom en gegaan. Nie almal is tevrede dat hulle gesigspunte en belange behoorlik verreken is nie. Die landbou as bedryf is een van die belangeterreine wat die regstreekse gevolge van klimaatsverandering gaan ervaar en wat skerper sal moet dink en bereid sal moet wees om die ingrypendste aanpassings te maak.

Driedubbele knyptang

Benewens die bekende kosteknyptang wat al baie dekades lank boere se keuses beïnvloed, tree daar algaande nuwe variasies op hierdie ou tema na vore.
Die getal mense wat die aarde bewoon, het onlangs die sewemiljard-kerf verbygesteek. Die fyn balans in die ekostelsel word toenemend ontwrig deur oorontginning en vernietiging van substelsels. Reënwoude word stelselmatig uitgekap, die seebronne word sonder perk leeggevang, savannevelde verwoestyn as gevolg van swak bestuur en oorbeweiding, hoëpotensiaal landerye word benut onder al groter wordende produksiedruk ver buite die volhoubare en redelike grense.

Al die menigtes soek kos en blyplek en hunker na ‘n beter lewenstandaard. Om in al daardie behoeftes te voorsien, word vrugbare lanbougrond toenemend ingeperk. Ekstra woonplek word benodig en die toenemende vraag na grondstowwe om nywerheidsprodukte en energie te voorsien, verminder die beskikbare landbougrond amper gewetenloos.

Benewens die klimaat wat groter druk op boere se keuses en oorlewing gaan plaas, gaan daar ook die toenemende faktor van owerheidsbemoeiing met landbousake wees. Regerings regoor die wêreld sal al meer aandag aan volgehoue voedselsekerheid moet gee om in die behoeftes van hulle groeiende bevolkings te voorsien.
Ons troos is dat verantwoordelike boere wat hulle grond oppas en opbou, hierdie driedubbele knyptang die beste die hoof sal kan bied.

Volhoubare landbou — ‘n nuwe dimensie

Die volhoubaarheid van landbou se vermoë om die wêreld te voed, is ‘n globale probleem wat bepaal gaan word deur regerings se sosio-ekonomiese inslag en vermoëns en hoe hulle gesamentlik gaan optree. Dit is die groter prentjie en nie binne tasafstand van die gewone boer nie.
Daar is egter ‘n ander kant aan die saak. Solank boere eienaars van hulle grond is en bereid is om getel te word in die ry van betroubares en bekwames wat hulle verbind om hulle grond volhoubaar te benut vir optimale produksie, sal hulle in aanvraag wees. Geen kollektief, hetsy korporatief of ideologies gedrewe, kan meeding met die toewyding, sorg en sorgsaamheid van die indiwiduele boer wie se boerdery sy en sy gesin se lewe en lewenstog is nie.
Dit is die kleiner prentjie. Dit is egter die enigste plek, daarom ook die belangrikste plek, waar die landbouer binne tasafstand van die oplossings is. Elkeen op sy eie plaas!

Verantwoordelike grondboere sal die pyp rook

Om grondboer te bly, sal ons onsself op die hoogte moet bring en daarna op die hoogte moet bly van wat die grond van ons verlang vir volhoubare boerdery binne die gegewe klimaatstoestande.

Ons moet dan daarby aanpas en daarvolgens bestuur terwyl ons onsself deurlopend bemagtig met meer kennis oor ons primêre hulpbron; nie om in die eerste plek meer geld te maak nie, maar om die grond se vermoë om aan te hou om plante te produseer, te beskerm en op te bou.
Alleen dan sal ons en ons nageslag in staat wees om aan te hou boer, gegewe deurlopende aanwending van onvermoeibare kennis, breinkrag en energie. Die minder grond sal al meer gesond gehou en opgebou moet word om al meer te produseer.

Die kleinste prentjie lê onder die grote

Wat ons bo-op die grond wil sien, is die positiewe uitkomste, hetsy gesonde weiding, diere, bome en struike of gesaaides.
Ons het in vorige aflewerings beklemtoon hoe belangrik dit is om die lewe binne die grond, die grond se eie lewe, in stand te hou deur wat ons bo-op die grond en daarbinne doen, omdat dit per slot van rekening is wat landbouproduksie op die lang termyn kan onderhou en ons aan die lewe gaan hou. Verdere roofbou is uit!

Ons het ook aangedui dat die lewe binne die grond verband hou met die hoeveelheid gebinde koolstof in die vorm van plant- en dierereste as deklaag, wat enersyds die grond self beskerm teen regstreekse son, wind en reën en andersyds die tussenstadium is wat humusvorming moontlik maak.
In die nuwe klimaatstydperk wat kom, sal ons grootste taak wees om landbou so te bedryf dat ons koolstof kry waar dit hoort; CO2 uit die lug geabsorbeer in gesonde plante en diere en met minimum vrystelling van ons kant af deur ‘n onbesonne bestuur- en leefstyl.

Uitsonderlike eienskappe van humus

Humus ontstaan hoofsaaklik uit organiese materiaal, maar het bykomstige besondere en nuttige eienskappe. Die ontstaan van humus volg ‘n ingewikkelde proses soos hierna uiteengesit:

Die humifikasieproses:
Alles begin by ORGANIESE MATERIAAL BO-OP DIE GROND

1. Ontbindingsproses
Erdwurms, plante, plantwortels en sekere mikro-organismes sterf.
Bepaalde mikro-organismes breek dit af tot koolhidrate, proteïen en lignien.

2a. Verdere afbreekproses = mineralisasie
Oor die kort termyn word die koolhidrate, proteïen en lignien verder afgebreek na koolsuurgas, water, ammonium-, fosfaat- en sulfaatione.

2b. ‘n Gelyklopende maar stadiger opbouproses
Nuwe verbindings vorm wat nie in plante en organismes voorkom nie.
Gespesialiseeerde mikrobes vorm ander nuwe strukture uit die koolhidra-te, proteïen en lignien, naamlik nuwe stabiele, komplekse polimere met geheel ander en unieke eienskappe. Dit word humus genoem.

3a. Die opbouproses = sintese
Die bogenoemde gemineraliseerde elemente word deur plante en mikro-organismes as kitskos opgeneem vir die sintese van nuwe lewende weefsel.

3b. Humus as oorlewingspakkie
Uit die humus se komplekse strukture word stadig en oor tyd energie en voe-ding aan sowel die mikrobes, die ge-willige werkers, as aan plante verskaf.

Humus skep ‘n gebalanseerde grondvoedingstatus vir plante.
Dit begin alles by ‘n gesonde bedekking van die grond met organiese materiaal.
Humus skep ‘n gunstige fisiese en chemiese omgewing vir plantegroei.

Al sien ons nie aldag wat hierbo gesê is en binne die grond gebeur nie, moet ons dit weet.Deur dit te weet, kan ons ons grond reg bestuur.

Deur reg te bestuur, sal ons die regte vrug op ons arbeid geniet. Dan alleen kan ons hoop om volhoubaar te boer!

 

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment