Geen perde na die Wes-Kaap
Beperkings is geplaas op die vervoer van perde vanuit die res van Suid-Afrika na die Wes-Kaap as gevolg van die vroeë uitbreking van perdesiekte in ander provinsies. Die aankondiging is gedoen deur die waarnemende hoof van veeartsenykundige dienste in die Wes-Kaap, dr Pieter Koen.
Dr Koen sê daar was hierdie seisoen reeds 92 bevestigde gevalle van perdesiekte, met 52 vrektes. Dit word toegeskryf aan die hoër reënval vroeër die seisoen.
Die Wes-Kaap is ‘n beheerde perdesiektegebied en indien die siekte daar uitbreek, kan die Europese Unie ‘n verbod op die uitvoer van perde uit suid-Afrika plaas vir so lank as twee jaar. Dit kan die bedryf onberekenbare skade berokken.
Dr Koen het ‘n beroep op perde-eienaars gedoen om saam te werk. Indien ‘n perd wel na die Wes-Kaap moet gaan, is daar ‘n verpligte wagtyd in Beaufort-Wes of by ander goedgekeurde hou-areas buite die provinsie. Reëlings moet met die plaaslike staatsveearts waar die perd vandaan kom, bevestig word.
Perde-eienaars landwyd is ondertussen ook aanbeveel om hulle diere oornag op stal te hou of op hoogliggende dele en om hulle daagliks met insekafweermiddels te behandel. Hulle moet ook seker maak dat hulle perde korrek ingeënt is.