Gee-jou-gesaaides-die-beste-kans-met-Rotrix-se-vernuftige-kruipspuit
Die vaste sekerheid dat jy ’n hoë opbrengs gaan behaal – dit is wat die Rotrix Rainmaker-kruipspuit jou gee. As gekwalifiseerde meganiese ingenieur en besproeiingstegnikus was Mike Hewitt se doel toe hy die Rotrix Rainmaker in die vroeë 1980’s ontwerp het juis om die boer betroubare en probleemvry besproeiing te gee met ’n geharde kruipspuit.
Die kruipspuite wat destyds beskikbaar was, het almal probleme gehad, soos ’n buitensporige drukbehoefte, karige spoedbeheer en sukkelrige watertoediening met gevolglike grondverdigting en gewasskade.
![]() |
Met die Rotrix Rainmaker-kruipspuit gee jy jou gewasse die allerbeste kans om geil en gesond te groei – dit alles vir die minste moeite en koste. |
Die Rainmaker het al hierdie probleme uitmuntend te bowe gekom en word oor die afgelope dertig jaar nog deurgaans verbeter om akkurate, betroubare besproeiing van byna elke soort gewas vir boere in Suid-Afrika, Zambië, Zimbabwe, Namibië, Botswana en Malawi te verseker.
Die Rainmaker is ’n veelsydige besproeiier vir gewasse soos koring en ander kleingraansoorte, lusern, weiding, mielies, groente, tabak, suikerriet en selfs wingerde.
Dit is in wese ’n oorhoofse besproeiingstelsel wat, in stede daarvan om in een posisie te staan, oor die land heen beweeg en selfs tussen verskillende lande verskuif kan word. Die Rainmaker kan vir gewasse van enige hoogte gebruik word deur die sproeiers tot 4 meter hoog te lig. Dit verg min onderhoud en is baie kostedoeltreffend met ’n lae arbeidsbehoefte.
Hoe werk hy?
Die Rainmaker werk maklik en logies. Hy is ontwerp om blokke van 200 meter lank te besproei. Dit werk so: Jy maak die Rainmaker staan aan die een kant van die land, rol sy staalkabel uit en maak dit aan ’n anker aan die oorkant van die land vas. Daarna koppel jy sy nuwe, duursame Oroflex-watertoevoerpyp aan die toevoerpunt halfpad in die land in en draai die watertoevoerkraan oop.
Dadelik begin die twee verstelbare Naan 255-spuite ’n strook van 50 meter wyd besproei met ’n druppelgrootte wat jy na jou keuse kan aanpas met drie verskillende sproeierstelle en drukverstellings na jou smaak. (Jy maak jou bane 36 meter uitmekaar om behoorlike oorvleueling te verseker.)
Terselfdertyd dryf ’n 4 mm-sproeier ’n bakkieskyf aan, wat deur ’n ratkas en tandrat- en kettingstelsel die staalkabel inkatrol om die hele Rainmaker teen ’n spoed van jou keuse na die oorkant van die land te sleep terwyl hy al die pad egalig natmaak.
Wanneer hy aan die einde van die land kom, gaan staan hy vanself sodat jy darem nooit nodig sal hê om hom op jou buurman se grond te loop soek nie. Jy rol jou waterpyp in, verskuif jou Rainmaker na die volgende baan, rol jou kabel uit, koppel jou waterpyp, draai die toevoer oop en gaan voort met enige ander werk terwyl die Rainmaker syne op sy eie en met die grootste verantwoordelikheidsbesef doen.
Die Rainmaker vra net 3 bar druk en ’n maksimum watervloei van 35 kubieke meter per uur, maar druk van tot 6 bar sal hom geen skade doen nie. Jy kan sy spoed stel om sy baan van 200 meter tussen 6 en 11 uur te voltooi en om van 12 mm tot 50 mm reën per lopie toe te dien. Ratstelle is ook beskikbaar om hom sy 200 meter binne 4 uur te laat afdraf op lande waar jong plantjies besig is om te ontkiem.
Die Rainmaker maak druppels wat groot genoeg is om hulle nie deur wind van stryk te laat bring nie, maar fyn genoeg om nie die grond vas te slaan nie. Al die buste is roesvry en die raamwerk is gegalvaniseer om jare se onderhoudvrye diens te verseker.
As jy jou gewasse die beste kans wil gee, praat vandag nog met Jasper Hewitt van Rotrix by 082-773-7544 of jasper@bushwakka.co.za.
Besoek ook www.rotrixirrigator.co.za.