GC Tillage se Lancer strooi kunsmis, kalk, kompos en spoorelemente perfek!
Sorg vir die grond, dan sal die grond vir jou gesaaides sorg en jou gesaaides sal vir jou sorg. Hierdie logiese waarheid vereis van die boer om sy grond te laat ontleed en enige moontlike wanbalanse reg te stel.
Dit is presies wat De Wet Van Reenen van Bergville met sy grond doen waarop hy soja en mielies produseer. Maar om te weet watter spoorelemente jou grond kortkom, is helaas nie genoeg nie. Spoorelemente is duur en jy kan nie bekostig om dit verkeerd toe te dien nie, glo De Wet.
Die perfekte manier om enigiets toe te dien, nie net spoorelemente nie, maar ook kalk, kunsmis, mis en kompos, het De Wet by sy swaer, oom Redge Jelliman van die plaas Vogelvlei naby Harrismith, gesien. Dit is GC Tillage se Jan Lancer-kunsmisstrooier.
Oom Redge se Lancer 7.500 met sy bak van 7,5 kubieke meter kan van so min as 100 kg spoorelemente tot 4 ton kompos per hektaar toedien – akkuraat, betroubaar, egalig en sonder sukkel.
De Wet se eerste reaksie was om oom Redge se Lancer te leen, maar hy het gou besef dat hierdie ’n handige masjien is wat hy heel jaar op sy plaas wil hê. Hy het toe sy eie Lancer Magnu 10.000 Plus gekoop. Dis basies dieselfde masjien as oom Redge s’n, behalwe dat dit groter is.
Maar kom staan ’n bietjie nader dat ons dié Lancer-masjien mooi bekyk.
Hy bestaan uit ’n stewige skuins bak met ’n kettingbandvoerder onder in sy pens wat die materiaal sagkens maar ferm agtertoe begelei teen watter spoed jy hom ook al wil stel. Agter het hy ’n deur wat jy kan verstel om presies die hoeveelheid materiaal wat jy wil hê deur te laat.
Die afgemete materiaal val op twee draaiskywe met getemperde werpers wat dit egalig 12 meter wyd oor die land uitstrooi. Die draaiskywe se spoed kan ook verstel word om jou presiese behoefte te pas.
Wil jy spoorelemente in poeiervorm toedien, of kalk wat so fyn en poeieragtig is dat draaiskywe dit bloot verstuif totdat jou kosbare kalk soos ’n wolk van verdoemenis oor die hele plaas hang?
Maklik: Jy bout bloot die draaiskyfeenheid af en monteer in die plek daarvan jou Jan Linea 6.000 Plus, wat fyner materiaal foutloos in rye toedien.
Hy werk so: Die materiaal val van die vervoerband in die Lancer se pens in ’n geut, waarin dit met stewige awegare kante toe gevoer word. Onder in die geut is verstelbare openinge waardeur die spoorelemente rustig regaf grond toe val. Dit verseker egalige toediening presies waar jy dit wil hê sonder ’n sweem van vermorsing.
Die Lancer se tandemwielstelsel sorg dat die afleweringsgeut strykdeur presies dieselfde hoogte bo die grond bly om egalige toediening te verseker; selfs in ongelyke lande en oor kontoere.
Oom Redge se Lancer het al so 1 200 hektaar se strooiwerk gedoen sonder ’n enkele probleem. Hy verg die minimum onderhoud en is so ontwerp dat kunsmis geen onderdeel kan vreet nie.
De Wet se model het nog ’n monteerpunt vir ’n oorlaai-awegaar ook, sodat hy strooptyd vir jou ’n volwaardige tapkar kan word.
Die swaers is dit eens dat ’n Jan Lancer baie goeie waarde vir geld is.
Jy kan ook wenoeste verseker met jou eie Jan Lancer-toediener. Skakel GC Tillage vandag by 017-702-3027
of besoek www.gctillage.co.za.