Categories: NewsPublished On: 31st May 2011

Geen-hulp-vir-blanke-boere-nie

By 2 min read
331 words
TLU SA het skerp gereageer op berigte dat blanke kommersiële boere geen vloedhulp gaan ontvang nie. Die organisasie sê as minister Tina Joemat-Pettersen reg aangehaal is, wil dit op die eerste oogopslag na ‘n rassistiese besluit lyk om net sogenaamde opkomende boere te help.
 
Mnr Henk van de Graaf, adjunk-hoofbestuurder: Kommunikasie sê die R2 miljard skade wat as gevolg van die vloede gely is, is juis gely deur die kommersiële boere, wat ook werkverskaffers is.  As daar vir hulle geen hulp is nie, moet die regering ook nie huil as daardie boere nie sal kan voortgaan om werk vir hulle arbeiders te voorsien nie.  
 
Hy sê die primêre landbouprodusent is een van die belangrikste bates van die land en word nou deur die regering in die steek gelaat, en in wese verraai.  Toe onder andere TLU SA genader is om behulpsaam te wees met die opname oor die vloedskade, is daarmee die verwagting geskep dat die kommersiële boer gehelp gaan word. Nou kry hy ‘n klap in die gesig.
 
TLU SA is ernstig bekommerd dat dit by die regering nie meer gaan oor volhoubare landbou en voedselsekerheid nie, maar dat hy net bekommerd is oor sosiaal-maatskaplike projekte, wat uiteindelik geen bydrae tot landbou sal lewer nie.
 
TLU SA vra die vraag of opkomende boere werklik voedsel vir die verbruiker op die rakke sal sit? 
 
Volgens berigte het die besluit van die regering aan die lig gekom in ‘n gesprek wat sy met die president van AgriSA, mnr Johannes Möller gehad het. Mnr Möller sê Agri SA het tans baie vrae oor die geld wat op verskillende staatsvlakke vroeër die jaar vir vloedhulp beskikbaar gestel is. In totaal is R1,6 miljard beloof.  
 
“Hoe is dit moontlik dat daar geen hulp is nie?” vra  mnr Möller.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0