Eskom-skuld-meer-as-verskoning
TLU SA sê daar kan nie sprake wees van ‘n misverstand van Eskom se kant ten opsigte van die bewering dat boere die grootste kragdiewe is nie. Dit volg op die kragreus se terugtrekking van vorige verklarings waarin die bewering gemaak is. Mnr Henk van de Graaf, woordvoerder van TLU SA sê almal weet dat die skade aangerig met sodanige aantygings nooit weer volledig herstel kan word nie.
Hy sê: “Dit gaan meer van Eskom verg as om net sy "spyt" uit te spreek. ‘n Verstandhouding en samewerking wat oor baie dekades strek, is ernstig in gedrang en as Eskom voortgaan om teen die agtergrond van "ekonomiese dryfkragte" tariewe opwaarts aan te pas, sal alternatiewe gesoek moet word vir serwitute wat destyds in ‘n gesindheid van wedersydse voordeel, toegestaan is.”
TLU SA sê ondanks hulle standpunt dat Eskom die verantwoordelikheid het om aanspreeklikheid te aanvaar vir kraglyne en meterkaste, het Eskom volgehou dat boere die sondaars is en op grond van ‘n Eskomformule is rekeninge vir so lank as vyf jaar "teruggewerk" en aangepas. Die eensydige optrede het ‘n dramatiese verval in verhoudinge tussen die organisasie en boere tot gevolg en uit etlike oorde het boereverenigings reeds beswaar gemaak en dring hulle daarop aan dat Eskom alle kraglyne op hulle eiendom verwyder aangesien hulle nie meer van Eskomkrag gebruik wil maak nie.
Die landbou-organisasie sê die saak sal beslis met Eskom opgeneem word op die geskeduleerde vergadering eerskomende Donderdag.