Gesonde-boerdery-vereis-gesonde-grond-(a)
Om te ken, is om lief te hê!
Of ons nou met vee of wild boer en of ons die grond gebruik om daarin te plant, dit is elke verantwoordelike boer se plig om sy grond se gesondheid die hoogste prioriteit te gee. Saaiboere besef dit al oor ‘n langer tyd – maar besef selfs ook hulle hoe belangrik dit is vir weidingsgrond waaroor hulle mag beskik?
Elkeen van ons wil graag ‘n goeie boer wees. Elkeen wil graag geken word as ‘n bewarings-boer, want die omgekeerde daarvan is om ‘n boer te wees wat nie omgee nie.
Baie mense maak die aarde arm
Elke ingeligte boer weet dat toenemende wêreldwye bevolkingsdruk die aardoppervlak se lewegewende hulpbronne stelselmatig begin ooreis. Die media is byvoorbeeld vol van reënwoude wat vernietig word deur, aan die een kant ongevoelige geldgieriges wat met die hout winsgewend handel dryf, of aan die ander kant oningeligtes wat brande stig om die woud te vernietig om ‘n lappie grond skoon te maak om te ploeg. Vir elkeen van hulle gaan dit net oor oorlewing vanuit eie perspektief. Die resultaat is egter in albei gevalle ewe noodlottig vir die aardbodem.
Te dikwels skud ons ons koppe maar net meewarig en vergeet dikwels ons eie rol by die bestuur van grond.l
Tree ons ook soms onsinnig op?
Daar is egter ‘n minder opvallende hoewel stadiger proses van hulpbronerosie binne ontwikkelde kommersiële boerderye aan die gang. Die oorsaak van die probleem is dat in daardie gevalle maksimum produksie uitsluitlik om ekonomiese redes nagestreef word.
Hierdie probleem word vandag wyd erken en dwing ons as verantwoordelike boere om ons fokus vanaf maksimale opbrengs te verskuif na optimale produksie in balans met die hulpbron. In stede van dus op die kort termyn te konsentreer op wat ons nóú uit die grond kan put tot voordeel van ons eie geldsak of ons bankbalans, moet ons beplan vir dit wat ons volhoubaar sal kan bly produseer vir hierdie geslag en die opvolgende geslagte.
Dan alleen kry bewaringsboerdery eers werklik betekenis, wanneer ons die nodige respek prakties betoon aan die hele spektrum van die komponente van biodiversiteit. Dit wil sê, die hele spesieverskeidenheid wat die lewegewende hulpbron, naamlik grond, uitmaak en wat daarin en daarop lewe.
Elke vee-, wild- of saaiboer behoort om bogenoemde redes in die eerste plek grond-boer te wees.
Verantwoordelike grond-boere doen beter
Om grond-boer te kan wees, moet ons onsself op die hoogte bring en daarna op die hoogte bly van wat die grond van ons verlang vir volhoubare boerdery. Ons moet dan daarby aanpas en daarvolgens bestuur. Dit maak nie saak uit watter agtergrond ons kom of hoe ryk of hoe arm ons is nie, boerdery is ‘n lewenslange leerskool en eis groot verantwoordelikheidsin.
Ons moet onsself dus doelbewus gedurende ons beperkte tyd van rentmeesterskap ywerig en deurlopend bemagtig met meer kennis. Nie om in die eerste plek meer geld te maak nie, maar om beter met ons grond om te gaan en sodoende volhoubaarheid van boerdery te verseker. Dit sal terselfdertyd die behoud van die grond-ekosisteem bevorder.
Volhoubare landbou
As ons en ons nageslagte in staat moet wees om aan te hou boer, sal ons al ons kennis, breinkrag en energie daarop moet fokus om volhoubaar te boer. Omdat grond dié onontbeerlike hulpbron vir landbou is, sal ons die grond se vermoë om aan te hou om plante te produseer, moet beskerm en opbou.
Holistiese begrip van ons landbourol
Grond is oor duisende jare gevorm uit moedergesteentes, die aard waarvan verder bepaal word deur die inwerking van klimaat, synde hoofsaaklik reënval en temperatuur, asook topografie en organismes. Dis ‘n uiters tydsame vormingsproses wat bykans onmeetbaar is gedurende ons menslike leeftyd.
Die oomblik wanneer die mens egter, as ‘n sesde faktor na bogenoemde, ‘n landbourol begin speel, word die proses van grondvorming belemmer en volg in die meeste gevalle grondverlies wat teen ‘n dramaties vinniger tempo plaasvind as wat nuwe grond gevorm kan word.
Die grondhulpbron wat ons het, moet ons dus so goed moontlik oppas deur dit reg te bestuur.
Ons landbou-bedrywighede moet gevolglik nie net fokus op dit wat ons bo-op die grond wil sien nie, hetsy weiding, diere, bome of gesaaides, maar inderdaad ook om te verstaan wat met die grond gebeur wanneer ons daarop begin boer.
Wat weet ons van die grond waarop ons boer?
Die gesondheid en aard van natuurlike grond as groeibodem word hoofsaaklik bepaal deur drie komponente: fisies, chemies en biologies (of organies).
Oppervlakkig tipeer ons grond breedweg as sand, sandleem of leem. Dit word bepaal deur die verhouding tussen hoeveelhede en tipes van klip, sand, klei en slik waaruit dit saamgestel is. In mindere of meerdere mate bepaal dit dan ook die anorganiese chemiese eienskappe van ‘n bepaalde grondtipe. Dit is die “dooie” deel van grond.
Die organo-chemiese komponent word aan die ander kant weer bepaal deur die organiese komponent in verskillende stadia van afbreek en opbou te midde van water en lug. Dit is die “lewende” deel van grond.
Grondstruktuur word op sy beurt weer deur bogenoemde elemente beïnvloed in die mate wat die struktuur vorm aanneem of verval deur binne- en bogrondse interaksie asook erosie. Struktuur is in die meeste gevalle die sigbare norm waaraan ons die grond se gesondheid meet.
Die oomblik wanneer ons nadink en besef wat ons eintlik doen wanneer ons die grond “boer”, verstaan ons eers dat ons besig is om in ‘n lewende sisteem se lewe in te gryp. Hoe verantwoordelik ons boer, sal bepaal of ons daardie lewe ontwrig of koester – of ons die grond se gesondheid benadeel of beskerm.
As ons ons grond ken, sal ons ons grond liefhê. Dan sal ons nie anders kan as om ons grond op te pas nie.
Om op te som
Die grond wat ons het, is die grond waarop ons boer. En dit is al wat ons het. Die fisiese eienskappe daarvan het ons meesal maar so gekry toe ons dit gekoop of geërf het – meer sand of meer klei en fyn of grof.
Die natuurlike chemiese samestelling daarvan is meesal ook gegewe afhangende van die moedergesteente waaruit dit gevorm is, alhoewel ons dit tot ‘n mate binne ekonomiese perke kan aanvul of manipuleer.
Die derde komponent, die organiese, is die een waar ons baie liggies moet trap.
Dit is bykans totaal in ons beheer of ons dit gaan kwaad of goed doen.
Chris Wagner is al jare lank by omgewingsbewaringsprojekte betrokke en is die skrywer van die boekie, Waterberg-Bosveld: Prikkelgids vir veldbewaring. Die gids is by PNA Warmbad, ten R45 (posgeld uitgesluit) beskikbaar. Bestel by 014-736-4592 of per e-pos john@pnawarmbad.co.za