Geenbewerking:-Samewerking-gee-gawe-groei–vir-opkomende-boere
Sukses wink vir ’n groep opkomende boere van die AmaNgwane- en AmaZizi-gebiede naby Bergville in KwaZulu/Natal noudat hulle na geenbewerking oorgeslaan het.
Hierdie boere het in die verlede hulle landerye met osse een eenvoorploeë bewerk of trekkers en ploeë gehuur om mielies te plant.
Die afgelope paar jaar het veediefstal en -siektes hulle osse uitgedun en stygende koste het dit onmoontlik gemaak om toerusting te huur. Dit het veroorsaak dat baie van hulle lande die afgelope drie jaar braak gelê het.
Die keerpunt het gekom toe Simon Mbele, voorsitter van die Okhahlamba Boerevereniging en eienaar van Dedani Farming and Contracting, verlede jaar by Nampo Variquip se mense raakgeloop het.
Variquip is die invoerder van Belarus-trekkers en die mense wat enige onderdeel vir enige trekker kan verskaf.
Variquip se eienaar, Sandy Clouston, was beïndruk met Simon se belangstelling in landbou en het gereël dat twee van die maatskappy se verkoopverteenwoordigers, Jack Meyer en Myles Lourens, Simon besoek om te kyk of daar nie ’n manier is om hom in sy boerderybedrwighede te ondersteun nie.
Die uiteinde van die saak was dat Variquip twee Belarus-trekkers vir Simon en sy medeboere geleen het vir die 2009/10-plantseisoen.
Hulle het ook ’n onafhanklike landbou-ontwikkelingsmaatskappy genooi om die boere se potensiaal te ontleed. Na samesprekings het hulle voorkeurlenings aan twaalf kwalifiserende boere toegestaan.
Dit was laat in die seisoen, daarom het die boere besluit om rooi gespikkelde suikerbone te plant eerder as mielies, sê Simon. Dié gewas is ook lonender op hulle klein landjies.
Die geenbewerkingboerdery-legende van Bergville, Ant Muirhead, se raad is gevra. Hy het bevestig dat geenbewerking op dié lande sal werk, veral omdat dit ’n paar jaar vantevore deeglik bekalk is.
Variquip het sy verbintenisse in die landboutoerustingbedryf gebruik om ’n Brasiliaanse Vence Tudo-vierry geenbewerkingplanter by Adam van Aswegen van Inttrac Trading in Vereeniging te leen.
Variquip self het die boere ’n sleepspuit met ’n balk van 6 meter geleen.
Onder die leiding van Jack, Myles, ZV Nkosi en Sphiwe Mtshali van KZN Departement van Landbou, het die boere die digte gras en onkruid op hulle lande bespuit.
Jack en Myles het Simon en sy seuns gewys hoe om die spuit- en planttoerusting te hanteer. “Ons deel was om die toerus-ting te voorsien en te installeer,” sê Sandy, “en met Simon se kennis van boerdery kon ons die res in sy hande laat. Aanvanklik het ons Ant gevra om as mentor vir die projek op te tree, maar dit het gou duidelik geword dat Simon die proses kon lei.”
Simon het al die logistiek om die wydverspreide stukke grond te plant hanteer en teen die einde van Januarie was die gewasse gevestig en gesond. Simon verwag ’n opbrengs van 1,5 t/ha en daar is reeds kopers vir die hele oes in
Pietermartizburg en Ladysmith.
Elke boer kan self besluit hoeveel van sy inkomste hy vir die volgende seisoen se insetkoste wil spaar en die landbou-ontwikkelingsmaatskappy sal weer om ’n produksielening genader word.
Vir Belarus en Inttrac was hierdie ’n goeie geleentheid om hulle trekkers en toerusting se doeltreffendheid te demonstreer en om vertroue in te boesem by boere wat in die toekoms grootskaalse kommersiële boere kan word.
“Dit was ook ’n hoogs bevredigende ervaring om nuwe landboutoerusting en metodes aan opkomende boere bekend te stel,” sê Sandy.
“Geenbewerking is wonderlik,” sê Simon. “Dit is die enigste manier om produksiekoste te besnoei. Ek het die saadbedvoorbereidingskoste van konvensionele en geenbewerking vergelyk. Geenbewerking is nie net baie goedkoper nie, maar bevorder ook grondgesondheid en -struktuur.”
Nog ’n kleinskaalse boer, Mboyana Hlatshwayo, sê hy het nog altyd geploeg omdat hy nie gedink het geenbewerking kan werk nie. Hy is nou oortuig dat dit die sleutel tot volhoubare boerdery is.
Die boere begin reeds planne maak om iewers in die toekoms saam te span om hulle eie geen-bewerkingstoerusting aan te skaf.
“Hierdie boere werk baie hard om ’n toekoms te bou,” sê Sphiwe Mtshali van KZN Departement van Landbou. “Hulle benut al die raad wat ons hulle gee, werk saam en deel hulle uitdagings en ervaring. Hulle gaan rolmodelle vir ander moontlike geenbewerkingsboere in die gebied word.
“Maar hierdie projek sou nie ’n sukses wees sonder die bydrae van al die vennote nie. Dit is ’n produktiewe vennootskap.”
Praat met Sandy Clouston van Variquip by 033-345-8084.