Categories: NewsPublished On: 21st December 2011

Gesonde-boerdery-vereis-gesonde-grond-(b)

By 5 min read

Om lief te hê, is om te koester!

Wat is lekkerder as om gesonde grond deur jou hande te laat gly en reeds in jou geestesoog die malse nuwe seisoensweiding te sien wat volbek geniet gaan word.

Wat ons saai, sal ons maai

In die eerste aflewering wat verlede maand in ProAgri verskyn het, het ons aangedui dat die grond wat elke boer besit, meestal gegewe is wat moedergesteente betref en wat daaruit ontstaan het, dit wil sê die fisiese verhouding tussen slik, klei en die groter partikels. Juis dit het oorspronklik ook die anorganies-chemiese samestelling van die bepaalde grondtipe bepaal.

Die ander belangrike eienskappe van elke boer se grond, naamlik die organiese, die organo-chemiese en die grondstruktuur, is hoofsaaklik die resultaat, goed of sleg, van sy en sy voorgeslagte se omgang met die grond in hulle boerderypraktyk.

Laasgenoemde onderstreep die belangrikheid van ‘n bewuste, verantwoordelike en liefdevolle verhouding van die boer met sy grond (simbiose) om oor die lang termyn volhoubare boerdery te verseker. As ons eers besef hoe belangrik ons grond vir ons voortbestaan is, sal ons onmiddellik wil weet hoe ons die vrugbaarheid daarvan kan opbou. Groot dele van die wêreld toon duidelik die katastrofiese gevolge vir die aardbodem waar persoonlike verantwoordelikheid nie deel van die kultuur is nie.

Werk liggies met jou kosbaarste besitting

Die lewende bolaag van ons grond se gesondheid word bepaal deur wat ons aan die grond en daarop doen.

Die behoud van organiese materiaal en humus is wat dit gesond sal hou. Organiese materiaal beland in die natuurlike gang van sake in die grond deur onbenutte gras en plantreste, grondorganismes en diere-oorblyfsels, wat gesamentlik die komposteerbare element vorm. As voedingsbron vir al die fauna en flora van die grond, word dit binne-in die grond tot eenvoudiger bestanddele afgebreek wat onderling verbind om humus te vorm.

In omstandighede van optimale veldbestuur kan tot drie ton en selfs tot vyf ton organiese materiaal per jaar per hektaar aan die grond beskikbaar gestel word, waarvan ongeveer 60 persent as organiese koolstof (C) vir plantgroei beskikbaar raak.

Benewens die koolstof, bestaan organiese materiaal hoofsaaklik uit waterstof, suurstof, fosfor en swael en ander, kleiner hoeveelhede van sogenaamde spoorelemente; almal boustene vir die volgende geslag plante – as daar voldoende daarvan vir ‘n volgende geslag is.

In optimale gemiddelde omstandighede vorm organiese materiaal egter maar ‘n klein deeltjie van grond; selde meer as een persent.

Dis die klein dingetjies wat tel

Hoewel organiese materiaal slegs ‘n klein gedeelte van die groeibodem uitmaak, het dit ‘n allerbelangrike invloed op die produksievermoë van grond; veral omdat dit vol lewe is en daarom lewe kan onderhou.

Die balans van die vaste elemente van grond bestaan uit klip, sand, slik en klei. Die uitdaging is dus om die organiese koolstofinhoud en gepaardgaande grondmikrobe-aktiwiteit van die grond, dit wil sê die gesondheid van die grond, so hoog moontlik te kry.

Watter oorwegings kan hoegenaamd bestaan om dit anders te wil hê?

Gesonde, humusryke grond verryk en verdonker die boonste 100 mm tot 200 mm van die groeibodem waarneembaar in sigbare krummels en is nie net ‘n plesier om in die hand te neem nie, maar ook die welkome vrug op goeie bestuur.

Die voorgaande beskryf in hoofsaak wat binne-in die grond gebeur. Dit word egter alleen moontlik gemaak deur die beskutting wat onverwerkte organiese materiaal saam met lewende plantbedekking aan die lewe binne die grond voorsien en die beskerming wat dit verleen teen erosie deur die son, wind en water. Dit hang dus alles af van hoe ons met die grond boer.

Net soos deur verkeerde grondbewerkingspraktyke, word hierdie wonderlike proses en die positiewe resultaat daarvan noodlottig beïnvloed deur onder meer brand en oorbeweiding. Hierdie praktyke ontneem die grond van die deurlopende voedingsaanvulling waarsonder dit doodeenvoudig verarm. En ons daarmee saam.

Met oordeelkundige beweiding en sonder brand is die impak van bekke en hoewe en die graskomponent in gesonde balans – balans tussen wat die dier nodig het en wat elke graspol nodig het om sy fisiologiese siklus te deurloop. Voedsame organiese materiaal word dus deur die dier verbruik en die res word gelaat om enersyds met die plant self as reserwekrag vir die volgende seisoen se nuwe groei te herintegreer en andersyds om by afsterwing as voeding vir die grondlewe te dien.

Voordele van humusryke grond

Fisies verander humus die struktuur van grond deurdat dit waterindringing sowel as watervashouvermoë en deurlugting verseker deur ‘n gunstige los en oop krummelstruktuur.

Dit help ook ‘n vrugbare, biologiese leefwêreld vir grondmikrofauna en -flora skep waar onder meer swamdrade fisiese samevoeging bevorder, wat uiteindelik tot ‘n krummelrige grondstruktuur lei.

Dit stel onder meer koolstof, stikstof, swael en fosfor beskikbaar as plantvoedingstowwe, terwyl dit as agens dien vir verdere verwering deur anioon- en katioonuitruiling, en bevorder goeie pH-balans (gesonde grondsuurheidsvlakke).
Die behoud van hierdie leefwêreld van die mikrobe, buite die alledaagse sig van die mens, is uiteindelik ook ons behoud.

Die produktiwiteit van die grond en die plante wat daarop groei, is die resultaat van ingewikkelde prosesse waarin organismes, genoem mikrobes, asook die grondfauna, saam ‘n kritieke rol speel. Die mikrobes bestaan hoofsaaklik uit bakterieë, swamme, alge en protosoë, terwyl die grondfauna onder meer bestaan uit aalwurms, myte, erdwurms en miere.

Bewaring vereis goeie bestuur

Hoewel buite sig en beslis nie altyd na waarde geskat nie, bied die gehalte van lewe binne die grond die belangrikste bestuursuitdaging vir enige bewaringsgesinde grondeienaar. Dit is ook die sleutel tot gesonde en volhoubare lewe bo-op die grond.
Grondeienaars moet dus met die uiterste erns en toewyding verseker dat hulle hulle grond gesond hou deur reg te boer.

Voordat enige boer sy veldbestuursplan maak of enige raad oor bestuur aanvaar, moet hy dus seker maak dat die kundige raad wat aangebied word, of waarvoor hy betaal, die gesondheid van sy grond as eerste prioriteit stel.

Wederom!

Chris Wagner se gids oor veldbewaring, Waterberg-Bosveld: Prikkelgids vir veldbewaring, kan teen R45 (posgeld uitgesluit) by 014-736-4592 of by john@pnawarmbad.co.za bestel word.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0