Finale mielie-oes effens afwaarts aangepas
Die Oesskattingskomitee het in sy finale verslag vir die 2010/2011 seisoen die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes op 10,608 miljoen ton gestel, wat 0,66% of 71 000 ton laer is as die vorige skatting. Die totale skatting van die oppervlakte onder mielies beloop 2,372 miljoen ha, terwyl die verwagte opbrengs 4,47 t/ha beloop.
Die oppervlak onder witmielies was 1,418 miljoen ha en vir geelmielies was dit 954 000 ha.
Die produksieskatting van witmielies is 6,182 miljoen ton, wat 18 000 ton minder is as die vorige skatting. Die opbrengs van witmielies is 4,36 t/ha. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 4,426 miljoen ton, wat 53 000 ton minder is as die vorige skatting. Die verwagte opbrengs van geelmielies is 4,64 t/ha.
Sonneblomsaad: Die produksieskatting vir sonneblomsaad is onveranderd gelaat op 861 770 ton. Die oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 642 700 ha, en die verwagte opbrengs is 1,34 t/ha.
Ander gewasse: Die produksieskatting van sojabone is onveranderd gelaat op 708 750 ton. Die geskatte oppervlakte beplant met sojabone is 418 000 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,70 t/ha.
Die verwagte grondbone-oes het afgeneem met 1 125 ton na 68 295 ton. Vir grondbone is die oppervlakteskatting 55 150 ha, en die verwagte opbrengs 1,24 t/ha.
Die produksieskatting van sorghum is 155 430 ton, wat 4 270 ton minder is as die 159 700 ton van die vorige skatting. Die oppervlakteskatting vir sorghum is 69 200 ha en die verwagte opbrengs is 2,25 t/ha.
In die geval van droëbone is die produksieskatting ook verlaag met 2 020 ton na 41 980 ton. Vir droëbone is die geskatte oppervlakte beplant 41 900 ha, en die verwagte opbrengs is 1,00 t/ha.
Die voorneme van produsente om somergraangewasse te plant vir 2012, sal op 25 Oktober 2011 vrygestel word.
Die oppervlakte beplant met mielies in die nie-kommersiële landbou-sektor word geskat op 486 760 ha, wat ‘n afname van 6,6 % verteenwoordig in vergelyking met die 520 940 ha van die vorige seisoen. Die verwagte mielie-oes van dié sektor is 564 335 ton.
Wintergewasse – 2011 produksie-seisoen
Koring: Die verwagte produksie vir koring is 1,903 miljoen ton, 2,19% meer as die vorige skatting van 1,862 miljoen ton, terwyl die verwagte opbrengs 3,15 t/ha is. Die verwagte produksie in die Wes-Kaap is 662 500 ton (35%), in die Vrystaat 585 000 ton (31%) en in die Noord-Kaap 273 000 ton (14%).
Die oppervlakteskatting vir koring is hersien na 604 700 ha, wat 2 000 ha minder is as die 606 700 ha teenoor die vorige skatting. Die beraamde oppervlakte geplant in die Wes-Kaap is 265 000 ha of 44%, die Vrystaat is 225 000 ha of 37% en 42 000 ha of 7% is in die Noord-Kaap.
Ander gewasse: Die produksieskatting vir moutgars is 237 560 ton. Die oppervlakte beplant is effens afwaarts aangepas na 80 150 ha, terwyl die verwagte opbrengs 2,96 t/ha beloop.
Die verwagte kanola-oes is onveranderd gelaat op 57 340 ton. Die oppervlakteskatting vir kanola is 43 510 ha, met ʼn verwagte opbrengs van 1,32 t/ha.