Categories: NewsPublished On: 4th February 2011

Gaan Jannie die pyp rook?

By 4 min read
809 words

Gemengde reaksie van boere het die aanstelling van mnr Jannie de Villiers van die Meulenaarskamer as GraanSA se nuwe hoofbestuurder begroet.

‘n Hele paar leierboere meen dat mnr De Villiers ‘n opdraende pad gaan hê om aanvaar te word as iemand wat die belange van boere werklik op die hart gaan dra, veral na sy betrokkenheid by die aankoopkant van die bedryf. Ander meen weer dat hy die regte man op die regte tyd is. 
 
Mnr Dirk Mouton van die Graanforum sê die aanstelling gaan nie daartoe bydra om boere se vertroue in GraanSA te versterk nie. Die Forum ondersoek tans die moontlikheid om weer graanboere se belange deur ‘n koöperatiewe stelsel te beskerm. 
 
Die leier van verlede jaar se protesaksie by GraanSA se kongres, mnr Jakob Middel, sê reguit as hy nog ‘n lid van die instansie was, sou hy ernstig beswaar gemaak het teen die aanstelling, “want dit is soos om van wolf skaapwagter te maak”.
 
Hy sê mnr De Villiers was in stryd met die boere weens sy betrokkenheid by die meulenaars en die boere het teen hom geveg. “Hoe kan daar nou vertroue in hom wees?” wil hy weet.
 
Hierop sê mnr Japie Grobler, voormalige AgriSA-voorsitter, dat dit juis ‘n bewys is dat hy sy werk goed gedoen het. Hy was goed vir die meulenaars toe hy daar was en nou sal hy goed wees vir die boere by GraanSA.
 
Mnr Grobler meen hy het die regte kontakte en agtergrond om vir die bedryf by die regering inspraak te doen oor sake soos tariefvasstelling en internasionale handel. 
 
Mnr Bully Bothma, wat in sy termyn as voorsitter van GraanSA self deurgeloop het onder beskuldigings van die boere dat hy verdeelde belange het omdat hy by ‘n meule betrokke was, het aan ProAgri gesê hy vind die aanstelling “uiters interessant”, veral in die lig van mnr De Villiers se optrede teen boere in die verlede.
 
“Dit was ‘n goeie besluit,” meen mnr Manny da Costa van die Delmas-omgewing. Hy sê mnr De Villiers weet wat aangaan en solank hy nie nog belange in die meulenaarsbedryf het nie, kan hy vir die boere baie beteken. “Hy moet immers lojaal wees aan die mense wat hom betaal!”    
 
Mnr Paul van der Walt, voormalige president van TLU SA het kommer oor die aanstelling uitgespreek. Hy sê mnr De Villiers se politieke onderrrok hang ver uit en hy glo dat die ANC-beleid van swart ekonomiese bemagtiging ondanks alle bewese mislukkings nou al hoe meer in die organisasie ingedra gaan word.
 
Volgens mnr Van der Walt sal mnr De Villiers noodwendig ‘n rol as leier in die graanbedryf speel, al is hy as amptenaar aangestel. 
 
Hy sê: “Daar sal boere wees wat nie ‘n probleem het nie, maar ek dink baie boere gaan hom nie aanvaar nie. Ek kan nie sien hoe hy daarin gaan slaag om GraanSA tot op grondvlak uit te bou nie. Dit is juis op takvlak waar die probleme lê.”
 
Mnr Neels Ferreira, GraanSA se voorsitter, hou voet by stuk dat GraanSA mnr De Villiers se kennis en ondervinding van die graanbedryf nodig het. Hy sê mnr De Villiers ken al die rolspelers in die bedryf en ook in die staatsdepartemente wat met graan te doen het.
 
Hy het ProAgri daarop gewys dat mnr De Villiers ‘n betaalde amptenaar is, wat in opdrag van die lede van die organisasie moet optree. 
 
In ‘n verklaring het mnr Ferreira ook daarop gewys dat Graan SA die afgelope tyd al hoe meer betrokke geraak het by die eksterne omgewing om “die impak van buite-plaas ontwikkelings te help rig”.
 
Hy sê in die verklaring: “Dit bly ‘n noodsaaklikheid dat die bedryfsomgewing van die graanboer meer bevorderlik gemaak moet word om winsgewende produksie op plaasvlak te komplementeer.” 
 
Hy het die belangrikheid van deelname binne die graanwaardeketting beklemtoon en gesê: “Skakeling met die regering is ook onlosmaaklik deel van dié ketting van aktiwiteite, en nuwe netwerke wat die afgelope tyd ontwikkel is, moet optimaal en in belang van die bedryf ontgin word. 
 
“Met hierdie aanstelling bekom GraanSA die dienste en kundigheid van ‘n swaargewig met 25 jaar ervaring en bewese leierskap wat die organisasie moet help posisioneer vir hierdie veranderde rol.”
 
Mnr De Villiers is aangestel as hoof-uitvoerende beampte in die plek van dr Kobus Laubscher, wat vanjaar die verpligte aftree-ouderdom van 60 bereik. Hy sal reeds in Maart die pos opneem sodat hy betrokke kan wees by die organisasie se jaarkongres.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0