Gee-jou-boerdery-vlerke
![]() |
Patrick de Beer is ernstig oor sy toekoms in die wildbedryf. Hy werk tans nog as ingenieur, maar die grootste stap om eendag sy eie jag- en toerismeonderneming te begin, het hy reeds geneem: Hy het geleer om helikopter te vlieg.
Hy sê dit was ’n kleintyddroom wat veral van die grond af gekom het toe hy ’n plaasbestuurder was van ’n boer “met ’n masjien”. Daar het die gogga behoorlik gebyt en kon hy sien hoe die vaardigheid hom kan help om as professionele jagter sy eie besigheid te bedryf.
Patrick praat met groot lof van die mense by NAC se helikoptervliegskool by die Randse Lughawe se professionele diens. Aan die hoof van hierdie diens staan die 30-jarige Vicky Sankey wat by NAC begin werk het nadat sy self daar leer vlieg het. Sy vlieg al elf jaar lank en is ook ’n instrukteur en ja, die boere wat wil leer vlieg, luister na haar.
![]() |
“Partykeer neem dit ’n paar lesse voor hulle besef hulle moet doen wat ek sê – vir hulle eie beswil. As man en vrou saam kom, leer die vrou gewoonlik vinniger omdat sy eerder bereid is om te luister,” sê Vicky met ’n vonkel in die oog. Op meer ernstige trant, dit is belangrik dat daar ’n vertrouensverhouding tussen instrukteur en student moet bestaan, want die student moet die vrymoedigheid hê om te sê as hy of sy iets nie verstaan nie.
Sy sê: “Sekere mense het ’n beter aanvoeling en leer vinniger, maar dit is veral die mense by wie dit lank ’n droom was, wat regtig hard werk.”
Daar is baie gebruike vir helikopters in die landbou, soos tydbesparing, geologiese opnames, selfs bespuiting, vir brandblusdoeleindes in die bosboubedryf en natuurlik in die wildbedryf vir wildtel, -pyl en -vang. Daar is met ander woorde oorgenoeg werkgeleenthede vir jong boerseuns en -dogters!
Vicky sê die meeste boere kry net ’’n private vlieglisensie (PPL), maar van hulle kom later terug vir verdere graderings. By NAC se helikoptervliegskool kan boere opleiding deur al die vlakke en graderings ontvang tot die verkryging van ’’n handelsvlieglisensie met nagvlieg- en instrumentvlieggraderings.
![]() |
Vir wildvang is daar spesiale opleiding wat deur die hoofvlieginstrukteur, Nico Grobbelaar behartig word. Hy glo die wetlike vereistes vir die soort van vlieg moet eintlik hoer gestel word, want dit kan baie gevaarlik wees omdat daar so laag gevlieg word tussen hindernisse soos bome en berge.
“Daar is min tyd vir herstel as ’n fout gemaak word,” sê hy. By NAC se vliegskool word vlieeniers egter voorberei om enige noodsituasie te hanteer.
So, wat is die grootste probleem wat in boere se pad staan om te leer vlieg? “Jy moet minder as 109 kg weeg vir opleiding in ’n tweesitplek-helikopter en minder as 136 kg vir ’n viersitplek,” sê Vicky. “Ons het al baie boere na ’’n gesonder lewenstyl gehelp!”
Om jou boerdery vlerke te gee, skakel Charnell Smit by 011-345-2658 of stuur ’n e-pos na charnell.smit@nac.co.za. Besoek ook www.nac.co.za om uit te vind watter ander dienste National Airways Corporation bied.