Categories: NewsPublished On: 21st June 2011

FAW-belê-in-betroubaarheid-en-boere

By 4 min read
Eugene van der Berg se FAW wil met die nuwe 16.240 FL-trok boere help om hulle vars produkte vinnig en veilig by die mark te kry.
Boere weet wat hulle wil he en wat hulle nodig het, veral as dit kom by die vervoer van hulle beleggings – en beeste is ’n belegging. ’n Maatskappy wat in hierdie mark betrokke wil raak, moet dus maar kennis neem van wat die boere te sê het.
 
Een maatskappy wat hierdie les ter harte neem, is FAW Suid-Afrika. Eugene van der Berg van FAW vertel dat hulle met die ontwikkeling van die 8-tonner (Model 16.240FL) ag geslaan het op die behoeftes van boere wat gesteld is op ruimte, ’n lang wielbasis en maksimum gebruik van die vooras.
 
Dan is daar nog baie spesifieke vereistes om die op- en aflaai van die kosbare lewende vrag te vergemaklik en natuurlik soek elke boer perdekrag.
 
Die twee dames is wel nie van Sjinese oorsprong nie, maar Yolanda Keynel en Izette van Jaarsveld het seker gemaak dat al die boere by Nampo na FAW se beestrok kom kyk.
Die 179 kW-enjin (240 pk) met sy 8-spoed ratkas verseker dat nuwe Fluks Aan’t Werk-lorrie met gemak 12 tot 15 beeste bult op en bult af kan vervoer.
 
Met ’n laaibak wat 7,9 meter lank is en ‘n wielbasis van 6,6 meter, beteken dit dat die beeste nog in groot gerief ook kan reis.
 
Eugene sê: “Dit is nie net die beeste wat gerieflik moet wees nie. Ons wil he die bestuurder moet ook gemaklik reis en daarom is elke kajuit met lugversorging toegerus. ’n Gemaklike bestuurder dra by tot ’n veilige rit.”
 
Die 8-tonner is nie net vir die vervoer van beeste geskik nie. FAW maak ook vragmotors wat perfek is om in ander sektore van die landbou ’n buiging te maak, soos met die vervoer van vars produkte.
 
Eugene sê hy is dankbaar om agter te kom dat boere al hoe meer vertroue in die Sjinese produk begin toon, wat homself darem nou al 18 jaar in die land bewys het.
 
Hy self was baie beindruk toe hy die hoofaanleg in Sjina besoek het en die vlak van tegnologie wat hulle inspan, gesien het. Hy sê dit voel amper of jy in ’n hospitaal staan, so klinies en skoon is dit! ‘n Hele paar van die bekende Duitse motorvervaardigers maak ook van die fabriek gebruik in hulle vervaardigingsproses.
 
Eugene sê: “Om ’n swak produk te probeer verkoop, werk nie. Die mark neem besluite op grond van spesifikasies en ’n goeie rekord.” Volgens Eugene het hy al van ’n paar snaakse goed gehoor wat roekelose of slapende bestuurders met FAW-trokke aangevang het, maar hy weet nie van een onderstel wat in die proses gebuig is nie.
 
Internasionaal vervaardig FAW 2,6-miljoen voertuie per jaar. In Suid- Afrika is daar ’n monteeraanleg by Spartan, maar die maatskappy gaan eersdaags nog ’n aanleg in die Oos-Kaap open. FAW Suid-Afrika sal dan in staat wees om 5 000 voertuie per jaar in die mark te stoot, sodat dit ook aan die groeiende verwagtinge van uitvoere na die res van Afrika sal voldoen.
 
Eugene sê Angola het byvoorbeeld onlangs 1 400 voertuie op een slag bestel – en hulle stuurwiele moes almal na die linkerkant omgebou word. Al die onderdele van die vragmotors kom van Sjina af, maar in Suid-Afrika het die SABS ook bepaalde bykomende vereistes vir die plaaslike omstandighede gestel, soos die aanbring van sluitweerremme.
 
FAW is trots op sy uitgebreide handelaarsnetwerk en dienssentrums wat landwyd langs al die hoofroetes geplaas is. Eugene sê daai storie dat buitelandse maatskappye nie plaaslike ondersteuning bied of onderdele aanhou nie, is sommer ’n ouvroustorie. Onafhanklike toetsing het aangedui dat die maatskappy met ’n 98% beskikbaarheid van onderdele spog.
 
Daarby is daar ’n 24-uur nooddiensnommer, sodat onderdele onmiddellik beskikbaar gestel kan word.
 
FAW se mense besef dat betroubaarheid vir die boer baie belangrik is, veral wanneer diere vervoer word. Geen boer wil met ’n vrag beeste langs die pad bly staan nie, veral nie oornag nie. En vir FAW hang hulle goeie naam van die betroubaarheid van hulle trokke af, sê Eugene.
 
Vir enige verkoopsnavrae, skakel 011-392-1530 en vir diens of onderdele skakel 011-394-1111.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0