Ford-roep-Bantam-vaarwel
![]() |
Die bekende en geliefde halftonner, die Ford Bantam, gaan nie meer vervaardig word nie. Na 28 jaar se produksie het die laaste Bantam vroeër die week van die monteerlyn gerol in Ford se Silverton-aanleg in Pretoria.
Die Bantam, wat in 1983 bekendgestel is, was ‘n eiesoortige Suid-Afrikaanse ontwikkeling wat die taaiheid van ‘n bakkie met die gemak en verrigting van ‘n passasiersmotor gekombineer het.
"Die Bantam het positief tot die Suid-Afrikaanse ekonomie bygedra en het werk aan baie mense verseker” het mnr Jeff Nemeth, president en uitvoerende hoof van die Ford Motormaatskappy van Suider-Afrika gesê.
Die Silverton-monteeraanleg was voorheen instaat om verskeie voertuie te vervaardig maar word nou omgeskakel in een van drie fabrieke ter wêreld wat die nuwe Ford Ranger gaan vervaardig. Die aanleg sal 110 000 eenhede per jaar aan mekaar kan sit en die voertuie sal na 148 lande uitgevoer word.
“Met die koms van die nuwe Ranger het Ford ‘n beduidende belegging in Suid-Afrika gemaak wat nog meer geleenthede aan die omliggende gemeenskappe gaan bied" het mnr Nemeth gesê.
Hy het gesê dat Bantam-eienaars verseker kan wees dat hulle dieselfde naverkopediens as voorheen sal geniet.