Categories: NewsPublished On: 8th November 2011

Geslaagde-“suiwelervaring”-in-die-Kaap-aangebied

By 2 min read
Die Kaapse “Suiwelervaring”-Ekspo is onlangs vir die eerste maal op Sandringham tussen Kaapstad en die Paarl aangebied. Die geleentheid, wat daarop gemik was om die veelsydigheid van suiwel te vier en die belangrikheid van die bedryf te beklemtoon, het deelnemers van regoor die land getrek. 
 
“Die sukses van hierdie geleentheid lê grootliks daarin dat die volle waardeketting van suiwel op ‘n vars en opwindende wyse aangebied word,” vertel Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo wat saam met verskeie rolspelers die geleentheid georganiseer het.  
 
Volgens Scott Ruby, ‘n Amerikaanse suiwelboer en -konsultant wat deel van die beoordelaarspan was wat die Suiwelkoningin aangewys het, vergelyk die Kaapse Suiwelervaring met die beste suiwelskoue ter wêreld wat gehalte aanbetref. Wat hom veral beïndruk het, is die wyse waarop die verbruiker genooi is om die wêreld van suiwelproduksie te betree en die boer te ontmoet. 
 
Van die hoogtepunte op die landbouprogam was die kroning van die Absa Kaapse Suiwelkoningin, die aankondiging van die Wes-Kaapse Meester-suiwelboer van die Jaar en die Wes-Kaapse Melkbokkampioenskappe waarvoor 75 bokke vanuit die vier melkbokrasse ingeskryf was.
 
Suiwelkoningin
 
Ellerslie 4078, ‘n prag Holsteinkoei, wat aan JW Penn en Kevin Lang van Grace Valley in KwaZulu-Natal behoort is as die Suiwelkoningin van die jaar aangewys. Bykans 200 wêreldgehalte Holsteins, Ayrshires en Jerseys het van heinde en ver,  om die titel meegeding. Ervare beoordelaars waaronder Scott Ruby, Paul Meade en Niel Jansen van Rensburg het die dier met die beste bouvorm, hoewe, bene, en uier geïdentifiseer.
 
Meester-suiwelboer van die Jaar
 
Mnr Philip Blanckenberg van Klipheuwel naby Malmesbury wat ook voorsitter van die Melkprodusente Organisasie in die Wes-Kaap is, is  as die Meester-suiwelboer van die Jaar aangewys.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0