Categories: NewsPublished On: 23rd December 2011

Gesonde boerdery vereis gesonde grond (c)

By 8 min read

Hoe pas ek my grond op?

Om grond te mag hê, is ‘n wonderlike voorreg wat nie elkeen beskore is nie. Kom ons maak die meeste daarvan en vergoed daarvoor met goeie sorg. Meer as ooit tevore mag ons nie maar net grondbesitters wees nie. In wese moet ons daarna strewe om land-bouers te wees!

In die voorafgaande artikels het ons begin om die gewoonlik onsigbare en dikwels gering geskatte, maar wonderlike leefwêreld van die klein skepseltjies binne en bo-op die grond van nader te bekyk en hoe dit die gesondheid van ons grond beïnvloed. Verder ook hoe daardie kleintjies se welwese ook uiteindelik ons eie gehalte van lewe bepaal. Ons, die kroon van God se skepping – ons, aan die bo-ent van die voedselketting.

Dit het ons nuuskierigheid geprikkel om meer daarvan te wil weet sodat ons, deur hoe ons die grond boer, God se kultuuropdrag van “Pas My skepping op!” kan gehoorsaam. Weliswaar is dit ook ter wille van ons eie selfbehoud, as deel van ons verantwoordelikheid teenoor onsself en die geslagte wat kom.

Ons moet dieper kyk vir beter begrip van die komplekse skepping wat lewe moontlik maak en onderhou – van mikrogrondlewe tot die elemente en kragte van klimaat, aarde en hemelruim, wat as funksionele kosmiese orde alleen kan bly voortbestaan solank die fyn balans standhou. Indien nie sal alles noodwendig tot niet moet gaan.

Terselfdertyd sal ons, as ons wyer kyk, die onheilspellende waarskuwings ter harte neem van toenemende misbruik en ooreising van die grondhulpbron deur groter wordende oningeligte mensegetalle. Nie net is daar die druk op die aardbodem vir ‘n laaste krieseltjie kos deur sommiges nie, nee, daar is ook nog die erger druk van ‘n voorspoed gedrewe opvatting oor lewensvervulling soos die norm die afgelope halfeeu was. Groter en blinker is beter!

Hoe verantwoordelike boere boer, hoe hulle hul verantwoordelikheid bedink en uitleef in verhouding tot die krimpende grond- en waterhulpbron, sal uiteindelik bepaal of hulle inderdaad nog langer die kroon van die skepping is.

Dwingende besef van verantwoordelikheid

Die bekende parameters van ‘n gemiddelde kommersiële landbouer se bestaan en waarom sy lewe behoort te draai, is sy grond, sy finansies en sy ambisies. Hoe beter sy grond, des te beter sy finansies en hoe groter sy ambisies – as alle ander dinge gelyk is. ‘n Wyse boer is een wat met rustige oorleg die relatiewe waarde van daardie sake in balans kan bring en hou. Al drie eis ‘n gelyke maat van toewyding. ‘n Wyse boer is ook nie altyd die grootste of rykste nie. Ook hier is balans die kritieke faktor.

Alte dikwels dwing bepaalde landsomstandighede van politiek en veiligheid om daardie balans te versteur vanweë nuwe onsekerhede wat dit aan ons opdwing. Ook ten opsigte daarvan is ons egter strategies geposisioneer om voedselsekerheid te optimaliseer. Maar, dan moet ons juis daarom steeds die grond se gesondheid vooropstel.

Die goue weg is om aan te hou om die regte dinge reg te doen. Ook die klein dingetjies.

Uitkomsgerigte bestuur

Dit is net reg dat ons strategies beplan ten opsigte van ons finansiële mikpunte op ‘n jaar-tot-jaar-grondslag ten einde uiteindelik ons ambisie met ons boerdery te kan bevredig.

As ons egter wil aanhou boer en ook ‘n landboutoekoms vir ons kinders wil verseker, moet ons ewe strategies beplan vir die welwese van ons grond en waarnatoe ons dit uiteindelik wil neem. In die geval van saaiboerdery word deurlopend navorsing gedoen wat nuwe benaderings en tegnieke as uitkomste in die strewe na volhoubaarheid.lewer, soos minimumbewerking en nou al selfs geenbewerking
So belangrik as wat gesonde grond vir volhoubare saaiboerdery is, is dit ook vir vee- of wildboerdery. Ook in hierdie geval moet ons die behoud van ons grond se gesondheid, en dus die groeikragtigheid van ons weiding, as ‘n kleinood bewaar.

Drie rooi ligte:

Daar is drie interafhanklike negatiewe uitkomste van lukrake weidingsbestuur: veldbrand, oorbeweiding en erosie. In geval van volgehoue oorbeweiding is veldbrand selde ‘n probleem en volg erosie sommer direk. In die geval van veldbrand op goed bestuurde weiding lei dit weer maklik tot onbedoelde oorbeweiding wat die grondoppervlak dan stelselmatig verswak totdat erosie intree.

1.    Veldbrand
Die voorafgaande aflewerings het die belangrikheid van die behoud van die lewende bolaag van grond vir volhoubare boerdery verduidelik. Veldbrand is een van die faktore wat enige goed beplande en goed bestuurde weidingsprogram oornag kan verongeluk.

Die onmiddellike gevolglike skade van dooie of verhongerende vee kan ‘n boerdery finansieel knak. Oorleef ‘n boerdery dit wel nog, tree op die langer termyn die skade van veldagteruitgang deur grondverarming onvermydelik in. Elke moontlike voorkomende maatreël moet dus in plek wees om wegholbrande te bekamp. Dis nie net maar dat die veld wegbrand en hopelik darem weer sal groei nie. Klimaat en reënval in die maande wat op ‘n brand volg, sal bepaal tot watter mate die grondlewe self ook nadelig beinvloed sal word. Indien die impak ernstig is, sal die grond jare duur om te herstel.

2.    Oorbeweiding
Ons moenie die probleem van oorbeweiding eers ernstig begin opneem wanneer die gevolglike skade van ons doen en late klaar met ‘n oogopslag sigbaar word nie. Hierdie probleem het gewoonlik ‘n lang aanloop voor die stadium bereik word waar die ekologiese balans sigbaar versteur is.

Oorbeweiding kan kortweg beskryf word as die proses waardeur ‘n enkele plantspesie of ‘n plantgemeenskap se groeikragtigheid ondermyn word deur aanhoudende oorbenutting. In ‘n vroeë stadium kan die skade tydelik en herstelbaar wees, maar soms is die skade ook permanent en kan bepaalde spesies uitsterf en kan ‘n veldtipe se samestelling nadelig verander word. Met veldbrand word die probleem dan net nog verder vererger.

Verstandige boere is deesdae bedag op die probleem en handhaaf oor die algemeen nougesette bestuursbeginsels wat verhoed dat die veld se vermoëns ooreis word.

Nie net verskraal oorbeweiding die lewensmoontlikhede bo-op die grond nie, maar ook binne-in die grond deurdat die organiese materiaal wat as grondkombers dien, stelselmatig verdwyn en saam daarmee die mikro-organismes binne-in die grond. Dan stort die grondstruktuur in duie met gevolglike verdere verdigting deur die aanslag van son, wind, water en hoef.

In hierdie uiterste voorbeelde kry ons dan erosie van beide die biologiese komponent van die veld en erosie van die grond self. Dit is die onvermydelike gevolg van wanbestuur van veld. Dit is tegelyk ‘n wekroep om te bewaar dit wat ons kan beheer terwyl dit nog onder ons eie beheer is.

3.    Erosie
Hier is dit gewis die klein jakkalsies wat die wingerd verniel.

Dongas is nie erosie nie. Dit is bloot die grafiese aanklag teen die mens oor skreiende en volgehoue pligsversuim – dikwels die sondes van die vaders wat die kinders besoek.

Erosie is nie eers daar wanneer spoelslote die landskap opkerf nie. Dit is bloot die sigbare sewende fase van erosie.
Gesonde veldweiding met voldoende grondbedekking deur sowel lewende plante as dooie organiese materiaal is haas onerodeerbaar. Inteendeel, dit verhoed nie alleen grondverlies nie maar help inderdaad met grondvorming.

Erosie word eerstens veroorsaak deur die blootstelling van die grond aan die direkte vernietigende krag van son, wind en water. Gewoonlik is dit die gevolg van oorbeweiding en of veldbrand en deesdae ook nog onoordeelkundig gemaakte brandbane.

Ten tweede is dit die vernietiging van die kombinasie van organiese reste van plant en dier en die onderliggende humuskomponent – gewoonlik die onvermydelike gevolg van die voorgaande.

In die derde plek lei dit tot grondverdigting en verlies van die grondstruktuur wat optimale waterindringing verhoed. Gewoonlik die gevolg van die vorige twee.
Dan volg verhoogde en ongetemde waterafloop, die onvermydelike gevolg van die voorafgaande stadia.Resultaat: Die grond self begin spoel.

Die vraag is nie wanneer en waar om te begin teenmaatreëls tref nie. Wawyd wakker veldbewaarders sorg deur uitmuntende veldbestuur dat erosie gestop word voordat dit begin!

Elkeen behoort sy grond so te bestuur dat die toestand van sy grond nie al gou, vir die hele wêreld om te sien, ‘n aanklag van sorgelose nalatigheid teen hom demonstreer nie.

Om op te som:
Gesonde grondstruktuur verseker voldoende vog, suurstof en voeding vir gesonde plantproduksie deur die aanwesigheid van humus. Dit is alles weer te danke aan organiese materiaal, soos gras en blare, bo-op die grond wat sorg dat alles binne die grond floreer tot voordeel van plant en dier. Al sien ons nie aldag wat hierbo gesê is en wat binne die grond gebeur nie, moet ons dit weet.

Deur dit te weet, kan ons ons grond reg bestuur.
Deur reg te bestuur, sal ons die regte vrugte op ons arbeid kan pluk.
Slegs dan kan ons hoop om volhoubaar te boer!

Chris Wagner se gids oor veldbewaring, Waterberg-Bosveld: Prikkelgids vir veldbewaring, kan teen R45 (posgeld uitgesluit) by 014-736-4592 of by john@pnawarmbad.co.za bestel word.

Veld kan jare neem om te herstel na brande, want dit is baie meer as net gras wat brand.

Die groen uitloopsels na ‘n brand lyk miskien mooi, maar dit is nie so voedsaam soos gesonde veld nie.  

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0