Categories: NewsPublished On: 4th April 2011

Gauteng polisie kry nog wiele

By 1 min read

Agri SA het die meer as 500 nuwe voertuie wat verlede week tot die polisie se vloot in Gauteng gevoeg is, verwelkom. 

Die Nasionale Kommissaris, generaal Bheki Cele het tydens die oorhandiging gesê dat ‘n bedrag van R1,1 miljard  gereserveer word om vir die hele land se polisie in die volgende begroting nuwe voertuie aan te koop. Van die nuwe voertuie sal vir sektorpolisiëring in die platteland aangewend word 67 van hulle sal net vir die landelike blitspatrollie-eenhede aangewend word.
 
Mnr André Botha, voorsitter van Agri SA se Landelike Beveiligingskomitee, sê dat “die boeregemeenskap in die provinsie hierdie inisiatief verwelkom en ondersteun”.
 
Ondertussen dring die TLU SA daarop aan dat plaasaanvalle as ‘n afsonderlike misdaadkategorie hanteer moet word. “Dit is nie gewone misdaad nie, en behoort deur spesiale kundiges ondersoek te word, veral om die ware motiewe daaragter te bepaal,” het die president van TLU SA, mnr Ben Marais gesê.
 
Die organisasie sê volgens inligting tot sy beskikking het daar sedert die moord op mnr Eugene Terre’blanche presies ‘n jaar gelede, 77 aanvalle op plase in die land plaasgevind waartydens 51 mense dood is. Vir die eerste kwartaal vir vanjaar, vanaf 1 Januarie tot en met 31 Maart, het daar 16 plaasaanvalle voorgekom waarin 8 boere vermoor is.
 
“Dit beteken dat daar gemiddeld meer as ses plaasaanvalle per maand plaasvind, en dat gemiddeld meer as vier boere maandeliks op hulle plase vermoor word, op grond van die statistiek van die laaste jaar,” sê mnr Henk van de Graaf, assistent-hoofbestuurder van TLU SA.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment