Gemeenskapstuine is die toekoms, sê Act for Change en Thoughtful Path

WhatsApp Image 2023-12-12 at 17.04.55 (5)
Van die groente wat onlangs by die Thoughtful Path geoes is.
Elke kind moet die kans kry om ՚n produktiewe en gesonde volwassene te word. So glo die Thoughtful Path-liefdadigheidsorganisasie in die Munsieville informele nedersetting aan die Wes-Rand van Gauteng.
Daarom bied hulle ՚n wye verskeidenheid programme waardeur hulle die gemeenskap probeer help: van ՚n kliniek tot onderwysprogramme en selfs veiligheidswerksessies, maar een van hulle grootste projekte is hulle gemeenskapstuine. Betty Noakana, die sentrum se direkteur, verduidelik dat hulle weekliks van Maandag tot Vrydag 400 kinders voed. Hulle ondersteun ook 550 huishoudings per week met kospakkies.
Aan die hoof van hierdie huishoudings is daar gewoonlik minderjariges of bejaardes wat nie die middele het om hulle gesinne aan die gang te hou nie. Om al hierdie ondersteuning te bied en die koste so laag as moontlik te hou, gebruik hulle hulle gemeenskapstuine om kos te voorsien. Hulle het in 2014 met hulle eerste gemeenskapstuin begin, maar toe die land ingeperk was het hulle hulle fokus hoofsaaklik na die tuine gedraai. Vandag het hulle een groot tuin, drie kleiner tuine en verskeie klein groentetuine rondom hulle plek. Hulle plant spinasie, tamaties, boerekool, rissies, kool, kruie, pampoene, botterskorsies en verskeie ander groentesoorte. Daar is ook onlangs knoffel geplant en hulle beplan om in 2024 gemmer te plant.
“Ons probeer om elke moontlike beskikbare ruimte te gebruik om kos te plant. Hier is huishoudings wat sukkel en die meeste van hulle het òf ՚n bejaarde òf minderjarige aan die hoof. Wanneer hulle nie kos by die huis het nie, kom vra hulle gewoonlik hier,” vertel Betty. Sy verduidelik dat hulle onmiddellik na elke oes weer moet plant. Maar hulle wil meer doen as om net die gemeenskap voed, daarom het hulle ook ՚n opleidingstuin waar hulle gemeenskaplede leer hoe om hulle eie tuine by die huis te begin.
“Ons glo as almal net weer hulle hande vuil kry en hulle eie groente begin plant, kan ons hongersnood iets van die verlede maak. Jy hoef nie baie geld te bestee nie; ՚n pakkie saad kos jou maar R30 en daaruit kan jy duisende saailinge produseer.”

Betty Noakana, Thoughtful Path se direkteur, met ՚n koolkop wat uit een van hulle tuine kom.
Checkers en Fruit and Trees for Africa tot die redding
Laggend erken Betty dat hulle aan die begin niks geweet het van groente plant nie.
“Ons het op die web gaan lees en leer. Gelukkig het Checkers tot ons redding gekom en Fruit and Trees for Africa ook betrokke gekry. Hulle het ons vir agttien maande opleiding gegee.”
Fruit and Trees for Africa het Betty en haar span geleer hoe om hulle eie saailinge te kweek, ՚n deklaag vir groente te maak, tuisgemaakte insekdoders te maak en selfs hoe om ՚n komposhoop te begin en dit dan as bemesting te gebruik.
“Hulle het een keer per maand iemand gestuur om ons te leer hoe om die grond te bewerk, water aan te lê vir die groente en wanneer om te oes.” Sy vertel dat saailinge deesdae baie duur is en hulle moes dus leer hoe om hulle eie saailinge te kweek.
Gemeenskapstuine se uitdagings
Hoewel die tuin by Thoughtful Path goed voortwoeker, kan dieselfde nie gesê word van die tuine by gemeenskapslede se huise nie. Volgens Betty sukkel inwoners met honde en rotte wat hulle tuine vernietig. ՚n Ander uitdaging is dat nie al die inwoners van SuidAfrika afkomstig is nie. Dit beteken dat wanneer hulle in hulle tuislande gaan kuier, gaan hulle plante dood. Daarom het Betty se span die gemeenskap aangeraai om eerder vriende of bure te kry om ՚n ogie te hou oor hulle tuine en dan sommer self ook daaruit te eet.
Hulle het ook ՚n ruilhandelstelsel voorgestel waar gemeenskapslede saailinge uitruil en binnekort het almal dan iets van alles. Fruit and Trees for Africa het vir hulle 500 appel-, peer-, granaat- en perskebome geskenk. Baie van dié bome is in die organisasie se verskillende gemeenskapstuine geplant, maar die span het 250 bome uitgedeel om in die gemeenskap se tuine ook te plant. Checkers is deel van die Shopritegroep en het in 2016 by die Thoughtful Path aangesluit. Hulle skenk ook elke jaar kruideniersware, en in 2022 kon die organisasie 1 700 huishoudings voed met die kruideniersware wat geskenk is. Onlangs het hulle R206 000 se kruideniersware ontvang en dit sal 1 000 huishoudings voed.

Die opleidingstuin by die Thoughtful Path.
Voordele van ՚n gemeenskapstuin
Volgens Betty is die hoofvoordeel van so ՚n tuin die kostebesparing: “Jy hoef nie spinasie te koop nie; hoekom sal jy spinasie koop as jy ՚n stuk grond het waar jy dit self kan plant? Ek moedig ook altyd die ouers aan om eerder groente te kweek as te koop. Soms weet mens nie watter chemikalieë word gebruik op groente wat jy koop nie.” Sy sê die geld wat vir groente sou gaan, kan aan ander dinge soos elektrisiteit of skoolbehoeftes bestee word.
“Die armoede in nedersettings is so erg, die bietjie geld wat die mense verdien kan op beter maniere aangewend word. Moet dit nie gebruik vir groente nie, jy kan geld bespaar en gesond eet uit jou eie tuin.”
Met hulle Act for Change-program is Shoprite en Checkers daaraan toegewy om voedselsekuriteit in gemeenskappe regoor Suid-Afrika, Lesotho en Namibië te verseker. Dié program ondersteun meer as 220 gemeenskapstuine, 4,5- miljoen m² grond en 3 750 groentetuine wat indirek 61 064 begunstigdes help. Hulle bied ՚n opleidingsprogram van agttien maande aan, wat deur hulle vennoot, Fruits and Trees for Africa, bestuur word. Die opleiding sluit grondbewerking, komposproduksie, saadbesparingstegnieke en meer in.
Hulle verskaf ook hulpbronne wat benodig word; dié word bepaal deur elke tuin se spesifieke behoeftes en sluit toerusting, saailinge en die waterinfrastruktuur in. Die tipe gewasse wat in die tuine geplant word is gebiedspesifiek en word bepaal deur die plaaslike klimaat, grondtoestande en groeiseisoene. In die verlede het hulle al meer as 2 580 gemeenskapslede gehelp met opleiding, en die tuine wat gevestig is het gesamentlik al ՚n oes van 73 474 kg opgelewer. Meer as 1-miljoen etes is al uit die tuine verskaf sedert die onstaan van die program in 2015.

՚n Gemeenskapslid op pad om die Thoughtful Path se rissiesaailinge te gaan plant.
Die Act for Change fonds is in Maart 2016 gestig nadat daar versoeke van verskeie gemeenskappe was om hulp in gebiede wat deur natuurlike rampe getref is of ander uitdagings deurmaak. Deur slegs R5 by enige Shoprite-, Checkers- of Usave-kassier regoor die land te skenk, kan jy ook help om ՚n verskil te maak. Daar is geen ekstra koste nie en al die geld wat ingesamel word gaan daarvoor om gemeenskappe te help.
Om meer te lees oor Act for Change, besoek gerus die webtuiste by www.shopriteholdings.co.za. Jy kan ook meer lees oor Fruits and Trees for Africa by www.trees.org.za. Indien jy graag wil betrokke raak by die Thoughtful Path of meer wil uitvind oor wat hulle doen, besoek gerus hulle webtuiste by www.thethoughtfulpathsa.org of skakel Betty by 061-483-8312.