Categories: NewsPublished On: 14th June 2011

Europese-boere-kry-komkommer-kompensasie

By 2 min read
Europese groenteboere wat reuse verliese gely het sedert die skuld van die E coli-uitbraak op besmette komkommers geplaas is, gaan geldelik vergoed word.
 
Die EU-Kommissie het ‘n bedrag van 210 miljoen euro vir dié doel beskikbaar gestel.
 
Spanje het reeds gedreig om Duitsland hof toe te sleep as daar nie ten volle vir die verliese van sy boere vergoed word nie, wat meer as 200 miljoen euro per week beloop.
 
Italië is in die tweede plek met produsente wat ‘n beraamde 100 miljoen euro per week verloor, gevolg deur Nederland waar boere 50 miljoen euro per week verloor.
 
Die EU se Landbou-kommissaris, Dacische Ciolos het gesê dat ‘n 100%-vergoeding buite die kwessie is. Hy het gesê dat die bedrag van 210 miljoen euro ongeveer 50% van die boere se skade verteenwoordig.
 
"Ons doen so veel as wat ons kan met die finansiële-hulpbronne wat tans beskikbaar is" het meneer Ciolos gesê. "Ons weet nie hoe dinge gaan ontwikkel nie. Aan die einde van Junie sal ons sien waar ons staan."
 
Die hulp sal gaan aan produsente van komkommers, blaarslaai, tamaties, murgpampoentjies en rissies.
 
Tans is die Duitse gesondheidsowerhede redelik seker dat  boontjie-spruite die bron van die besmetting is. Hulle sê dat die waarskynlike oorsaak van die dodelike E coli-epidemie  ‘n klein groenteplasie in Neder-Sakse is wat spruite verbou. Die onderneming sal waarskynlik nie vervolg word nie.
 
"Volgens alle aanduidings tot dusver het die maatskappy niks verkeerd gedoen nie," het Gert Lindemann, minister van Landbou, aan die Rhein Neckar Zeitung gesê.
 
Hy het gesê dat die organiese plaas in die dorpie Bienenbüttel hoë higiëne-standaarde handhaaf en dat dit nog onduidelik is waar die aggressiewe EHEC-bakterieë oorspronklik vandaan gekom het.
 
Ondertussen het die president van die Neder-Sakse Boerevereniging, Werner Hilse, die owerhede gekritiseer vir die bekendmaking van die plaas. "Hulle kon net gesê het dat EHEC van ‘n plaas in Neder-Sakse afkomstig is, en dan teen die eet van spruite gewaarsku het," het hy aan die neuen Presse-koerant gesê.
 
"Die naam is heeltemal irrelevant vir die publiek," het hy gesê. Hy glo dat die bekendmaking van die plaas beteken dat dit waarskynlik nou sal moet sluit.
 
Duitsland is ook erg gekritiseer vir sy aanvanklike trae identifisering van die patroon van die siekte. Daarby het hulle twee keer die siekte se oorsaak openbaar gemaak sonder bewyse. 
 
Die epidemie het tot dusver 32 mense in Duitsland en een in Swede gedood en meer as  3 000 mense siek gemaak.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0