Genomiese teelwaardes vir die SA Hereford Beestelersgenootskap

sa hereford
Die insluiting van genomiese inligting van individuele diere vir die voorspelling van genetiese meriete, is die nuutste manier om die akkuraatheid van sulke voorspellings te verhoog.
SA Stamboek het die voortou in Suid-Afrika geneem om hierdie metodologie toe te pas deur die ENKEL STAP GBLUP-metode toe te pas. Sodoende word veetelers in staat gestel om vroeë seleksiebesluite met baie meer selfvertroue te neem omdat die risiko verminder word.
Versiendheid van Stamboek se lede (Vleisbeeste-, Melkbeeste- en Kleinveetelersverenigings) om hul eie geld, tyd en beplanning te belê, asook deelname aan die Beef Genomics Program, Dairy Genomics Program, en aan verskeie ander navorsingsprojekte, het gelei tot die bou van
toepaslike genomiese verwysingspopulasies. Dit het Stamboek in staat gestel om die nodige tegnologieë en infrastruktuur te ontwikkel om die bedryf van Genomies verreikte BLUPteelwaardes (GEBVs) te voorsien.
Die eerste ras in Suid-Afrika, wat SA Stamboek GBLUP-waardes (GEBVs) ontvang het, was die Bonsmara ras. Hulle het dadelik die voordeel daarvan ervaar omdat Stamboek Internasionale genetiese merietevoorspellings aan die ras voorsien. Die belangrike stap is gevolg deur GEBVs vir die Beefmaster- en Drakensberger-rasse, en ook vir die Hugenoot vleisbeesras. Al drie Melkbeesterasgroepe, naamlik Swart en Wit, Jersey en Ayrshire ontvang ook GEBVs, gekoppel aan omvattende plaaslik ontwikkelde seleksie-waardes. Die implementering van GBLUP vir Merino-skape het hierna gevolg.
SA Stamboek het ook hande gevat met Unistel, laboratorium in Suid-Afrika, die vervaardiger van die SNP (genomiese) skyfie, naamlik Illunina, en die plaaslike verspreider van genomiese produkte, Separation Scientific, om ‘n unieke stel merkers op te stel vir eienskappe wat beïnvloed word deur enkele gene in die Suid-Afrikaanse beesbevolking.
Die plaaslike genomiese toetse, op hierdie eg Suid-Afrikaanse SNP-skyfies, spreek dus die variasie in al die plaaslike beesbevolkings aan, dra al die huidig bekende en getoetste genetiese merkers, en is geskik vir die gebruik van genomiese profiele vir die voorspelling van Genomiese Teelwaardes.
Dit is terselfdertyd ook geskik vir ouerskap bevestiging of selfs verkenning, en om nabyheid aan ras suiwerheid bevestig.
GBLUP vir SA Hereford Beeste
’n Verwysingspopulasie, in Genomiese Teelwaarde terme, is ‘n groep diere van ‘n ras waarvan die genomiese samestelling bekend is, en waarvan die inligting gebruik word om genomiese teelwaardes daar te stel.
Die vestiging van ‘n toepaslike verwysingspopulasie, voor die implementering van GBLUP is dus uiters noodsaaklik. Kortom, so ‘n verwysingspopulasie moet bestaan uit diere wat die variasie in die ras verteenwoordig, en is dus die teeldiere met groot invloed in die ras. Hoe
groter so ‘n verwysingspopulasie, hoe beter. Die populasie-grootte van ‘n ras, sowel as die genetiese diversiteit, is bepalende faktore vir die grootte van so ‘n verwysingspopulasie.
Die Suid-Afrikaanse Hereford-telers is bekend vir hul toewyding in die teel van geskikte teeldiere vir die plaaslike Suid-Afrikaanse mark. Deur noukeurige aantekening-, seleksie- en paringspraktyke deur Hereford telers, is die ras ontwikkel om ‘n belangrike rol te speel in die
teel van vleisbeeste in Suid-Afrika.
Plaaslike telers maak ook gebruik van die geleenthede om vanaf ‘n groot poel internasionale teelbulle keuses te kan maak, as gevolg van die wêreldwye verspreiding van die ras. Hierdie geleenthede, gekoppel aan die goed gevestigde plaaslike Logix-aantekening- en genetiese merietevoorspellingstelsel, maak genetiese doelwit-bereiking ‘n werklikheid.
As gevolg van SA Stamboek se genomiese dienste, insluitend GBLUP, gekombineer met SA Hereford se visioenêre belegging in die BGP en verskeie navorsingsprojekte, is verskeie Hereford-diere die afgelope tyd gegenotipeer. Op grond van die grootte van die bevolking en ander belangrike wetenskaplike faktore, vorm hierdie genotipes nou die kern vir die implementering van die eerste GBLUP-dienste vir die SA Hereford Beestelersgenootskap en sy lede.
Dit is van groot nut vir Hereford Telers en die kopers van Hereford Beeste. Die maandelikse genetiese voorspellings en onlangse toepaslike veranderinge in die Genetiese Koeiwaarde vir Hereford-beeste dra by tot hierdie voordeel.
Van besondere belang is ook dat plaaslike Hereford-telers nou bemagtig word om die genomiese inligting van internasionale kunsmatige inseminasiebulle in die plaaslike genomiese teelwaarde-evaluerings kan gebruik voor ‘n besluit vir invoer van so ‘n bul gemaak word. Die toepassing van die Enkelstap-genomiese tegnologie deur SA Stamboek
maak dit moontlik omdat sulke bulle se genetiese meriete direk met die van die plaaslike Hereford populasie vergelyk kan word. Dit verander die spelreëls!
Hierdie nuwe dienste sal telers en kommersiële kopers help om teeldoelwitprestasie deur genetiese seleksie te versnel sonder ekstra om risiko.
Bron: SA Hereford en SA Stamboek