Gee-rooiwater-die-bloupas
‘n Ontploffing in bloubosluisgetalle is moontlik in nat toestande wat dan weer opgevolg word deur baie warm sonskyndae. Bloubosluisegetalle skiet in elk geval in die herfs die hoogte in en as die klimaatsomstandighede saamspeel, kan dit probleme vir beesboere beteken.
So skiet bloubosluisgetalle in die herfs op om die gevaar van rooiwater ernstig te verhoog. Die eerstes word vroeg in die lente, in Oktober tot Desember, gesien. In die herfs, van Februarie tot April, is daar nou 3 tot 4 geslagte wat hoë getalle bereik. Erkenning: Siektes en parasiete van beeste, skape en bokke in Suid-Afrika deur Pamela Oberem en andere. |
Afrika-rooiwater (Babesia bigemina) Oorgedra deur altwee spesies van die bloubosluis Rhipicephalus (Boophilus) decoloratus en R microplus). Die nimf-stadium (meer algemeen) en volwasse stadium (in ‘n mindere mate) dra die Babesia bigemina-parasiete oor na beeste. Wanneer hulle die parasiete oordra, verloor die bosluise nie die besmetting nie en bly vir meer as een geslag besmet. |
Asiatiese rooiwater (Babesia bovis) Asiatiese rooiwater word net deur Rhipicephalus microplus oorgedra. Die groot verskil in die oordrag is dat die larwestadium die Babesia bovis-parasiete oordra na die beeste. Terselfdertyd verloor die larwes die besmetting. Die volwasse bosluise kan dan weer die besmetting opdoen wanneer hulle op ’n aangetaste bees voed en alleenlik dan word die besmetting deur die eiers na die volgende geslag bosluise oorgedra. |
Wat is die belang van dié kennis? Dit is duidelik dat dit baie moeiliker is om Asiatiese rooiwater te beheer omdat ’n stabiele siektevoorkoms nie normaalweg bestaan nie.
Die verspreiding van die bosluise wat Asiatiese rooiwater oordra, word op die kaart hieronder aangedui, maar daar is ’n groot kans dat Asiatiese rooiwater nou oor ’n baie groter gebied mag voorkom. Dit is ’n verdere rede waarom die oorsaak van rooiwatergevalle met ’n bloed- of breinsmeer deur ’n veearts bevestig moet word.
Vir korttermyn beheer op plase waar Asiatiese rooiwater voorkom (vatbare beeste), moet bloubosluise in die laatsomer weekliks beheer word. Die belangrikste punt om van kennis te dra, is dat die larfstadium van die bloubosluis, wat so groot is soos ’n kopspeld se kop, Asiatiese rooiwater oordra. Die larwes kan so gou as een week na die vorige behandeling weer op beeste klim en aanheg.
Dit is veral belangrik in kampe met ‘n geskiedenis van swaar bosluisbesmetting gedurende die voorafgaande lente en voorsomer.
Wanneer beeste na ’n kamp wat gerus het verskuif word, moet hulle net voor hulle ingejaag word behandel word en ook weer een week later.
Verdere navrae kan per e-pos gestuur word na die Veegesondheid- en -produksiegroep se kantoor – vetlink@mweb.co.za.